2006-07-21

Jongste Kerknuus

Godsdiens-Kommentaar
Diversiteit kry sin met dié etes; Elsje Büchner in Godsdiens-Kommentaar; Burger, 12/07/2006
ONS sê so maklik: "Suid-Afrika is ’n land van groot verskeidenheid en diversiteit." Hóé divers, het ek nie besef nie. Ek het die afgelope maand by twee uiteenlopende plekke kon eet wat my uitkyk op die lewe onherroeplik verander het. Dit is ’n koue aand in Junie. Die moderamen van die NG Kerk vergader in Kempton Park. Die agenda is gelaai met die kerkeenheidsgesprek, en die atmosfeer is vraend oor al die leertugsake wat kosbare koninkrykstyd steel. Die Hoëveld is wintervaal. Daardie aand is ons die gaste van die MES-aksie. Ons los al hierdie brandende vrae van die agendas agter en durf die verkeer in minibussies aan. In die Zaziswe Hoop vir Lewe-sorgsentrum vir MIV/vigs-pa­siënte gee ’n versorger ’n sterwende kind ’n Oros-koeldrank. Hulle kan net probeer om haar laaste paar dae menswaardig te maak. Sy lê uitgeteer in ’n vrolike pienk bed. Ons kry boemelaarskos in die kerksaal van die ou NG gemeente Johannesburg-Oos: ’n halwe witbrood en ’n plastiekglasie bokswyn, laasgenoemde ’n treat vir die kerklike gaste.
Dit voel vir my soos nagmaal, en ek wonder waar sou Jesus in Suid-Afrika "gekerk" het. Nie in ons multimiljoenrand-kerkgeboue nie, is ek seker Hy sou in die strate van Hillbrow bedien het. Brood, wyn en die Ewige Lewe gegee het.
Ons eet op die sypaadjie, die sement koud onder ons terwyl ons luister na alles wat hier gedoen word. Johan, Pieter, Elize en die res van die span kyk met liefdevolle oë na hierdie grou deel van die stad waar die goud lankal op is. Hul visie is om die hart van die stad te verander! God is in Hillbrow teenwoordig. Húlle is sy hande en voete. Hulle het dit reggekry om kerk in die Hillbrow-mall te wees. Laataand kry ons onder bewaking en begeleiding van die SAPD ’n kykie in die ware lewe van Hillbrow. Die geboue is smerig, stinkvuil en vervalle. Van die kas in ’n ou woonstelgang tot die bad is ’n lêplek, blyplek en skuilplek. ’n Seuntjie dwaal koud en stowwerig in die strate rond terwyl sy ma besigheid doen. Nie besigheid soos inkopies in Menlyn nie. ’n Groep kinders maak kooi op die sypaadjie. Daar is nie ’n ma wat vir hulle stories lees en die kombers warm agter hul koue ruggies invou nie. En ons kinders kla as die brand nie heeltemal "in" is nie . . .
Ek voel soos ’n indringer as ons oral inloer. Die mense kyk jou met hooplose, honger oë aan. My hande voel leeg. Watter hoop bring al ons kerklike vergaderings en stryery oor die fynbewoorde formulerings van dogmatiese vraagstukke vir hierdie mense wat net die Grootste Gebod wil beleef? Tuis kleef die reuk van Hillbrow steeds aan my klere en ek wonder oor die mense wat daar moet oorleef. Ek sit in my bed en huil oor hierdie brose mense wie se stories anders as myne en joune verloop het.
’n Week daarna kuier ek in die Kaap. Dit is wintergroen. Op aanbeveling van vriende gaan eet ek middagete by Vergelegen, Simon van der Stel se ou landgoed aan die rand van Somerset-Wes. ’n Prentjiemooi wêreld vou voor my oop. Daar is lowergroen tuine, reuse-kamferbome, ’n ou biblioteek met leergebinde boeke en ’n opstal waarin jy die ouwêreldse sjarme kan aanvoel. Ek sit in die Lady Phillips -restaurant terwyl ek Vergelegen se beste wyn proe en die sjef se geregte geniet. Die Here voed my siel deur hierdie omgewing. Ek beleef sy teenwoordigheid hier. Eensklaps sien ek die Hillbrow-prentjie voor my oë. Twee wêrelde, twee spyskaarte, twee uitsigte. Ek dink nie die mense van Hillbrow weet van ’n plek soos Vergelegen nie. Ek dink nie hulle besef daar kan so ’n mooi plek wees nie. Hul leefwêreld het nie sulke prentjies nie. Die mense van Vergelegen weet dalk van Hillbrow, maar beslis nie almal weet hoe Hillbrow regtig lyk nie. Die trane loop weer. Ek voel versigtig bevoorreg om hierdie kontraste te kon beleef. Die wete dat die kerk haar roeping in albei hierdie wêrelde sal moet uitleef, lê swaar op my hart.
Ons land bestaan uit die grouheid van Hillbrow én die skoonheid van Vergelegen. Mag ons ons roeping orals uitleef! Mag die inhoud van ons geloof vir Hillbrow ’n stukkie Vergelegen-hemel bring.


NG KERK - NUUS
K 28715: Bomme het NG Kerk kans gegee vir dien: Talle van SA ‘opnuut bewus van hul verganklikheid; Die Burger, 07.07.2006
Londen: Berading, hulplyn - Dit het ons weer laat besef waaroor die lewe gaan.
Dít is wat dr. Dawie van Vuuren, leraar van die SA Gemeente Londen, ’n NG gemeente, onthou van die bomaanvalle wat op 7?Julie verlede jaar in die Britse hoofstad ontplof het.
Drie bomme het afgegaan in moltreinstasies en een op ’n bus in die grootste aanval op Londen die afgelope jare. Daar is 56 mense in die aanvalle dood en omtrent 700 beseer. Die NG gemeente het kort ná die aanvalle aan die werk gespring om Suid-Afrikaners te help kontak maak met hul familie en om berading en geestelike hulp te verleen. Die kerk het ’n hulplyn ingestel waarheen mense uit Suid-Afrika kon bel om hul geliefdes wat in Londen was ten tyde van die bomme, op te spoor. Van Vuuren onthou hoe vrywilligers die hulplyn 24 uur per dag beman het. "Ons was moeg, vodde gewees. Maar dit was ’n geleentheid om te dien en weer te besef dat kerke nie ter wille van hulself bestaan nie," het hy gister aan Die Burger gesê.
Hy onthou hoe van die gemeentelede traumabehandeling moes ontvang en emosioneel gewroeg het. "Daar was een meisie wat net-net die bus wat op Tavistock Square opgeblaas is, gemis het. Toe sy besef sy kon dalk op daardie bus gewees het, het sy ’n groot krisis beleef." Me. Sonika Mentz, ’n Pretorianer wat in Londen as ’n regskonsultant werk, kan haar hiermee identifiseer. "Natuurlik maak so iets ’n mens skielik geweldig bewus van jou verganklikheid en hoe gelukkig jy is die dice het nie op daai spesifieke dag teen jou gerol nie." Van Vuuren meen Suid-Afrikaners kon die bomaanvalle beter hanteer omdat hulle meer te doen gehad het met geweld en trauma as die deursnee-Brit. "Ons is dalk bietjie meer voorbereid wanneer so iets gebeur. "Die hospitale hier het daarom spesifiek na Suid-Afrikaanse dokters gesoek."
Me. Cornelia McEnery (27) van Welgemoed, Kaapstad werk die afgelope 18 maande in Londen as argitek. "Die gebeure bly maar gedurig in my agterkop, maar net soos ’n mens in Suid-Afrika ook vrese het vir byvoorbeeld ’n hijacking of so iets, moet ’n mens maar die roltrappe aandurf na die ondergrondse wêreld." Van Vuuren het vertel van hoe die mans in die gemeente aan die werkers op die openbare vervoerstelsel sjokolades uitgedeel het, vir veral dié wat Moslem is. Die kerk se werk met die bomaanvalle het ook nuwe lede by die gemeente laat aansluit. "Mense wat nooit kerk toe gegaan het nie, het na ons gekom en gesê hulle wil by ’n kerk wees wat relevant is en wat ’n verskil maak wanneer dit nodig word." mandy rossouw


KERK - NUUS IN BREë VERBAND
K 28728: Sioniste by kerk geskiet; Beeld, 10.07.2006
Vyf mense is beseer toe hulle gisteroggend tydens ’n deurnag-biddiens van die Sionistekerk in Alexandra, Johannesburg, aangeval is. Kapt. Cheryl Engelbrecht, polisiewoordvoerder, het gister gesê die motief vir die aanval is onbekend, maar dit lyk asof ’n onbekende man omstreeks 02:00 by die kerk in 14de Laan ingehardloop en verskeie skote afgevuur het. Vyf mans, waarvan vier kerklidmate is, is gewond. "Twee mans is in die been gewond, terwyl twee ander wonde in hul arms het. ’n Vyfde persoon is in die skouer geskiet en vir mediese behandeling geneem," het Engelbrecht gesê. – Amanda Roestoff


K 28727: Veldtog om ‘heks wat dryf’ se naam te herstel; Beeld, 07.07.2006
Virginia Beach (Virginië). – Grace Sherwood was ’n geneser, vroedvrou en weduwee met drie seuns. Maar haar bure het gedink sy is ’n heks wat oeste vernietig, vee doodgemaak en storms laat woed het. Op 10 Julie 1706 is dié vrou, toe 46 jaar oud, vasgebind en in ’n rivier "ingedompel" op die plek wat vandag Virginia Beach is. Die teorie agter dié watertoets was dat sy onskuldig bewys sou word as sy sou sink, maar dat sy sou verdrink. Sy het gedryf, ’n ‘‘bewys" dat sy skuldig was omdat die suiwer water, volgens die geloof van die tyd, haar bose gees uitgedryf het. Vandag, 300 jaar later, het ’n inwoner van dié stad die goewerneur gevra om Sherwood, Virginië se enigste veroordeelde heks, wat deur water verhoor is, vry te spreek. Me. Belinda Nash (59) samel geld in om ’n bronsstandbeeld van Sherwood op te rig – sy soek nog net die gepaste ligging daarvoor. "Ek sal graag wil hê haar naam moet in ere herstel word, want ek dink nie sy was ’n heks nie," sê Nash, wat ’n affiniteit vir Sherwood het omdat Nash ’n soortgelyke reputasie het – haar drome word waar. Dit het haar egter ook die bynaam "Samantha die heks" besorg. – Sapa-AP


Move to ordain women as bishops clears another hurdle; Star, 12.07.2006
London - The Church of England has moved closer towards authorising women to serve as bishops, saying there are no theological objections and that traditionalists must accept that women have been validly ordained. Close votes on a series of amendments signalled that the battle was not over. "I think we can take great heart from the results of the vote," Christina Rees, who chairs Women and the Church, said yesterday. The church's governing synod voted on Monday to request legislation to compel all members of the Church of England to recognise and accept the ministry of women. That could mark an end of the "flying bishops", traditionalists who are invited to supervise parishes which reject the ordination of women. The amendment didn't command the two-thirds majority that would eventually be required to make that the law of the church. It passed on votes of 27-11 by the bishops, 118-67 among clergy and just 103-93 among the laity. The synod also adopted an amendment affirming that both those who dissent and assent to the ordination of women are "loyal Anglicans". The motion carried 31-9 among bishops, 134-42 among clergy and 123-68 among laity. The Church of England's struggle to hold together since ordaining its first female priests in 1994 mirrors the travail in the worldwide Anglican Communion over homosexuality. - Sapa-AP

MOSLEMS
Bom-vlek kleef aan Moslems; Beeld, 11.07.2006
Stille slagoffers - Dít is hoe die Britse Moslemgemeenskap homself beskryf sedert Londen lamgelê is in die bomaanvalle van 7 Julie verlede jaar waarin 56 mense gesterf het, onder wie die 4 Moslem-selfmoordbom-aanvallers. Hoewel daar ook Moslems in die aanvalle dood en beseer is, word dié gemeenskap geviktimiseer omdat die aanvallers Britse Moslems was. Die vyandigheid het nie begin met die 7/7-aanvalle nie, maar dit is beslis vererger as gevolg daarvan, meen kundiges. ... Volgens hom is Moslems deel van die groep "stille slagoffers" wat onder die bomaanvalle van 7 Julie gely het, maar vir wie daar nie die nodige ondersteuning beskikbaar is nie. "Die aanvalle op Moslems wat by ons gerapporteer word, het sedert die bomaanvalle gestyg van 7 per week tot net minder as 100 per week. Ook die Londense polisie het aangedui dat klagtes wat by hulle ingedien word, nou 13 keer meer is as voor die bomme," sê Shadjareh.... Die dilemma wat die regering in die gesig staar, is volgens Doyle die uiteenlopende verwagtinge wat geskep word wat betref veiligheid en menseregte. "Aan die een kant moet die polisie reageer op die Britse publiek, wat aandring op sterk optrede teen moontlike bedreigings en dat verseker word dat alle gemeenskappe in veiligheid kan leef. Aan die ander kant is die Moslemgemeenskap bekommerd omdat hulle as teikens in sulke optrede beskou word en dat hul basiese regte nie gerespekteer word nie." ... Die huidige toedrag van sake is duidelik ’n situasie wat nie met ’n paar goedgekose woorde deur politici of komitees met goeie bedoelings opgelos kan word nie. "Eerlikheid is nodig," benadruk Shadjareh. "Ons moet mense dwing om die kwessie in die oë te kyk, anders gaan dit vir altyd met ons wees."


INDIë
Mumbai stands tall as symbol of a united India, says prime minister; Star, 13.07.2006
New Delhi - A defiant Prime Minister Manmohan Singh says that India stands united and will never be beaten by terrorists. He was speaking a day after blasts on commuter trains in Mumbai left at least 185 people dead. Singh said the return to work in the financial capital yesterday after blasts ripped through crowded trains during evening rush hour on Tuesday showed the determination of the country to fight terrorism. "They have not yet understood that we will never let them win," he said in a televised address. "This is not the first time that the enemies of our nation have tried to undermine our peace and prosperity. These elements have not yet understood that we Indians can stand united. That we will stand united. Our strength lies in our unity. Let us stand together as one people, as one nation." Indian police said the bombs bore the hallmark of Islamic militants as investigators picked through the debris for clues to the attack. Singh hailed the sense of calm yesterday in the city of almost 18-million, which has come to embody India's growing role in the world and where Muslims and Hindus live side by side. ...Singh also offered condolences to the victims of grenade attacks that killed nine visitors in Indian Kashmir's main city of Srinagar on Tuesday. The state, divided between India and Pakistan, has been the scene of an Islamic militant separatist insurgency.- Sapa-AFP

DEBAT
K 28718: Hoe kán Christelike uitgewers dié gemors vertaal en verkwansel? Johannes de Villiers; Burger, 10.07.2006
Enige leser van Christelike lektuur wat soos ek die afgelope ruk die wyd gepubliseerde Die Huwelik in die Spervuur deur Glen T. Stanton en Bill Maier onder oë gehad het en daarna opnuut bedroef was oor al die oppervlakkige, hatige, ingevoerde gemors wat die rakke van Christelike boekwinkels vol staan, kan asem skep. Christelike leesstof hoef nie beperk te wees tot die vertaalde stroop en haatspraak van Amerikaanse armblankes nie – ’n mens moet net bereid wees om al hoe harder te soek om by die goeie goed uit te kom.
Dis al ’n hele rukkie dat mens half verleë voel om in een van die plaaslike Christelike boekwinkels gesien te word (veral by die Afrikaanse rak), gegewe die gemors op die rakke en in die vensters. En dis jammer, want baie goeie goed is daar te kry. Lux Verbi het byvoorbeeld die laaste maande werke deur Ernst Conradie, Anton van Niekerk en Julian Muller gepubliseer wat vir almal van leke tot akademiese teoloë insiggewend kan wees. (Daarvoor kan jy Lux Verbi selfs vergewe vir die gerug wat tans die ronde doen dat hy ’n opvolg gaan publiseer van Marzanne le Roux-Van der Boon se Islamofobiese prul Granate bloei in Jerusalem.)
Lux Verbi, het ek gehoor, benut blykbaar teoloë wat hul boeke deurkyk voordat dit vir publikasie goedgekeur word. So word verseker dat die inhoud ten minste samehangend is, en dié "publikasieraad" is gelukkig nie so eng dat daar nie ’n gesonde verskeidenheid menings by hierdie uitgewer verskyn nie. Was daar maar soortgelyke waghonde om hok te slaan oor die strooi, meestal vertaalde strooi van half-geletterde Amerikaanse verregses, wat deesdae verskyn by al wat ’n ander Christelike uitgewer is, boekwinkels se rakke vol staan en waarvan die teologie onsamehangend en die letterkundige waarde nul is. Benewens teologiese verantwoordbaarheid moet dit tog seker vir Christelike uitgewers met selfrespek en respek vir hul lesers ’n kriterium wees dat hulle nie boeke sal uitgee waarvan die gehalte so laag is dat enige sekulêre uitgewer dit sou afkeur nie. Maar godsdienstige lesers moet blykbaar met minderwaardige leesstof bestook word net omdat hulle vroom is. Maak die feit dat God se naam in ’n boek staan, dat dit nie aan standaarde hoef te voldoen nie? Hoeveel Bybelverse is nodig voor ’n uitgewer iets sal publiseer waaraan niemand andersins sal raak nie? Dink mense hulle bewys die Christendom ’n guns deur sulke nonsens te verkwansel? En wie is daai Christene wat dit koop?
Op die rakke van my naaste Christelike boekwinkel staan tans ’n topverkoper (uiteraard uit Amerikaans vertaal), Die Huwelik in die Spervuur, ’n sameflansing van kwasi-sielkundige "studies", hoogs gevaarlike raad en samesweringsteorieë oor hoe gay mense die instelling van die huwelik wil vernietig. Geen bydrae tot die betrokke debat nie, net waninligting en haatspraak. Daar is ’n boek genaamd Die Hemel is ’n Werklikheid deur Choo Thomas, waarin sy vertel hoe God haar 17 keer hemel toe geneem en vir haar onder meer gewys het waar die strandhuise in die hemel is. God het ook vir haar gesê sy moet ’n boek oor haar ervarings publiseer en haar foto op die omslag laat plaas, en hy het haar vertel dat George Bush sy uitverkorene is om Satan op aarde te beveg. Die boek is al voor sy vertaling uit Engels wyd uitgelag, maar nogtans het iemand voortgegaan om dit in Afrikaans om te sit. ’n Uitgewer het dit selfs nodig geag om ene Cindy Jacobs van Colorado se boek Bewaar Ons van die Bose in Afrikaans te vertaal, waarin sy mense onder meer waarsku as hulle oor seks droom, is dit omdat ’n satanaanbidder hulle op ’n astrale reis besoek en in hul slaap met hulle gemeenskap gehad het.
Dit gaan nie hier oor vryheid van mening nie – dit gaan daaroor dat Christelike uitgewers nie skroom nie om die mees embarrasserende elemente van Amerikaanse Bible Belt-fundamentalisme in te voer en baie skadelike kwasi-sielkundige raad en swak geskrewe stroop te verkoop. Sies, man!
In dieselfde boekwinkel lê op die uitverkopingrak verskeie goedkoop eksemplare van Die Apokriewe van die Ou en Nuwe Testament, onlangs in Afrikaans vertaal deur Jan van der Watt en Francois Tolmie, ’n hoogs interessante en aandoenlike boek, wat pragtig is om te lees en ’n hele wêreld van kerkgeskiedenis vir mense kan oopmaak. Elkeen van die apokriewe boeke, met voetnote en inleidings oor die geskiedenis van die tyd waarbinne dit ontstaan het. Maar mense loop verby dié stapel om Om Seuns Groot te Maak te koop, ’n boek deur die verregse Amerikaanse skrywer James Dobson vol raad wat enige goeie sielkundige jou sal aanraai tot elke prys te vermy. In een van P.J. O’ Rourke se boeke oor ’n reis deur die VSA vertel hy dat hy eenkeer by ’n gospel-CD-winkel ingeloer het. Daar was Christelike rock­musiek, Christelike rap-musiek, Christelike heavy metal; elke CD nog swakker as die vorige. Al wat hy nie kon kry nie, was ’n CD met die naam "Ek het God ontmoet en my talent verloor", vertel hy, maar as daar so ’n CD bestaan het, is hy seker dit sou gepas gewees het. Mens voel dieselfde as jy kyk na die werk wat plaaslike Christelike uitgewers neerbuigend vir hul lesers laat vertaal en aan hulle verkwansel. Ja, die mark bestaan, dus sal daar altyd verskaffers wees wat in die behoefte voorsien. Maar mens sou tog van Christelike uitgewers beginsels verwag. .? [Johannes de Villiers is ’n vryskut-medewerker van Die Burger.]

JEUG
Wes-Kaapse Jeugkommissie
Vandeesweek het die Wes-Kaapse Jeugkommissie met verteenwoordigers van "wit, Afrikaanse" organisasies vergader in die eerste van ‘n reeks gesprekke oor hoe hulle ‘n groter betrokkenheid van jong Afrikaners by openbare debatte kan aanmoedig.
**CARIEN DU PLESSIS en JOHANNES DE VILLIERS was daar en hoewel dié twee ideologies dikwels met mekaar verskil, stem hulle oor minstens een ding saam: Die Jeugkommissie se plan gaan nie werk nie.
"Moenie die jeug veralgemeen nie;" Burger, 01.07.2006
**Lees die reaksie van Rudi Buys van die Jeugkommissie op hierdie artikel.
"Vermy ‘labels’ deur daaroor te praat;" Burger, 08.07.2006
Die 2 berigte is egter besonder lank en om dit te verkort sodat dit ingesluit kan word, is nie moontlik of selfs sinvol nie. Stuur net ‘n e-pos deur aan ngkinlig@mweb.co.za dan sal ek dit graag vir u deurstuur.
K 28703: Jongste dwelmslawe in Kaap net 7 – Sanra; Die Burger, 06.07.2006
KAAPSTAD. – Kinders van tot so jonk as sewe of agt jaar oud word in die Wes-Kaap behandel vir dwelmverslawing. Luidens ’n mediaverklaring deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Alkohol- en Dwelmmisbruik (Sanra), het die Wes-Kaap die derde hoogste getal binne- en buitepasiënte wat in die organisasie se klinieke behandel word. Sowat ’n derde van Kaapse pasiënte is jonger as 21. "Wat werklik onrusbarend is, is die jongste groep – dié onder 18 jaar – wat sowat 28% van die statistiek uitmaak," het dr. David Fourie, direkteur van Sanra in die Wes-Kaap, gesê. Nóg ’n derde is tussen 22 en 35 jaar oud. Die oorblywende derde is ouer as 36. Volgens Fourie raak kinders gouer verslaaf aan byvoorbeeld metamfetamien (tik). Ouers kom dit dikwels nie agter nie tot nadat verslawing ingetree het omdat dit nie so sigbaar is nie. "Daarteenoor is alkoholmisbruik baie makliker sigbaar," het hy gesê. Op ’n vraag van hoekom die slagoffers kinders is, het Fourie gesê dit is eerstens waarskynlik maklik bekombaar asook goedkoop genoeg. "Die bemarking van dié dwelms is op die jeug ingestel en vind dikwels letterlik buite die skoolhekke plaas," het hy gesê. Vir R5 of R10 kan ’n kind genoeg kristalle koop vir een keer se gebruik. Tweedens dink hy mense besef nie die blywende letsels – soos breinskade – wat dié dwelms veroorsaak nie. Jong mense beleef ’n positiewe ervaring met dié dwelms en dit word nou alledaags, het Fourie gesê. In die verlede het die sogenaamde klub-dwelms soos ecstasy of Mandrax meer dikwels voorgekom. Vir die eerste keer in die geskiedenis het tik vanjaar ook alkohol verbygesteek as die nommer-een-keuse van misbruikers.
Volgens Fourie pas tik by die jonger garde se lewenstyl. Dit gee hulle energie en hulle voel lewenslustig. Hy is egter bekommerd omdat dit in die media hanteer word as ’n gewone stimulant. "Die dwelms klink aanloklik. Daar meer moet gemaak word van die langtermyn-gevolge. Belangrike faktore soos die vinnige gewoontevorming asook permanente breinskade moet meer beklemtoon word," het hy gesê. Dit is teleurstellend dat slegs sowat 10% van die pasiënte deur skole na klinieke verwys word, terwyl ’n derde van die verslaafdes skoolgaande is. marius louw

K 28713: Stokkiesdraaiers ‘sit voor TV’, Tot op 25000 op weekdae, volgens studie; Burger, 08.07.2006
PRETORIA. – Sowat ’n kwartmiljoen skoliere sit weeksoggende voor die televisie terwyl hulle eintlik in die skool moet wees. Dít is een van die bevindings in ’n ondersoek wat dr. Daan van Vuuren, onafhanklike konsultant-navorser van Pretoria, onlangs gedoen het. Van Vuuren het op ’n simposium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gepraat oor die televisie-kykpatrone van kinders tussen 7 en 15 jaar oud. Sy fokusgroep was kinders wat toegang tot elektrisiteit en dus waarskynlik ook televisie het. Volgens Van Vuuren is dit ’n redelike skatting dat tussen 6 en 7miljoen kinders tussen 7 en 15 jaar oud daagliks televisie kyk. Volgens Van Vuuren kan die invloed wat televisieprogramme op kinders het, nie onderskat word nie. Uit ’n vroeëre ondersoek is drie breë negatiewe tendense uitgewys wat betref die invloed wat programme op kinders het. Kinders kan onsensitief word vir die pyn van ander as hulle vir lang tydperke aan televisiemateriaal blootgestel word waar geweld ’n belangrike komponent is. ’n Verdere gevolg is dat hulle bang en angstig kan word vir die wêreld waarin hulle leef, of ’n aggressie kan ontwikkel teenoor ander deur dít wat hulle op televisie sien, na te boots. Dit blyk uit die navorsing dat kindergehore tuis gedurende skooltyd (08:30 – 12:30) in ’n tydperk van tien jaar verdubbel het. Die tye waarin kyksyfers getoets is, was nie binne skoolvakansies nie, wat die omvang van die aantal stokkiesdraaiers sorgwekkend maak, meen Van Vuuren.
Daar is bevind die kyksyfers van 7de Laan is baie hoog onder kindergehore. Dit is voorts opvallend watter rol sepies in die kykpatrone van kinders speel. Hulle begin met Days of our Lives, waarna daar na Egoli en uiteindelik 7de Laan geskuif word. Van Vuuren het voorts gesê daar is steeds ’n waghondgevoel by die publiek oor die aanbod van programme en daar is ’n lewendige interaksie tussen die publiek en die Uitsaai- klagtekommissie.
Ouers is veral bekommerd oor hul kinders se blootstelling aan volwasse-programinhoud. Wat taalvoorkeure betref, verkies Suid-Afrikaners om televisie in hul huistaal te kyk, met Engels ’n sterk tweede keuse. Engels het ’n baie hoë aspirasiestatus onder Afrikataalsprekers, terwyl kleiner Afrikatale soos Venda en Tsonga eenkant toe gestoot word. Afrikaans as televisietaal het redelik sterk ondersteuning in wit en bruin gemeenskappe, maar kry min aftrek onder Afrikataalsprekers. Alet Rademeyer

JEUG REIK UIT
Skool reik uit na mense in nood; Beeld, 12.07.2006
’n Hoërskool van Pretoria se jeuglessenaar het onlangs die spreekwoordelike bul by die horings gepak deur ’n projek van stapel te stuur waardeur tieners in Pretoria wat by ondergrondse bedrywighede betrokke is, gehelp word. Die voorsitter van die jeuglessenaar van die Hoërskool Pro Arte Alphen Park sê dis nie sommer enige gemeenskap nie, maar ons eie tienergemeenskap." Me. Petro Roosendaal, onderwys-ondersteuningskonsultant van dié skool, het ’n toer in samewerking met kapt. Colette Weilbach van die Brooklyn-polisiestasie en inspekteur Owen Muziker van Sunnyside-polisiestasie georganiseer. Tydens die toer is die leerlinge en personeel van die skool, lede van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue en die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie aan die donker kant van Pretoria voorgestel. Kinderprostitute en straatkinders is aan hierdie lewe gewoond. Me Elise Coetser, nasionale visepresident van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue, sê die organisasie gee sy volle steun aan dié skool se projek. Dié sakevroueraad het die skool se jeuglessenaar in staat gestel om in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie se president, me. Irna Hartzenberg, ’n trust te skep vir die ondersteuning van jeugdiges in nood.
Die trust word "Touch to be Touched" genoem, aangesien dit vanjaar die gekose tema is. Roosendaal sê terwyl sommige mense daagliks stomgeslaan word deur die nuus van die dag, soos die styging in brandstofpryse, is daar ’n groep jongmense vir wie die plakkaatopskrifte teen Pretoria se straatpale geen betekenis het nie: "Vir hulle is môre nog ’n dag. Sommige skeur selfs die onderste gedeelte van ’n straatplakkaat af om die volgende daggazol daarmee te draai. Al wat vir hulle saak maak, is die bittere stryd om oorlewing. Sunnyside, in die hartjie van Pretoria se middestad, is ’n woongebied wat eens die uithangplek van gegoede gesinne was. Dit is deesdae die woonplek van talle minderjarige kinders. Inspt. Muziker sê daar is sowat 36 haarsalonne in Esselenstraat. Normaalweg is dit plekke waarheen ’n mens gaan vir ’n mooi kapsel, maar tans bied dit dikwels slegs ’n front vir dwelmverkope agter geslote deure. Prostitute word ook dikwels daar opgelaai. Gewilde nagklubs en plesierpaleise in Hatfield-omgewing wat die algemene kuierplek van tieners bo en onder 18 jaar oud is, is op die roete ingesluit. Een van die gesellinne het selfs die toergangers te woord gestaan.
"In een van die klubs het ’n jong ontkleedanseres soos ’n slang om ’n paal geseil terwyl die mans by die tafel waarop sy gedans het, alles gade geslaan het," sê Roosendaal. Volgens haar was die leerlinge geskok om te hoor dat gesiene sakemanne bereid is "om tot soveel as R1 000 per keer te betaal om met die sweep geraps te word, terwyl sy vrou en kinders by die huis op hom wag". Insp. Muziker het ’n dagsorgsentrum vir kleuters en babas in Hatfield geïdentifiseer wat glo saans in ’n plesierpaleis verander. In Marabastad is openbare toilette waar onwettige aborsies uitgevoer word. Volgens Muziker is baie van die straatkinders daar betrokke by prostitusie of het die een of ander dwelmafhanklikheid. Ander voorvalle wat ’n groot impak op die leerlinge gehad het, was die jong seuns wat opgelaai word vir "gunsies", haweloses wat tussen rommelhope onder repe plastieksakke slaap en die stank wat op sommige sypaadjies in die lug hang. "Dis ’n realiteit waarvan die meeste van ons nie bewus was nie," sê Coetser.
Roosendaal sê die meeste van die kinders smag na beter omstandighede. By skuilings soos dié in Sunnyside poog die polisie en maatskaplike werkers nie slegs om balans en ’n mate van roetine in die kinders se lewens te vestig nie, maar ook om hulle met hulle ouers te herenig. Die visevoorsitter van die Pretoria-tak van Sakevroue, adv. Ciska Mooyses, sê hulle is wel beroepsvroue, maar die meeste het kinders by die huis. "Ons as ouers besef nie altyd waaraan ons tienerkinders in vandag se lewe blootgestel word nie," sê sy. Hettiën Strauss

No comments: