2006-08-31

Heartlines: Barmhartigheid

Refilwe is een van die uitvoerende amptenare van 'n advertensie maatskappy en leef 'n luukse lewe met 'n hoë inkomste, die nuutste BMW 3 reeks en 'n mooi huis. Sy ontdek dat 'n voormalige vriendin van haar man, Sipho, HIV positief is. Hoe moet sy teenoor Botshelo optree? Haar wrokkigheid teenoor Botshelo word gekontrasteer deur 'n vriend, Bongani, se konsekwente liefde en barmhartige optrede teenoor Botshelo. Refilwe voer 'n innerlike stryd en word uitgedaag om haar waardes en prioriteite te herevalueer. Sy ontwikkel 'n positiewe verhouding met Botshelo se dogter, Tshiamo. Soos wat Botshelo se gesondheid agteruitgaan, moet Refilwe besluit of sy vir Botshelo en haar dogter gaan omgee en of sy haar loopbaan eerste gaan stel.

Vrae vir bespreking en oordenking:

1. Wat, dink jy, is die sentrale boodskap van hierdie episode?

2. Hoe het Refilwe deur die loop van die storie verander?

3. Wat dink jy oor die manier waarop Bongani sy liefde gewys het?

4. Refilwe het geweet Tshiamo is nie Sipho se dogter nie. Wat het haar gemotiveer op steeds vir Botshelo te help?

5. Isaiah, die ou man met die stukkende motor maak die opmerking: "We should all do what we can to help each other". Bespreek wat hy gesê het.

6. Dink jy dat die kinders Refilwe se verantwoordelikheid is? Gee redes vir jou antwoord.

7. Dink jy dat Refilwe uit haar werk moes bedank om Botshelo te help? Verduidelik.

8. Refilwe maar die opmerking dat die kinders ook hare is. Hoekom dink jy het sy dit gesê? Hoe is dit 'n aanduiding van haar hartsverandering?

9. Wat dink jy, motiveer Bongani om mense te help.

Bespreek die volgende aanhalings uit hierdie episode:

1. "I'm a construction foreman by day and a Florence Nightingale by night." (Bongani)

2. "Whatever problems she has, she's caused them herself, believe me." (Refilwe about Botshelo)

3. "Doesn't a heart of stone make it difficult to get up in the morning?" (Bongani to Refilwe)

4. "Why do it yourself when you can pay someone who can do it better... It's amazing how a little bit of money can go a long way to making problems disappear." (Cutter speaking to Refilwe at the benefit dinner.)

5. "What do you get out of helping all and sundry anyway?" (Refilwe)

6. "God has been good to me and I want to give something back." (Bongani)

7. "I didn't want Sipho's money; I just want someone to love Tshiamo." (Botshelo)

2006-08-23

Heartlines: Eerlikheid

Errol Tyres is 'n toegewyde gesinsmens, 'n gerespekteerde gemeenskapsleier en 'n lojale en getroue werknemer by die maatskappy waar hy werk. Errol word gedryf deur sy begeerte om sy vrou, Berenice, die gemeenskap se Barmhartige Samaritaan, te beïndruk.

Die storie begin ontvou wanneer Berenice 'n ou vriend in 'n restourant raakloop wat onthou hoe goed sy klavier gespeel het. Errol voel ongemaklik met die familiêre manier waarop hy oor haar talent praat. Min of meer dieselfde tyd lig sy baas by die werk hom in dat hy in lyn is vir bevordering. Errol begin dit oorweeg om sy bonus en sy toekomstige verhoogde inkomste te gebruik om 'n klavier vir Berenice vir die 20ste herdenking van hulle huweliksdag te koop. Die maatskappy besluit egter om vanweë finansiële terugslae nie bonusse uit te betaal nie. Dit maak die klavier onbekostigbaar.

Errol gebruik derhalwe die kerk se geld as 'n deposito op die klavier. Hy lieg oor die geld. So word hy vasgevang in 'n afwaartse spiraal van oneerlikheid en leuens. Om die kerk se geld terug te betaal, lieg jy vir sy baas om 'n maatskappy lening te bekom. Toe dit misluk nader hy 'n bendelid, Denver, om 'n lening. In 'n hofsaak moet Errol as 'n karaktergetuie optree vir Denver. Errol se verhouding met sy vrou raak wankelrig. Die hoogtepunt is waar Errol die volle waarheid moet vertel by die kerk se Kersfeesete. Berenice, hoewel teleurgesteld, vergewe hom.

Vrae om oor na te dink en te bespreek:

1. Wat is die hoofboodskap van die verhaal?
2. Waarom was Errol en sy vrou sulke gerespekteerde lede van die gemeenskap?
3. Bespreek die toneel waar Errol en Berenice haar ou vriend raakloop en die gesprek oor haar klavierspel begin draai.
• Watter impak het dit op Errol gehad?
• Watter besluit het Errol geneem as gevolg van hierdie insident?
4. Wat het daartoe gelei dat Errol vir Denver om 'n lening moes nader?
5. Watter effek het dit op Errol gehad?
6. Wat sou hy in stede daarvan kon doen?
7. Dink jy dat Errol 'n eerlike persoon is? Gee redes.
8. Waarom het Errol dit moeilik gevind om eerlik met Berenice te wees oor die probleme wat hy by die werk gehad het?
9. Watter effek het dit op hulle verhouding gehad?
10. Wat dink jy van Berenice se optredes en reaksies in hierdie verhaal?

Bespreek die volgende aanhalings uit die episode:

1. "In a single moment of self deception an honest man can lose his integrity and with it, everything he holds most dear." (Isaiah, die verteller)
2. "It was never about me, it was always about you ... (buying the piano for me) made you feel important ... you think my family's better than you .." (Berenice aan Errol)
3. "I have always loved you, because you are a good, honest, God fearing man, a man of integrity ..." (Berenice aan Errrol)
4. "I suppose now I am an outcast." (Errol aan Berenice)
"No, Errol, this is your community, these people are your friends. Yes, you've done some wrong things but you've admitted it. People must find it in their hearts to forgive you." (Berenice)

2006-08-18

INLIG AKTUEEL 26/2006

Saamgestel deur ABID

4 - 10 AUGUSTUS 2006

NG KERK - NUUS

BRIEF, 10 Augustus: Hereniging is die belangrikste; Die Burger, 10/08/2006

ONS verwys na die briefskrywer Vra maar net (Brieweblad, 1/8) [sien hieronder] se versoek vir opheldering oor vergoedingspariteit vir leraars binne ’n toekomstige herenigde VGK en NGK. Vir albei kerke is die beginsel van kerkhereniging as Bybelse gegewe die belangrikste uitgangspunt: “.. . . .dat hulle een mag wees. . . . sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het,” het Jesus gebid (Johannes 17:21). Die vergoeding van leraars is ’n belangrike bysaak wat op die pad na eenheid onderhandel sal word. As die proses van hereniging van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika, meer as tien jaar gelede, as voorbeeld kan dien: Daar is tans nog groot verskille in die vergoeding van Afrikaans- en Xhosasprekende leraars binne die VGK.

Die proses na pariteit en onderhandelinge daaroor hang saam met bekostigbaarheid. En bekostigbaarheid is afhanklik van lidmate se gehoorsaamheid aan die Here in hul offervaardigheid en die mate waarin ons verantwoordelike rentmeesters (bestuurders) is van alles wat aan ons toevertrou is. Daarmee saam is die beginsel dat gemeentes mekaar sover moontlik probeer help. Die Bybel maak dit duidelik (2 Korintiërs 8 en 9) dat Christene wat meer het, veronderstel is om medegelowiges wat minder het, te help. Sulke hulp word vrywillig gegee en berus op die oordeel van ’n gemeente of gelowige. Ons neem aan dat die herenigde kerk seker ook hierdie beginsel sal aanvaar.

By die NGK is dit so dat die algemene sinode jaarliks ’n (nie-bindende) aanbeveling maak oor leraars se vergoeding. Maar die plaaslike gemeente, as werkgewer, stel die vergoeding vas. So is daar baie gemeentes in die NGK waar leraars minder vergoed word as wat die sinode aanbeveel, en sommige ook meer. By die VGK bepaal die streeksinodes die vergoedingskale.

Wat die pensioen betref: Samesmelting van die NGKA en die NGSK se pensioenfondse kon sedert vereniging nog nie plaasvind nie. Die pensioenfondse van die oorspronklike kerke bestaan vandag nog net soos voorheen. Vir die toekoms kan egter onthou word: Pensioen wat reeds vir ’n persoon “gespaar” is, word deur wetgewing beskerm as ’n gevestigde reg in daardie persoon se belang. Nuwe pensioenvoorsiening ná kerkhereniging sal as deel van die herenigingsproses ter sprake kom.

PETRUS BOCK, SAAKGELASTIGDE, VGK, KAAPLAND, en

FRANCOIS CILLIÉ, SAAKGELASTIGDE, NGK WES- EN SUID-KAAP

Net ’n saketransaksie? Vra Maar Net, Stilbaai; Die Burger, 01.08.2006

EK verwys na die berig “NG Kerk skuld SA hereniging” (DB, 26/7).
Tydens ’n onlangse inbelprogram op RSG was dr. Allan Boesak een van die kundiges wat vrae beantwoord het. ’n Inbeller het gesê dat hereniging net ’n saketransaksie is en dat dr. Boesak sal weet wat hy bedoel. Dr. Boesak het dit heftig ontken. In die bogenoemde berig word genoem dat die VGK finansieel in ’n dilemma verkeer. Voortspruitend hieruit die

volgende: Sal die VGK-predikante dieselfde salarisse, reistoelaes, verblyftoelaes, mediese en aftree-toelaes ontvang as wat die huidige NG predikante tans ontvang? Of sal hulle mekaar halfpad ontmoet deurdat die een bykry en die ander afgee? ’n Kort en duidelike antwoord sal verwelkom word.]

KERK - SAKE

K28835: Radiokansel maak sy stem dik in hoë hof; Beeld, 02.08.2006, p2

Radiokansel gaan hof toe om sy uitsaaityd te red. Dié Christelike radiostasie het besluit om die hooggeregshof te nader om ‘n hersieningsbevel nadat hy nie tot ‘n vergelyk kon kom met die bestuur van Radio 2000 oor uitsaaityd op dié FM-sender nie. Radiokansel wou hê dat die bestuur die ooreenkoms dat hulle Radio 2000 se senders sewe uur per dag kon gebruik, handhaaf totdat Radiokansel se lisensie-aansoek afgehandel is. Die bestuur van Radio 2000 het egter vasgestaan by sy besluit om Radiokansel se uitsaaityd te verkort... Die gevolg is dat Radiokansel, wat al 18 jaar oor FM uitsaai, in die week van sy kwarteeufees skielik honderdduisende van die luisteraars, veral in die suide van die land, slegs vir enkele ure per dag kan bereik. Die stasie gaan voort om 24 uur per dag oor mediumgolf op 657 kHz uit te saai wat die grootste deel van noorde van die land bereik. Dr Roelf Petersen, uitvoerende hoof van Radiokansel, sê hulle het besluit om elke uitsaai-uur te aanvaar wat hulle aangebied word al is dit vir ‘n klein aantal luisteraars wat tussen 04:00 en 06:00 soggens inskakel. Hulle gaan egter nie die saak daar laat nie. Hulle meen Radio 2000 se besluit is onbillik omdat dit die regte van duisende luisteraars wat oor 18 jaar gevestig is, aantas. Die besluit kan vir Radiokansel ook groot finansiële nadeel inhou. Neels Jackson

K28822: Kom sluit aan by Liedboekgilde; Eikestad, 04.08.2006, p4

Belangstellendes word hartlik uitgenooi om elke Dinsdag lustig uit die Liedboek van die Kerk te kom saamsing. Die sang word gelei deur mnr Pieter van der Westhuizen, bekende in kerkmusiekkringe en eertydse orrelik en koorleier van die Studentekerk, Stellenbosch. ‘n Totaal van 25 belangstellendes het die eerste byeenkoms van die Liedboekgilde op 1 Augustus bygewoon. Die volgende byeenkoms is op 8 Augustus. ‘n Musiekkennis en besondere sangtalent is nie voorvereistes om in hierdie aktiwiteit te kan deel nie. Daar word ook nie koor geoefen nie. Die doel van die byeenkomste is hartlike samesang, waartydens die groep die Here met sang wil loof... ‘n Kenner van die Psalms sal ook elke week ‘n Psalm eksegeties ontleed.... Belangstellendes word dus versoek om die Liedboek en Die Bybel saam te bring. Die naam van die groep word ontleen aan die definisie van die woord “gilde”. ‘n Gilde is ‘n amateurgroep wat ’n gemeenskaplike belangstelling deel en dit gereeld beoefen. Die groep sal elke Dinsdag tydens die skoolkwartaal van 10:00 tot 10:50 bymekaar kom. Hierdie byeenkomste word in die kerksaal van die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen in Dalsig aangebied. Vir meer inligting kan mev Ansu van Zyl gekontak word by tel 021 886-4566

K28827: Gospel-sanger gevonnis oor meisies; Die Burger, 07.08.2006, p9

PAROW - ‘n Finansiële adviseur van Eversdalhoogte is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis op twee aanklagte van onsedelike aanranding op twee minderjarige familielede oor ‘n tydperk van etlike jare. David Kotze (30), ‘n gospel-sanger wat sy kerk se jeugafdeling en jeugkampe gekoördineer het, was emosioneel tydens die verrigtinge in die plaaslike streekhof en het deurentyd trane afgevee... Hoewel Kotze sy berou oor die voorvalle uitgespreek het, is hy steeds in ‘n fase van ontkenning... Alethea Nieuwenhuizen

VROUEDAG

Vrouedag; Kommentaar, Beeld, 08.08.2006

Vandag is ’n openbare vakansiedag om vroue te eer. Die wortels van Vrouedag dag lê in 1956, toe duisende vroue na die Uniegebou opgeruk het uit protes teen die paswette.Met die optog het hulle nog ’n paar gram gegooi op die skaal wat apartheid uiteindelik laat kantel het. Dit was 50 jaar gelede. Vandag het Vrouedag steeds vir ’n groot deel van die vrouebevolking ’n baie meer emosionele konnotasie as vir ander. Die struggle het in sommige se binnekamers afgespeel. En in die buitekamers van ander. Maar die bevrydingstryd is verby en die eise van ’n demokrasie ’n harde realiteit. Vroue se rol in die bereiking daarvan mag nooit onderskat word nie. Maar dan moet hulle ook in hul harte en hul huise vry en veilig wees. Dit is ’n stryd wat álle vroue in die land raak.

‘GAY- EN LESBIËRKWESSIE

K28841: ‘Kerk moet besin oor barmhartigheid’; ‘Gebed alleen’ gaan nie homofibie oplos; Die Burger, 08.08.2006, p9

KAAPSTAD - Die gay- en lesbiërkwessie is ‘n belangrike toetssaak vir die kerk wat gelowiges ook na die diepte van hul eie barmhartigheid sal laat kyk. Die vraag is of die kerk enige iets hieroor kán sê - of moet sy eenvoudig bely? Só het verskeie sprekers Vrydag gesê op ‘n eendaagse konferensie by die Universiteit van Wes-Kaapland oor die gay-kwessie en die kerk. Die tema van die konferensie was “intimiteit weer besoek”. Die begrip intimiteit kan op verskillende maniere vertolk word en strek verder as seks, het ds Pieter Oberholzer van Inclusive en Affirmative Ministries (IAM) gesê... “Die idee was om ‘n bemiddelende rol te speel en ‘n platform te skep waar enkelinge en kerke intimiteit en verhoudings kan ontrafel.” Om die aandag te spits op intimiteit en verhoudinge, in plaas van die verskillende interpretasies van Bybelverse, bied ‘n interessante, vrugbare pad na die dieper seksuele krisis binne die kerk en die gemeenskap - die onwillige en dubbelsinnige aanvaarding, regstelling en viering van menslike seksualiteit, lui ‘n inligtingstuk oor die konferensie... Marius Louw

K28836: Gays se bloed dán welkom, sê SANBD; Skenkings kan kom ná 6 sekslose maande; Beeld, 02.08.2006, p7

Homoseksuele mans mag eersdaags gereelder bloed skenk ... mits hulle bereid is om vir ses maande selibaat te bly. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) het sy skenkerkriteria só aangepas dat dié uitsluitingstydperk nie meer vyf jaar is nie. Dit geld van 1 Oktober wanneer nuwe skenkingsvorms beskikbaar sal wees... Mnr Willem Reyneke, ‘n 32-jarige debiteureklerk van Witrivier in Mpumalanga en gereelde skenker, is ontstoke omdat hy verlede week weggewys is by ‘n SANBD-tak. Dit was nadat hy vir die eerste keer in al die jare die vraag of hy die afgelope vyf jaar seks met ‘n man gehad het, “eerlik beantwoord” het... Volgens me Nicolette Duda, woordvoerder van die diens, weeg ‘n pasiënt se reg op vielige bloed swaarder as dié van die bloedskenker. Sy het gesê dit is “kommerwekkend” dat Reyneke al die jare bloed geskenk het en nie die vrae op die vorm eerlik beantwoord het nie. Antoinette Pienaar

K28837: Adam en Steve wil nie sommer kansel toe nie; Beeld, 02.08.2006, p7

Baie gay mense steun miskien die instelling van gay-huwelike in lande waar dit reeds ingestel is, maar ‘n klein minderheid van hulle wil self trou. Die Amerikaanse Institute of Marriage and Public Policy het in ‘n studie bevind dat ‘n baie klein persentasie gays in lande wat gay-huwelike erken, daarvan gebruik maak. In Nederland, waar gay huwelike sedert 2001 wettig is, het slegs tussen 2% en 6% van gay mense tot dié stap oorgegaan. In België en in Kanadese provinsies is baie soortgelyke syfers gevind. Die hoogste syfer waarmee navorsers vorendag kon kom, was vir die Amerikaanse staat Massachusetts. Ds André Muller van die Reformerende gemeente wat gay-lidmate in Pretoria bedien, sê dié syfers verras hom nie. Baie gays sien neer op die status van gebondenheid wat met ‘n huwelik gepaard gaan, sê hy. Muller steun gay-huwelike, nie oor die groot aantal mense wat daarvoor vra nie, maar ter wille van die individu wat die begeerte het om te trou. Neels Jackson

K28823: Staat ‘wil SA verenig oor gay huwelike’; Die Burger, 04.08.2006, p 17

KAAPSTAD - Daar word hard agter die skerms gewerk om alle partye aan boord te kry vir die wysiging an die Huwelikswet sodat huwelike tussen mense van dieselfde geslag erken word, het die adjunk-minister van justisie, mnr Johnny de Lange, gesê. Nogtans het die ACDP Dinsdag gevra dat die Grondwet gewysig word om sulke huwelike te verbied. Die konstitusionele hof het verlede jaar beslis dat die Huwelikswet voor Desember gewysig moet word om gays in te sluit. Indien dit nie gebeur nie, sal die wet outomaties verander... Hy het gesê daar word so ver moontlik gepoog om alle organisasies aan boord te hou. “Daar is groepe in ons gemeenskap wat sterk gekant is teen hierdie kwessies, en ander groepe, soos organisasies vir gays, wil weer in ‘n ander rigting gaan, so die regering moet hierna kyk om die maatskaplike samehorigheid te behou.” het hy gesê. Hy het ook ontken dat daar verskille tussen die departemente van binnelandse sake en justisie is oor hoe die wetgewing moet lyk. Mnr Steve Swart, ADCP-LP, het egter in ‘n verklaring beweer die verskille tussen hierdie departemente maak dit moeilik om voorleggings oor enige wetsontwerp te maak. Swart wou weet hoekom klagtes deur die South African Pagan Rights Alliance by die departement se voorlegging ingesluit was, maar die Huweliksalliansie, wat volgens hom sowat 70 tot 80 kerkgroepe verteenwoordig, uitgelaat is. Swart het gesê die huwelik soos dit nou is, tussen ‘n man en ‘n vrou, moet behoue bly. Carien du Plessis

Vier susters wil hof toe oor gay-erfreg; Beeld, 09 08.09.2006

Vier susters van Kaapstad het ’n dringende beroep op die 11 regters van die konstitusionele hof gedoen om hulle toe te laat om hul saak te gaan stel oor gay paartjies se erfreg wanneer een van die paartjie sonder ’n testament sterf. Die susters is nie gay nie en maak dit in ’n beëdigde verklaring by hul aansoek ook baie duidelik dat hulle geen appeltjie met gay mense te skil het nie. Hulle is egter bekommerd oor ’n bevel van die Pretoriase hooggeregshof (wat nog deur die konstitusionele hof bekragtig moet word) dat die bestaande regsposisie – wat ’n gay persoon wat sterf se lewensmaat ignoreer as dit by intestate (sonder testament) erfreg kom – ongrondwetlik is. Selfs met dié bevel stem hulle heelhartig saam, sê me Erilda Starke namens haar en haar susters, mee Sharon Bezuidenhout, Janine Starke en Heidi Pool. Hulle is egter beswaard daaroor dat die regter se bevel van ongrondwetlikheid terugwerkende krag het. Die rede is dat die vier susters se oorlede gay broer se boedel R10 miljoen sterk is en hulle vier sou die enigste erfgename wees. Nou dring die broer se “beweerde” lewensmaat daarop aan dat hy die enigste erfgenaam moet wees en die vier susters kan sonder ’n sent anderkant uitkom, voer die vroue aan. Daarom wil hulle gevoeg word as partye tot die geding waarin die konstitusionele hof die hooggeregshofbevel moet bekragtig sodat hulle die 11 regters kan probeer oortuig om die bevel nie terugwerkend van krag te maak nie. Hoofregter Pius Langa oorweeg die susters se aansoek. Philip de Bruin

OOR: die “kwessie” van homoseksualiteit

Hoe lyk seksbalk in Christen-oog? Yolanda Dreyer, Godsdiens-aktueel; Beeld, 06.08.2006

‘Die hand in eie boesem steek” is ’n eienaardige uitdrukking. As jy jou hand daar ingesteek het – wat kry jy? Die Bybelse ekwivalent van die balk uit jou eie oog haal voordat jy die splinter in ’n ander s’n soek, tower eweneens ’n vreemde prentjie op. Die saak waaroor dit gaan, is egter duidelik. En dis nie lekker nie. ’n Mens wil liewer anderpad kyk. Maar ’n etiese lewe vra van Christene om onsself eerlik in die oë te kyk.

Van oë gepraat, myne is groen. Die meeste mense het blou, blou-grys of bruin oë. Groen oë is skaars, soos regte rooi hare skaars is. Sê nou net ek het as kind agtergekom dat my oë groen is en moes dan aanhoor: dit is abnormaal – ’n afwyking. Sê nou ek moes grootword met hoe almal praat oor die “probleem” of die “kwessie” van groen oë.

Sommige mense kom as puber agter dat hulle anders is as die meerderheid. Hulle voel aangetrokke tot mense van hulle eie geslag. So ’n oriëntasie is skaars, party meen 10%, ander nog minder. Hierdie skaars word toe in kerk en samelewing “abnormaal”, “sonde” of “siekte”. Taal verpak dit netjies as die “probleem” of die “kwessie” van homoseksualiteit. Wat doen dit aan mense? Al hulle verhoudings X met God, met ander en met die self – word versteur. Die Bybel word ’n gésel. Ses houe slaan diep wonde. Die geloofsfamilie sluit die kerkdeure en die ampte vir hulle toe. ’n Pa verwerp sy kind. Die ma ly. Sy verlang na haar kind. Sy voel verskeur tussen eggenoot en kind, tussen haar sekuriteit in die huwelik en wat sy weet reg en barmhartig is. Vir gay en lesbiese persone is selfhaat die gevolg. Hulle voel walglik. Hulle behoeftes is onaanvaarbaar. Hulle liggaam pleeg verraad. Liefde is gevaarlik en sonde. Maar hulle het soos alle mense ’n behoefte aan liefde en aanraking. Hulle moet hulle behoeftes onderdruk – ’n leeftyd lank. Dan word selfmoord ’n uitweg. Dit is die enigste manier om van ’n onaanvaarbare self, ’n haatlike liggaam en matelose pyn, te ontsnap.

Hand in eie boesem van die hetero’s vra: Is dit aanvaarbaar om dit aan ander te doen? Ja, meen party. Dis mos nie óns wat so sê nie. Die Bybel sê dis sonde. Vreemd dan dat dit nie net Joods-Christelike gelowiges is wat negatief reageer op homoseksualiteit nie. Die reaksie kom in alle kulture en godsdienste voor. Dit groei ewe geil onder ongelowiges.

As dit nie “geloofsoortuiging” is nie, wat is dit dan? Dalk gewoon menslike vooroordeel? Mans is meer bedreig deur seksuele minderhede as vroue, toon navorsing. Die rede is dat mans se geslagsidentiteit daardeur bedreig word, terwyl vroue se geslagsidentiteit nie juis geraak word nie. Psigologiese navorsing wys ook dat sekere persoonlikhede meer bevooroordeeld is as ander. Hulle is meer geneig tot rassisme, seksisme en homofobie (die vrees vir/haat van gays). Dit is rigiede persoonlikhede wat nie hou van verandering nie. Hulle wil dinge hê soos hulle dit wil hê. Sulke mense verdra nie “andersheid” nie. Wat kry die hand dan in die eie boesem? Hoe lyk die balk in die eie oog? Vooroordeel en om met die Bybel, taal, houding en gedrag ’n lewe wat onhoudbaar is vir ander te skep, is sekerlik téén die Evangelie. Volgens dieselfde Evangelie is daar genade – nie net vir die slagoffer nie, maar ook vir die dader.

Die tollenaar het van Jesus genade ontvang en toe gaan regmaak waar hy mense te na gekom het. Wat maak ons, die Christelike seksuele meerderheid, met die balk in ons oog?

DWELMVERSLAWING

K28842: Kinders ‘al jonger in dwelms se web verstrengel’; Raad bekommerd oor bendes ‘misdaad-sakeryke’ word; Die Burger, 08.08.2006, p11

KAAPSTAD - Dwelmmisbruik, veral die gebruik van tik (metamfetamien), is aan die toeneem onder jeugdiges in die Wes-Kaap. Die ouderdom waarop kinders dwelms begin gebruik en dikwels onvermydelik by bendebedrywighede betrokke raak, raak ook al hoe jonger... Georganiseerde bendes met groot “sakeryke” en aggressiewe werwingsmetodes beheer deesdae die dwelmhandel... Een van die faktore wat daartoe bydra dat jeugdiges ál meer by bendes betrokke raak, is ‘n gebrek aan gesinstrukture... Luidens die verslag is daar tans sowat 130 bendes in die Kaapse metropool... Theuns van der Westhuizen

GEWELD

Honger en dors na wat reg is; Annelie Botes, Van Alle Kante; Die Burger, 08/08/2006

KORT gelede het ek die kerk aangevat oor daar druppelmin van kerkkant af gedoen word om misdaad te beveg. Hewige reaksie gekry. Min briefskrywers het my tande uitgetrap. Inteendeel. ’n Predikant van die Vrystaat het laat weet hy het ’n antimisdaad-preek gelewer; dat hy nié langer sal stilbly, of apaties sal wees nie. Onlangs kry ek kettingpos wat my na die webwerf www.crimexposouthafrica.co.za lei. Ek pes kettingpos, maar besluit om te kyk. En daar word ek oorval deur mislikheid. Sodat ek tuinbank toe vlug om in die oggendkoue die walging te oorkom. Dis misdaadskrik wat my wou laat opgooi, en die wete dat dit nóóit sal verander nie. Tensy ’n allervreeslike dwarsbrander inspoel om die geweldsgolf te skuif. Ek wil nie doemprofeet speel nie, maar Suid-Afrika staan in ’n routyd wat net smartliker gaan word. Want al word nog 20 Megans geskiet, 50 boervroue keelaf gesny, of 10 000 boere trek op Queenstown toe, of 1 000 ou-mama’s word in die township verkrag en hulle oë met ’n lepel uitgeskep, sal dit weinig impak hê op ons leiers. Hulle jaag die murmureerders liefs landuit as om aan die sneeubal te raak. Netnou kry hulle hande vriesbrand. Die Dennis Bloems wat gelas dat lui-vet tronkvoëls moet wérk, is verreweg te min.

Nes die Vrystaat-predikant verseg ek om te swyg. Al verwag ek ’n kielhaal oor my prontheid. ... Nog erger: Wat as ek eendag moet antwoord oor my swye? Dít terwyl ek ’n forum gehad het waar ek kon pleit namens elke kleurlose siel wat honger en dors na wat reg is; elke swart-wit-bruin-spikkel-mens wat wens om sy brood in vrede te eet; om sy huis of paleis of pondok rustig te bewoon. Daarom, praat sal ek praat, al vat dit drie weke om my sê gesê te kry. En ek sal my summier afvee aan hulle wat reken ek lig my witheid op soos ’n muishondstert om ’n stank te sproei in die rigting van swartheid. Dit het niks te make met witheid of swartheid nie, net met gespikkelde mensheid. Dis ook geen nuwe stank nie, net ’n bloedwalm wat te lank reeds die lug en lig van vredesoekers besoedel en verduister. As die wetmakers ons pleitroepe minag of ignoreer, is dit húlle wat Eendag sal moet antwoord. Want onthou: A time comes when silence is betrayal. annelie1@telkomsa..net

‘n OPROEP -

Stomp tande? IN Geestelike Waardes, DJS; Die Burger, 04/08/2006

PA’s eet groen druiwe en dan voel kinders se tande stomp? Is dit nou regverdig, dat nageslagte die skuld en swaarkry dra deur voorsate se versaak veroorsaak? Só vra die volk verwytend in die ballingskap. Dié wat agterbly in die land in die ellende en verval wat daar heers, morele en ekonomiese chaos, daaglikse swaarkry, magsmisbruik en korrupsie in politiek en regspraak, praat só. Die wat weggedryf is en nou in die vreemde leef, sonder respek en invloed, randfigure, vol heimwee, sonder tuiste, identiteit, toekoms, dié ook. Die spreuk is tegelyk klag én verskoning. Dis onbillik, dis húl skuld, ánder s’n, ons was nie eens daar nie, ons het dit so kom kry. Dit help niks om die mond oor óns vol te hê nie, ons is nie aandadig nie, hoe kon ons anders uitdraai? Ons is maar net willose produkte van ánder se dinge? En dit klink amper reg, dié spreuk, dié klag, dié verskoning, amper Bybels. Want die Bybel, en vir seker die Ou Testament, is terdeë bewus van ons vervlegtheid met andere, die verweefdheid van ons lewe met hulle vóór ons en óm ons.

Ons ís geen eilande nie, mens-wees ís sáám-wees, ander help slyp ons. Maar dit bied geen verontskuldiging nie. Profete soos Jeremia (31:29) en veral Esegiël (18:2) verwerp dié spreuk skerp. Elkeen staan persoonlik verantwoordelik vir hul eie dade. Niemand kan skuil agter ouers, tradisies, gemeenskappe, kulture, afkoms, omgewing, ánder nie. Ja, ons word almal diep gestempel deur rassisme wat ons gevoed het, seksisme wat oral geld, armoede waarin ons moes opgroei, verwaarlosing en geweld waaraan ons blootgestel was, korrupsie wat almal rondom ons vryelik pleeg, immoraliteit wat alom botvier. Maar ons durf nie daaragter skuil nie.

So seker as Ek leef, sê die Here, vergeet dié stories (18:3). Kry eerder hare op jul stomp tande, byt vas, en vra elkeen wat jý kan doen om dalk ’n verskil te maak, vandág (18:4-9). – DJS

OOR BOEKE

K28829: Harry Potter nou selfs in Oxford koning; Rapport, 06.08.2006, p5

Arme Alice. Almal wat Alice’s Adventures in Wonderland gelees het, weet daar is bittermin dinge wat haar kan onderkry (Selfs nie ‘n bloeddorstige koningin van harte nie). Behalwe miskien ‘n bebrilde weeskind met ‘n paar towertoertjies in sy sak. Want ja, in Harry van Hogwarts het Alice ongelukkig haar moses teëgekom - ten minste wat betref die meeste toeriste wat deesdae na Christ Church in Oxford, Engeland, stroom. Vir jare het besoekers na hierdie uitgelese kollege gekom om erkentlik te kom kopknik vir Charles Dodgson, wie se portret saam met dié van ander groot geeste in die Great Hall hang.

Die oorgrote meerderheid toeriste wat deesdae in die kollege se vierkante en suilegange rondsnuffel, is Harry Potter-volgelinge... En sal Harry vir langer as ‘n eeu die literêre pelgrimsvaardes se verbeelding kan aangryp? Sonja Loots

K28830: Ou stem tel juis omdat hy anders is; Die Burger, 05.08.2006, p8, Gerrit Brand

God se Prenteboek - oor die gelykenisse van Jesus, deur Helmut Thielicke. Lux Verbi.BM, Wellington, 2006. (Sagteband, 198 bladsye, ISBN 9 780796 304285)

Hoekom sou ‘n mens vandag ‘n teks van 50 jaar gelede wil lees? Of van 100, 500 of 1 000 jaar gelede? Die beste antwoord kom van GK Chesterton, in sy Orthodoxy (1908): “... tradisie is bloot demokrasie uitgebrei in die tyd...” Met ander woorde, dis juis die vreemdheid van ou geskrifte, hul uit die pas wees met ons tyd, wat hulle interessant en ter sake maak...

IN DIE NUUS

‘Vloek op radio skok nie meer’; Die Burger, 09/08/2006

JOHANNESBURG. – Die waghondliggaam oor die uitsaaiwese is “koddig en merkwaardig prikkelend”. Só sê Gareth Cliff, ontbytprogramaanbieder van 5FM, in reaksie op ’n stelling in die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se nuutste oorsig (2004-’06) dat “sommige omroepers” glo die enigste manier om aanhangers te wen is gewaagde taal en grappe. Cliff meen daar ís omroepers wat vloek om tieners se guns te wen. “Ongelukkig dink mense omdat ek in die verlede een of twee astrante dinge gedoen het, vloek ek op die lug. Ek dink nie Okosa se opmerking is net op my gerig nie.” Cliff sê sy program is “beslis nie” op gewaagde taal of grappe gebou nie. “Ek dink taal is ’n baie magtige werktuig en dat gewaagde taal – hoewel dit liefs vermy moet word – ’n werklikheid is vir die meeste jong mense. Ons geslag is baie reguit.” ... Okosa het die afgelope twee jaar onder meer die volgende klagtes oor Cliff oorweeg: ’n onderhoud wat hy met “Jesus” gevoer het; ’n seksraaisel oor oudpres. Bill en sen. Hillary Clinton van die VSA; ’n opmerking dat mnr. L. Ron Hubbard (die oorlede vader van Sciëntologie) dalk die pa van aktrise Katie Holmes se baba is; en of die gebruik van die term “moffies—t”; die uitsaaipraktykkode sou oortree.

■ Me. Khahliso Mochaba, Primedia Broadcasting se bestuurder van regulatoriese aangeleenthede, sê die sukses van 94.7 Highveld Stereo se Rude Awakening-program is gegrond op die vermoë om tot sy gehoor te spreek. “Gewaagde taal is nie deel van die resep nie,” sê sy. Liesel Pretorius

K28834: Dié tehuis in die knyp; Beeld Oos-Rand, 02.08.2006, p3

Pasiënte van die Avril Elizabeth-tehuis vir gestremdes in Germiston kan dalk weens nuwe wetgewing hul maandelikse regeringstoelae kwyt wees. Die tehuis, waarvan 65 pasiënte staatsubsidies ontvang, moet volgens die departement van gesondheid hul geouditeerde finansiële jaarstaat vir die vorige finansiële jaar drie maande vroeër indien. Die tehuis bied 24 uur per dag versorging aan 150 pasiënte wat matig tot ernstig verstandelike gestrem is... Kim Snyders

K28838: Nóg ‘n pasiënt geheimsinnig by sentrum beseer; Beeld, 02.08,.006, p9

Nóg ‘n pasiënt by die Cullinanse sorg- en rehabilitasiesentrum vir gestremdes in Cullinan, oos van Pretoria, het erge beserings aan sy gesig en brandmerke opgedoen wat sy ouers die indruk gee iemand het hom bewustelik beseer... Mnr Benedict Mashele, uitvoerende beampte van die sentrum, het ná twee dae nie gereageer op Beeld se versoeke vir kommentaar nie. Mnr Simon Zwane, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid onder wie die sentrum val, was ook nie beskikbaar nie... Virginia Keppler

PRIMÊRE BRON VAN INLIGTING

Internet steek TV die loef af by Britte; Beeld, 09.08.2006

Londen. – Die internet is besig om die rol van televisie as primêre bron van inligting in Britse huishoudings oor te neem. Die navorsingsmaatskappy YouGov het bevind dat Britte 23 uur per week aanlyn deurbring om e-posse te stuur, banksake te doen en inkopies te bestel. Dit is meer as die gemiddelde 19 uur per week wat hulle voor die televisie deurbring. Uit die antwoorde van die meer as 15 000 respondente wat aan die peiling deelgeneem het, is gevind dat mense sowat 50 dae per jaar op die internet deurbring, wat meer is as die tyd wat hulle gebruik om vakansie te hou. Om op die internet te speel neem die meeste tyd in beslag met sewe uur en 54 min. Aanlyndobbelary is die tweede gewildste aktiwiteit met vier uur en 40 min. wat weekliks daaraan bestee word. Ander internetfunksies soos e-pos, aanlyntelevisie, internetbankdienste en -inkopies asook telefoonoproepe oor die internet maak die res van die tyd op. Daar is gevind die verhoogde gebruik van breëband internetdienste moedig mense aan om die internet wyer aan te wend, aangesien video-uittreksels en flieks nou makliker afgelaai en gekyk kan word.

Daar is 750 000 mense wat die afgelope drie maande om breëband-internetdienste aansoek gedoen het en sowat 50 000 lyne vir breëbandverbindings word weekliks geïnstalleer. Die internet is ook meer gewild as televisie omdat televisie- kyk passief is, terwyl die internet interaktief is en die gebruiker toelaat om inhoud te sien, maar ook om met ander te kommunikeer. Sowat 40% van mense luister na radiostasies terwyl hulle aanlyn is en 39% gebruik die breëbandverbinding om telefoonoproepe te maak, wat goedkoper is as gewone oproepe. Mandy Rossouw

Predikantsvrou spring; Volksblad, 09.08.2006

’n PREDIKANTSVROU van Kestell het vanjaar ’n buitengewone projek aangedurf om geld vir Bybels in te samel. Ds. Amos Kotze en sy vrou, Susan, het hul kinders in Julie in Engeland besoek waar Rita verder studeer en Johan werk. Die plan was dat al vier lede van die gesin vir Bybels sou valskermspring. Die NG kerk op Kestell het elke jaar ’n spesiale projek om geld vir Bybels in te samel. In 2005 het ds. Kotze, ’n duiwe-eienaar, drie van sy wedvlugduiwe vir Bybels laat vlieg. In Engeland het hy weens ’n rugoperasie wat hy gehad het, liewer nie die hoogtes aangedurf nie. Dit was sy vrou wat tot die groot stap oorgegaan het om die eerste keer in haar lewe, op 48 jaar, valskermspring aan te durf. Nee wat, sy was nie juis bang toe die vliegtuig daar op die lughawe van die Londense Valskermskool naby Oxford opstyg nie, vertel mev. Kotze. Die vliegtuig het ’n paar keer daar bo rondgesirkel totdat ’n hoogte van 10 000 voet bereik is. En toe was dit uitspringsake. Eers het die fotograaf uitgespring en toe mev. Kotze, vasgegordel aan haar instrukteur. Toe die groot oomblik van uitspring aanbreek, was sy kalm. Hoewel sy normaalweg aan hoogtevrees ly, het sy nie eens daaraan gedink nie. Sy het net geweet sy móés die sprong doen omdat sy wou, en ook omdat die gemeente daar ver op Kestell haar so positief ondersteun vir hierdie goeie saak. Die eerste 5 000 voet was ’n asemrowende vryval wat seker net ’n klompie sekondes geduur het, vertel sy. Daarna het die instrukteur die valskerm oopgemaak en het hulle stadiger na onder geval – sy skat dit was ’n paar minute om tot onder te sweef. Sy het haar verwonder aan hoe alles daar van bo af lyk en ook heeltyd gekyk of sy haar trotse gesinslede daar onder kan raaksien. “Toe ek weer sien – in ’n oogwink – was ons veilig op die grond. Dit was vinnig, alles het te vinnig verbygegaan. ’n Onvergeetlike ervaring. Die Here was vir my baie goed . . .” Ds. Kotze se tevrede kommentaar: “Ek is baie trots op haar!” Susan Maré

VRYSTÅÅÅT! ! !

Vrystaat beste plek om te woon; Volksblad, 09.08.2006
DIE Vrystaat is die aangenaamste provinsie om in te woon en die mees gesogte woonbuurt in die land om in te woon is Dan Pienaar in Bloemfontein. Kimberley in Noord-Kaap staan ook uit as een van die land se topstede om in te woon. Dit is volgens die uitslae van onlangse navorsing wat die marknavorser Ask Afrika saam met Finweek gedoen het waarin bepaal is in hoe ’n mate daar aan voorstedelike inwoners se tevredenheidbehoeftes voldoen word. “Dan Pienaar vaar konsekwent beter in die meeste kategorieë as enige van die ander voorstede wat in die opname oor lewensgehalte ingesluit is,” sê Finweek. Een van die kategorieë waar Dan Pienaar uitstaan, is die gehalte van sy skole. Die buurt se skole word as die beste in die land beskou. Die vlak van vertroue in die polisie is ook die hoogste in dié buurt. Die navorsing toon dat Monumenthoogte/Royaldene in Kimberley op twee na die veiligste voorstad is om in te woon. “Die mynstad het duidelik ook geen gebrek aan welvarende inwoners nie. Wat die gemiddelde huishoudelike inkomste betref, oorskry 30% van Kimberley se respondente se inkomste R30 000 per maand.” Saam met Waterkloof in Pretoria is dit glo op twee na die hoogste in die land. Volgens die navorsing is Dan Pienaar se aantreklikste eienskap die lae misdaadvlak en onder meer die nabyheid van sakesentrums, hospitale, winkelsentrums en skole. Dan Pienaar is boonop derde op die lys van woonbuurte met ’n sterk gemeenskapsgevoel. “Die meeste respondente het gesê hulle sal nie sommer gou uit Dan Pienaar verhuis nie, want hulle voel die voorstad bied die beste geriewe in Bloemfontein. “Die voorstad sukkel ook nie met geraas en lugbesoedeling, rommel en vandalisme nie. Die een aspek wat Dan Pienaar se inwoners meen verbeter kan word, is openbare dienslewering.” Die buurte van Bloemfontein ervaar egter volgens die navorsers die minste probleme wat water- en kragvoorsiening betref. Die Fourie-gesin het so ses maande gelede vanaf ’n ander woonbuurt na Dan Pienaar verhuis. “Die kinders kan lekker veilig hier in die straat fietsry, selfs in die aand, wat hulle nooit kon doen nie,” sê mev. Alta Fourie. Haar man, David, stem saam dat die buurt veilig en stil is. Hulle ondersteun die navorsing se bevindings dat die dienste wat gelewer word, bydra tot inwoners se tevredenheid. Jana Roos

Heartlines: Selfbeheersing

SELFBEHEERSING

Biko, Craig en Zan is op hoërskool en beste vriende. Hulle matriekjaar staan einde se kant toe. Biko vertel Craig en Zan dat dit een van sy doelwitte is om mete Lizzie te slaap voor die jaar om is. Lizzie speel die rol van die 'cool' meisie op wie almal jaloers is. Sy is ook die leier van 'n kliek wat die slagspreuk "Virging suck!" promoveer. Ayanda, aan die ander kant, is 'n hardwerkende leerder wat glo dat God 'n plan vir haar lewe het en dat die beste dinge in die lewe die moeite werd is om voor te wag.

Biko probeer om Lizzie uit te vra, maar Lizzie daag hom uit deur 'n weddenskap voor te stel: as Biko Ayanda sover kan kry om met hom te slaap dan sal sy ook. Biko begin om 'n verhouding met Ayanda aanknoop ten einde die weddenskap te wen. 'n Baie sterk en betekenisvolle verhouding ontwikkel tussen hulle. Biko word gekonfronteer met sy eie waardes en keuses in die lewe.

By 'n partytjie beland hulle alleen in 'n kamer waar hulle gesels terwyl die ander dink dat hulle seks het. Ayanda hou egter by haar beginsels, maar vind toe uit van die weddenskap. Diep teleurgesteld in Biko, verlaat sy die partytjie.

Lizzie erken dat haar grootpratery oor sex maar net 'n manier is om haar eie vrese te masker en dat sy eintlik nog 'n maagd is. Hierdie episode handel oor die druk wat jong mense in die gesig staar op die gebed van hulle seksualiteit, dwelms en selfbeeld en die negatiewe resultate van slegte keuses.

Vrae vir oordenking of bespreking:

1. Wat dink jy die 'issues' / probleme wat elkeen van die volgende karakters in hierdie episodes mee gekonfronteer word?

· Biko

· Zan

· Craig

· Lizzie

· Ayanda

2. Hoe het elkeen hierdie probleme hanteer?

3. Lewer kommentaar op hulle vermoë om hulleself te beheer in die verskillend situasies waarin hulle beland het.

4. Het enige van hulle iemand gehad wat hulle kon help om hulle probleme te konfronteer? Indien wel, wie was dit en hoe het hulle gehelp?

5. Hoe voel jy oor Lizzie en Biko se weddenskap?

6. Dink terug aan die toneel waar Zan vir Biko gaan kuier en hom kry waar hy saam met sy pa wasgoed was.

· Watter rol speel Zan se pa in sy lewe?

· Hoe beïnvloed dit die keuses was Zan maak?

· Watter rol speel Biko se pa in sy lewe?

· Hoe beïnvloed dit die keuses wat Biko maak?

Bespreek die volgende aanhalings uit die episode:

1. "You are free already to make whatever you want of you lives." (Isaiah)

2. "The world is yours. If you want something, just take it!" (Zan to Biko in die CD shop.)

3. "Things worth having are worth waiting for." (Isaiah)

Pas die lesse toe:

1. Wat is sommige van die dinge wat dit moeilik maak om selfbeheersing toe te pas?

2. En wat maak dit 'n bietjie makliker?

3. Wat is sommige van die negatiewe gevolge weens 'n gebrek aan selfbeheersing?

4. Wat is sommige van die positiewe resultate as 'n mens wel selfbeheersing toepas?

5. Hoe ontwikkel 'n mense selfbeheersing?

6. Lees volgende skrifgedeeltes en bepaal wat dit sê oor die ontwikkeling van selfbeheersing en die voordele daarvan: 1 Tim 4:7; 2 Pet 1:6; Jak 1:12; 1 Kor 9:24-26.

7. Bespreek die voordele daarvan om 'n mentor of 'n vriend te hê na wie toe jy kan gaan om die areas in jou lewe waarmee jy sukkel te bespreek.

2006-08-09

INLIG AKTUEEL 25/2006

Saamgestel deur ABID

Spyt?
GEESTELIKE WAARDES: Die Burger, 28/07/2006

PARTY sê selfvoldaan hulle sal nie langer meer sê hulle is jammer nie. Baie sê wel jammer, maar bedoel dit opsigtelik nie. Ander het dit nog nooit gesê nie, want hulle is dit ook nie. Eerder doodtevrede met wie hulle is en wat hulle doen, met van waar hulle kom en waarheen hulle gaan, en met hoe hulle aldag maak langs dié pad. Natuurlik is hul dalk oor baie dinge spyt. Maar nie berouvol nie. Want dié twee is verreweg nie dieselfde nie, sê Hendrikus Berkhof. Spyt is baie van ons, ja, sommer dikwels, oor baie dinge. Selfs hare-uit-die-kop-trek-spyt. Spyt is treur oor die gevolge van dade, oor wat dit meegebring het. Oor ons nou in die pekel is. Oor ons wens ons wás nie. Oor sake nie anders uitgedraai het nie. Oor dinge só ontwikkel het. Oor ons nie liewer meer ge-dié het en minder ge-daai het nie. Oor die dobbelstene vir ons só geval het. Ons is spyt omdat ons uitgevind is, agtergekom is, uitgevang is. Dat ons planne nie wou werk nie, dat sake skeefgeloop het, dat ons nou hier moet sit met die gebakte pere. Ons is spyt oor baie dinge, ja, maar sonder berou.
Berou is droefheid oor die daad sélf, sê hy. Dit ontstaan altyd in innige verhoudinge, waarin ons wéét ons eie mens-wees is ten diepste verweef met ander. Dit kom as ons iets doen wat dié verhoudinge verbreek, die ander leed aandoen, ons verbondenheid aan mekaar verloën, en daarmee ook ons eie mens-wees. Dis die diepe droefheid dat ons so iets kon laat gebeur, tussen ons en die ander kon laat kom, dat ons dié liefde kon prysgee ter wille van wát-ook-al. Berou beteken dat ons erken dat dit óns skuld is en onsself daarom oorgee aan die oordeel van die ander, om in hul verwonding met ons te maak wat hulle wil, wat regverdig sal wees, ons verdiende loon. Dis die slag as súlke berou stuit op onverdiende vergifnis dat ons ontdek wat genade waarlik is. Bevryding, en nuwe lewe. Toekoms, tesáme. – DJS

GODSDIENS-AKTUEEL
G’n gemaksone. Dís geleentheid; Isak Burger in Godsdiens-aktueel; Beeld, 30.07.2006
Niemand hou van krisis en teëspoed nie. Dit is natuurlik en logies om vir jou ’n veilige gemaksone te probeer skep. Die probleem met so ’n gemaksone is net dat ’n mens geneig is om die goeie as vanselfsprekend te aanvaar en dit wat eintlik genade is, as regte toe te eien. In so ’n gemaksone is ’n mens ook geneig om andere te ignoreer en te vergeet – veral as hulle minderbevoorreg as jyself is. Die kerk het oor die eeue nie hierdie tendens vrygespring nie. Trouens dit lyk amper of daar ’n historiese en tradisionele noodwendigheid in die kerk bestaan om homself te vestig, gemaklik te maak en homself daarna net in stand te hou en die lidmate gelukkig te hou. As ’n dominee of pastoor dít regkry, is die meeste lidmate tevrede. Só ’n toedrag van sake werk onvermydelik ’n gees van onbetrokkenheid, passiwiteit en louheid in die hand. Die kerk word dan ’n klub. Die Groot Opdrag van Jesus Christus en ’n passie vir ongeredde mense, bestaan nog net in teorie. In die Bybel vind jy hierdie tendens gewoonlik ná die eerste geslag. Die gemeente in Efese was maar net 43 jaar oud toe hulle van Jesus moes hoor dat hulle hul eerste liefde verloor het.
God het egter ’n manier om ’n mens (en Sy kerk) se aandag weer te kry en ons weer te laat ontwaak vir die essensiële, die basiese prioriteite. Hy laat soms toe dat ons “nes” so bietjie deurmekaar gekrap word, ons gemaksone versteur word. Nee, ek sê nie Hy is die Outeur daarvan nie, Hy laat net toe dat dit gebeur – omdat ons Sy stem nie meer hoor en dit wat vir Hom belangrik is nie meer vir ons prioriteite is nie. Kyk nou maar wat met die vroeë kerk in Jerusalem gebeur het. Die Bybel vertel dat daar in ’n stadium vervolging teen die kerk in Jerusalem uitgebreek het wat daartoe gelei het dat die kerk noodgedwonge na ander wêrelddele versprei het. Ons praat van die diaspora van die vroeë Christene. Dit het meegebring dat die Evangelie in ’n kort tyd regoor die destydse beskaafde wêreld versprei het. Hoewel dit beslis nie deel van die vroeë kerk se visie of beplanning was nie, (daarvoor was Jerusalem aanvanklik ’n veels te gemaklike en veilige hawe), was dit onbetwisbaar deel van God se agenda. Hy het die wêreld te lief gehad om die Goeie Nuus net in Jerusalem en net vir één volk in stand te hou.
In SA is ons die afgelope klompie jare ook bewus van ’n diaspora wat plaasvind – SAners wat regoor die wêreld verprei het. Sommige is weg omdat die misdaad situasie vir hulle te veel geword het. Andere (veral wit jongmense) is weg omdat hulle geen toekoms vir hulleself hier sien nie. Hulle velkleur het by voorbaat vir hulle sekere deure toegemaak. Ons wat hier agtergebly het, kan ons landgenote oorsee verkwalik en allerhande name noem. Die feit is egter dat SAners van verskillende rassegroepe oor die wêreld verstrooi is. Meer as ’n miljoen in Engeland. Trouens, mens is verwonderd om te hoor waar ons mense hulle orals bevind: Honderde boere wat met oop arms ontvang is in Afrika-lande waar wittes vroeër verdryf is. SAners wat Engelse klasse gee in Oosterse lande. SA kundiges wat deel is van internasionale maatskappye in lande waar Amerikaners nie welkom is nie. Ervare en geharde oud-weermaglede in oorloggeteisterde lande – ek hoor daar is meer as 40 000 SAners in Irak! Min van ons het nie kinders, familielede en vriende wat die laaste paar jaar uitgewyk het en deel van hierdie hedendaagse diaspora geword het nie. Vir my is die belangrikste egter dat ’n groot deel van hulle Christene is!
’n Nuwe sending-fenomeen is besig om te ontwikkel. In ’n wêreld wat klein geword het weens moderne tegnologie, waar die wêreld in die persone van miljoene immigrante (wettig en onwettig) op ons voorstoep is en waar miljoene SAners deur die wêreld verstrooi is, het die kerk ongekende nuwe sendinggeleenthede! Daar is genoeg ontwortelde, kwesbare en brose mense binne bereik van die kleinste gemeente in SA om die liefde van Christus te demonstreer en daar is genoeg Suid-Afrikaanse Christene regoor die wêreld wat moet ontwaak vir die besef dat hulle deel is van ’n Groter Agenda.

‘Daar is nie so baie mense van SA in Australië nie’; Die Burger, 03/08/2006
PORT ELIZABETH. – Daar is nie naastenby soveel SAners in Australië as wat algemeen geglo word nie.’n Geraamde 100 000 gebore SAners is deel van die Australiese bevolking, wat op die meeste 0,5% is van dié land se bevolking, het mnr. Philip Green, Australiese hoë kommissaris in SA, gesê. Dié syfer is eintlik van nóg minder betekenis as in ag geneem word dat 25% van die totale Australiese bevolking buite dié land se grense gebore is. SA is ook nie een van die belangrikste voedingslande vir migrasie na Australië nie, het Green aan die Port Elizabethse Streekkamer van Handel en Nywerheid (Percci) gesê. Altesame 25% van die Australiese bevolking wat oorsee gebore is, kom van Brittanje, altesame 9% van Nieu-Seeland, 5% van Italië en minder as 4% elk van Viëtnam, China, Griekeland, Duitsland, die Filippyne en Indië. Green het benadruk dat hoewel Australië ook ’n vaardigheidstekort het en dié land as ’n aantreklike bestemming vir mense met sekere vaardighede bemark word, vermy die Australiese regering enige stappe wat die vaardigheidsverlies in SA sal versnel. As deel van die Aussies se veldtog om werkers met sekere vaardighede te lok, is internasionale ekspo’s die afgelope ses maande in die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Nederland en Indië gehou. Green besoek vandag die Coega-nywerheidsontwikkelingsone en die Ngqura-hawe om te kyk na toekomstige beleggingsmoontlikhede vir Australiese maatskappye.

NG KERK - NUUS
K 28805: Bekende teoloog (57) sterf; Die Burger, 01.08.2006

KAAPSTAD. – ’n Gewese Kaapse predikant en afgetrede professor in teologie is Vrydagoggend in die Parklands-hospitaal in Durban dood ná ’n stryd teen kanker. Prof. Johannes Albertus (Bobby) Loubser (57), ’n voormalige hoof van die departement van Bybelstudie, en dekaan by die Universiteit van Zoeloeland, is om 06:10 in sy hospitaalbed dood. Hy was vroeër ’n NG predikant in Tamboerskloof. “Hy was ’n alsydige akademikus en het op ’n wye veld in die teologie navorsing gedoen,” het ’n oudkollega en vriend, prof. Johan de Villiers, gesê. Loubser het ’n reeks publikasies in die teologie gepubliseer en was raadslid van die SAanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy word oorleef deur sy vrou, Minnie, en hul vier kinders. Begrafnisreëlings sal later vandeesweek bekend gemaak word.

K 28818: 2 Onskuldig op leerdwaling; NG Kerk moet meer gesprek voer oor geloofsake; Beeld, 29.07.2006Twee teologiedosente van die NG Kerk wat van leerdwaling aangekla is, is gister deur ’SAn kommissie van die ring van Pretoria-Oos onskuldig bevind. Die klagtes teen proff. Jurie le Roux en Julian Müller, altwee van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, is die jongste in ‘n lang rits van soortgelyke klagtes teen verskeie predikante en teoloë van dié kerk wat van die hand gewys is. Die kommissie sê in sy uitspraak oor Müller dat die hele saak staan in die spanning tussen die kerklike tradisie of “ou, vaste waarhede” (wat die klaers verteenwoordig) en die krities-teologiese geloofsverantwoording van Müller. Die besluite van die algemene sinode oor die gesag van die Bybel en die belydenisskrifte as historiese dokumente toon dat die algemene sinode gekies het om die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg. Müller het volgens die kommissie binne die gees en letter van die sinodebesluite gebly. Die kommissie was tevrede met sy sieninge oor Jesus Christus as enigste Middelaar en oor die opstanding van Jesus. Le Roux het die kommissie ook tevrede gestel met sy verduidelikings van sy sienings oor die Goddelike inspirasie en genoegsaamheid van die Bybel, oor die opstanding en maagdelike geboorte van Jesus, oor die bestaan van Satan en die bose en oor sy siening van Messiaanse profesieë in die Ou Testament.Kommissielede het gistermiddag gesê hulle het moeite gedoen met die ondersoek en die kerk kan gerus wees oor die dosente se leer. Die kommissie meen ook die kerk behoort maniere te vind om gesprekke oor geloofsake te bevorder. Vir Müller was die uitspraak ’n groot verligting “ná ’n volle jaar van ’n swaard oor my kop”. Le Roux het gesê hy is bly en dankbaar teenoor die kommissie vir die tyd, moeite en geld wat hulle bestee het om dit ’n billike verhoor vir almal te maak. Mnr. Ferdie Mulder, teologiestudent en een van die klaers, het gesê hy gaan appelleer teen die uitsprake. Hy het ook reeds geappelleer teen ’n soortgelyke bevinding oor prof. Dirk Human, ook van Tukkies. Neels Jackson

KERK - NUUS IN BREë VERBAND
K 28813: Doppers kla 36 dominees aan oor vroue in dié ampte; Beeld, 26.07.2006
’n Groep van 36 gereformeerde predikante wat almal vroeër vanjaar ’n verklaring geteken het ten gunste daarvan dat vroue as diakens, ouderlinge en predikante kan dien, is almal by hul kerkrade aangekla. Vier lidmate van die Gereformeerde Kerk Brits-Wes het dié predikante daarvan aangekla dat hulle die vyfde en negende gebooie oortree het. Die vyfde gebod (Eer jou vader en jou moeder) gaan oor gehoorsaamheid en die negende gebod verbied valse getuienis. Die klaers meen dié gebooie het in gedrang gekom, omdat die dominees hulle nie neergelê het by wat die klaers as die korrekte interpretasie van sinodebesluite sien nie. Van die predikante met wie Beeld gister gesels het, was nie ontsteld oor die klagtes nie. Dr. Kobus van der Walt van Bloemfontein-Suid het gesê hy skrik nie vir die klag nie en dr. Jacob Pretorius van Linden het gesê hy is nie bekommerd nie. Dr. Wim Vergeer van Potchefstroom-Oos het gesê dis ironies dat daar ’n klag teen hulle ingedien word, terwyl hulle nêrens sinodebesluite verwerp het nie. Daarteenoor het die Gereformeerde Kerk Orania in Die Kerkblad bekendgemaak dat hy homself distansieer van die sinodebesluite dat die Gereformeerde Kerke in SA aansluit by die SA Raad van Kerke en deelneem aan die NG Kerk se parlementêre lessenaar. Die klaers sê egter niks oor Orania nie. Vergeer sê dit toon dat hulle die kerkreg gebruik om ’n persoonlike agenda te bevorder. Mnr. Andries Opperman, een van die klaers, het by navraag toegegee dat hy streng gesproke eintlik vir Orania ook sou moes aankla. Hy het egter gesê net die helfte van die fundering van die klag gaan oor die verwerping van sinodebesluite en die ander helfte gaan oor die saak van die vrou in die ampte. Neels Jackson

K 28802: Sendeling van DRK vas oor ‘bedrog’; Burger, 27.07.2006
KAAPSTAD. – ’n “Vermiste” sendeling van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is dié week in die selle van die polisiekantoor in Mussina opgespoor. Past. Oscar Wakandwa van die Come and See-kerk in die DRK is verlede week as vermis aangemeld nadat hy en ’n kollega, mnr. Alphonse Osthudi, vriende na die Beitbrug-grenspos in Limpopo geneem het. Hy doen reeds die afgelope paar maande sendingwerk in SA. Volgens mnr. Charl van Wyk van die Afrika-Christen-aksie (AKA) in Kaapstad is Wakandwa in hegtenis geneem nadat hy glo ’n vrou probeer help het om by die grenspos ’n permit vir haar motor te kry. “Wakandwa is, nadat hy die permit vir die polisie daar gewys het en om hulp gevra het, summier vir bedrog in hegtenis geneem.” Volgens Van Wyk het Wakandwa vroeër die week in ’n kort telefoongesprek gesê hy word iewers in Pretoria aangehou. Dir. Phuti Setati, nasionale woorvoerder van die polisie, het aan Die Burger gesê Wakandwa word in Mussina aangehou en nie in Pretoria soos hy beweer nie. “Hy is in hegtenis geneem in verband met bedrog in die huur en verhuring van voertuie. Wakandwa het Maandag reeds in die hof verskyn. “Hy sal weer vandag in die hof op Mussina verskyn,” het Setati gesê. Michelé o’Connor

K 28812: Amptenaar wat glo stene steel van kinderhuis, hou dalk pos; Beeld, 28.07.2006
’n Munisipale amptenaar wat glo haar posisie in die burgemeester van Tshwane se kantoor gebruik het om ’n skenking van bakstene vir ’n kinderhuis vir haar eie spoghuis te onderskep, kan dalk haar werk behou. Die Tshwane-metroraad moet nou oor dié saak besluit nadat die voorsittende beampte in ’n tugverhoor aanbeveel het dat me. Emily Kekana in diens van die raad bly. Beeld het in Februarie berig dat Kekana geskors is uit haar pos in die kantoor van vader Smangaliso Mkhatshwa, destydse burgemeester. Sy het steeds elke maand haar salaris gekry. ... Antoinette Slabbert

K 28799: Kerkleiers tot dwangarbeid gevonnis; Die Burger, 29.07.2006
SJANGHAI. – Vier leiers van die ondergrondse Protestantse kerk in China is gister tot twee jaar in ’n arbeidskamp gevonnis, het ’n kerkmonitorgroep gister bekend gemaak. Die vier is ’n maand gelede in hegtenis geneem en by ’n polisiestasie in Langzhong in die provinsie Sichuan aangehou. Die vier is geïdentifiseer as pastore Li Ming, Wang Yuan, Li Mingbo en Jin Jirong van die Chinese huis-kerk-alliansie, wat kerke in China verteenwoordig wat nie deur die regering erken word nie. Hulle is in hegtenis geneem toe hulle die polisie versoek het om 14 gemeentelede vry te laat wat aangekeer is tydens ’n klopjag op ’n erediens wat onwettig gehou is. Kragtens Chinese wetgewing kan vonnisse van tot drie jaar in arbeidskampe opgelê word sonder dat beskuldigdes verhoor word. Kritici sê dié wet word gereeld ingespan om godsdienstige, politieke en etniese andersdenkendes tot stilswye te dwing. China laat net kerke toe wat by die land se amptelike kerkvereniging geregistreer is. Dié vereniging word deur die land se Kommunistiese Party beheer. – Sapa-AP

K 28809: Christene beseer toe China kerk wou sloop; Die Burger, 01.08.2006
Beijing - Christen-inwoners van die provinsie Zhejiang in die ooste van China het met die polisie gebots nadat die owerhede ‘n kerkgebou wou sloop wat volgens hulle onwettig is, het ‘n menseregte groep en inwoners gister gesê. China se regerende Kommunistiese party is ateïsties maar laat godsdienste toe wat amptelik toesig aanvaar. In Xiaoshan’n bloeiende nywerheidsvoorstad van Hangzhou, die provinsiale hoofstad, woon egter baie Protestantse Christene wat staatsbeheer oor godsdiens verwerp. ... Saterdag het sowat 3 000 Christen-inwoners van die dorp Dangshan daar gebots met die polisie wat probeer het om die sloping van ‘n kerkgebou af te dwing. Die groep het gesê 20 van die inwoners is in die botsing beseer.

Virgin angels' wings clipped; News24, 03/08/2006
Johannesburg - Virgin Mobile's controversial ad about heaven will after all be axed after a group of Christians threatened to boycott the company. The television advertisement, showing a man dying and then returning from heaven to earth because he was still tied to his cellphone contract, upset some Christians deeply because they interpreted it as blasphemous.
However, the Advertising Standards Authority dismissed the objections to the ad. The result was that some furious believers starting speaking about boycotting Virgin Mobile. Dominee Hennie van Wyk of the Reformed Church in Pinetown wrote to Virgin Mobile that he had no other choice but to campaign against the company. In his personal capacity, he would ask every member of his congregation not to support Virgin Mobile. Virgin Mobile spokesperson Nicholas Maweni said on Wednesday the company was concerned about any group of people that considered such steps and that the company had not intended to cause offence. Maweni said the ad would be taken off the air, but could not say when. It could take weeks. The marketing department was already working on other advertising material, Maweni added. Neels Jackson
[Virgin los advertensie oor hemel nadat kerk kla; Beeld, 02.08.2006]

BRIEWE:
K 28815: Virgin hoort nie in ons ekonomie; Plonia Smit, Vryheid; Beeld, 26.07.2006
“Virgin Mobile se advertensie is godslasterlik. Die uitbeelding dat ’n mens nie in die hemel toegelaat word tensy jou selfoonkontrak betaal is nie, verkleineer en beledig dít waarin Christene glo. ...”

K 28814: Verwyder Virgin se advertensie! Ida Pretorius, Alberton; Beeld, 26.07.2006
“Hiermee wil ek ook my misnoeë uitspreek oor die Virgin Mobile-advertensie. Ek voel as Christen gewalg om te sien hoe dit waarin ek glo, verkleineer word. My kinders is vier en ses jaar oud, en het gevra: “Mamma, is dit God?”, en “Is dit hoe die hemel lyk?” nadat hulle gesien het hoe die wulpsheid van die engele, en die wreedheid van die “hekwagter”, in hul gesigte uitgebasuin word. Verwyder die advertensie, asseblief!”

Kla ook oor ander gemors op TV; Estelle Grobler, Pretoria; Beeld, 26.07.2006
“Met al die moord en doodslag is Virgin Mobile se advertensie vir my ’n aangename en humoristiese afleiding! Ek het dit werklik geniet en as Christen geen aanstoot geneem nie, omdat ek heeltemal oud genoeg is te verstaan dat dit net Jack se fantasie is.... Met die totale sosiale verval wat nou aan die orde van die dag is en jong kinders gewelddadig laat optree teenoor mekaar en weerlose diere, sien ek elders baie groter probleme!”

OOR KERKHERENIGING 1
Laat lidmate met vreugde verenig; Nico Botha in Godsdiens-Aktueel; Beeld, 23.07.2006
Die feit dat die leierskap van die NGK en die VGKSA onlangs besluit het om die eenwordingsproses binne drie jaar te voltooi, behoort met groot dankbaarheid begroet te word. Met wedersydse skuldbelydenisse en vergifnis en in ’n gees van versoening – so word vertel en so staan dit in die verklaring wat ná die Kempton Park-byeenkoms uitgereik is – is die nagmaal gevier. Welgedaan.Daar is ’n aantal interessanthede in die verklaring waarop ek wil ingaan in die hoop dat dit nou nie alte veel na ’n vlieëvangery sal lyk nie.
*Eerstens is daar die metafoor wat vir die eenwordingsproses aangewend word, by name ’n verbondsverbintenis. Dis uiters interessant dat daar nie weggeskram word van die gedagte van ’n verbond nie. Was dit nie juis die verbondsteologie van die NGK wat sterk deel gevorm het van die teologiese regverdiging van apartheid nie? Die gedagte aan “uitverkorenheid” en gelokaliseerdheid in Afrika en SA nie? En was daar nie vanuit die geledere van die VGKSA (voormalige NGKA en NGSK) ook maar ’n sterk beroep op die verbondsteologie in terme waarvan die onderdruktes in SA met Israel geïdentifiseer sou word nie? Miskien moet die aanwending van verbondstaal in hierdie nuwe eenwordingsproses positief soos volg verstaan word: dat die bevrydende, versoenende en genesende inhoud van ’n verbondsverbintenis pas nou gestalte kan kry. Waar die NGK en die VGKSA in swakheid en half sonder bevoorregting mekaar tegemoet kom, effentjies ontsenu deur die revolusie van 1994, stamelende op die rand van die publieke arena. Dis soms ongelooflik watter kreatiewe kragte ontketen word as die kerk skielik tot diepe nederigheid gedwing word. Ook interessant in die verklaring is om in dieselfde asem amper te sê ons is nie onder enige politieke en sosiale druk om te doen wat ons doen nie, maar terselfdertyd verstaan ons wel deeglik die politieke implikasies van wat ons beoog. Waar ’n mens soms nog groot woorde soos liefde, versoening, geregtigheid en vrede as ’n skuilbossie kan gebruik, beland ’n mens met woorde soos nie-rassigheid, inklusiwiteit en multikultureel, vierkantig in die politieke arena. En dis goed en reg so, want ’n onpolitieke kerk staan per definisie aan die kant van die maghebbers. Binne die konteks van die eenwordingsproses tussen die NGK en die VGKSA, ietwat positiewer gestel: daar is weinig ander kerke in SA wat dieselfde soort bydrae kan lewer tot ’n nuwe, verdraagsame SA nasie soos die beoogde verenigde gereformeerde kerk.
*n Ander interessantheid in die verklaring is die verbintenis tot Afrika. Dis egter jammer dat dié verbintenis onbedoeld of eintlik maar weer ’n negatiewe duiding kry. Tereg praat die verklaring van lewensgevaarlike probleme met verwysing na armoede en vigs, maar niks word gesê oor die hoopgewende elemente in die kontinent nie. Behoort die uithouvermoë van mense in Afrika, van alle kleure, onder tergende omstandighede soms, nie as uiters positief aangeteken te word nie? Vorm die oorblyfsels van menslike solidariteit en ’n sterk gemeenskapsgevoel nie die basis vir die kerk se soeke na volhoubare koinonia (gemeenskap) nie? Is die verstaan van die familie in Afrika in breë, inklusiewe terme nie ’n belangrike aanknopingspunt vir ons verstaan van die kerk as God se familie nie? Is die verskuiwing van die swaartekrag van die Christendom na Afrika nie op sigself ’n hoopgewende werklikheid nie? Al moet ons dan soms ernstige vrae stel oor die kwaliteit van die Christendom in ons kontinent?
Al bied die nuwe eenwordingsproses ’n geleentheid om op voorbeeldige manier te wys dat die dinge in die kerk tog ’n bietjie anders gedoen word as in die politiek. Byvoorbeeld, waar politieke leiers soms ernstige besluite neem wat meer te doen het met hul eie oorlewing, sonder om hul volgelinge respekvol daaroor in te lig, behoort dit in die kerk anders te verloop. Eerder as om die buit onder ’n uitgesoekte klompie te verdeel en te baai in die heerlikheid van wat bereik word, behoort ons kerkleiers binne die NGK en die VGKSA seker te maak dat ’n breë vlak van lidmate met vreugde meedoen. Ons vertrou ons kerkleiers hierin en sal bid dat die nederigheid en beskeidenheid wat blykbaar in Kempton Park teenwoordig was, hulle sal vergesel. [Prof. Nico Botha is hoof van die departement sendingkunde aan Unisa.]

OOR KERKHERENIGING 2
Engels, Engels in ons kerke? Jaap Steyn in Beeld-Forum; Beeld, 02.08.2006
Verskeie briewe het in koerante verskyn oor die voorgenome vereniging van die NG Kerk en die VG Kerk. Baie briewe is krities, en dit lyk nie of alle lidmate oorloop van entoesiasme vir die plan nie. ’n Paar het kommentaar gelewer op die naam. Volgens ’n berig met ’n kerklike woordvoerder as bron word veral één voorlopige naam “op die tong rondgerol”. Dit is die “United Reformed Presbyterian Church in Southern Africa/ Verenigde Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk in Suidelike Afrika”. Hoe ek die naam ook al “rondrol op die tong”, die smaak bly maar vrank. Waarom so ’n lang, moeilike naam, waarom Engels eerste? Dit sou ’n vergissing wees om te meen dat die naam van ’n verenigde kerk ’n ondergeskikte kwessie is. ’n Naam kan selfs ’n belangrike rol in ’n kerkskeuring speel. Dít was die geval nadat die NG Kerk en die Hervormde Kerk in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in 1885 verenig is. Dr. S.P. Engelbrecht, ’n Hervormde kerkhistorikus, skryf dat die sittings waarop die naam bespreek is, stormagtig was. G.D. Scholtz, ’n NG historikus, sê dat die eerste onderhandelings byna misluk het oor die kerknaam.Toe oor ’n voorlopige naam gestem is, het “NH of G Kerk” en “NG of H Kerk” ewe veel stemme gekry, en daar is besluit om te loot. Die twee name is op stukkies papier geskryf, in ’n hoed geplaas en ’n ouderling moes een uithaal. Dit was “NH of G”. Maar ’n paar jaar later, toe die verenigde kerk finaliteit oor ’n naam moes kry, was die verskille groot. Kort daarna was daar maar weer twee kerke: Nederduitsch Hervormd en Nederduits Hervormd of Gereformeerd. Scholtz meen dat die geskiedenis anders sou verloop het as gewag is met die vasstel van die naam.
Dit het gebeur hoewel die omstandighede vir kerkvereniging gunstig was – dalk gunstiger as tans. Die twee kerke het nooit oor belydenisskrifte verskil nie. Die lidmate het tot dieselfde volk behoort en dieselfde taal gepraat. Onderhandelinge het geskied in ’n atmosfeer van eensgesindheid ná die suksesvolle afloop van die Eerste Vryheidsoorlog. Almal het besef dat Engeland, hul erfvyand, ’n permanente bedreiging vir hul land se onafhanklikheid vorm.
As kerkmense sterk voel oor ’n saak, is skeurings moontlik. Te midde van die Duitse besetting van Nederland en verskrikkinge van die Tweede Wêreldoorlog het ’n skeuring in 1944 in die Nederlandse Gereformeerde Kerke plaasgevind. ’n Paar jaar gelede het die Nederlandse Gereformeerdes, Hervormdes en Lutherane die Protestantse Kerken van Nederland gevorm, maar ná ’n nuwe skeuring is daar nou ook “Hersteld Hervormde” gemeentes. Daar was hofsake oor kerkeiendom, soos in die 1890’s in Transvaal en ná die vereniging van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika. In een kommentaar is onlangs gepraat van die “kragtige uitwerking” wat die kerkverenigingsproses kan hê “op die bou van ’n ware reënboognasie”. Maar hopelik geskied hierdie nasiebou nie soos dié van die politieke maghebbers – naamlik deur die vooropstel van Engels – nie.
Wat ’n mens terugbring by die naam. Die NG mense was dié keer toegeefliker as voor 1885. Die “N” van die historiese “NG” is maklik prysgegee. Maar waarom kom Engels eerste? Om die verlies dieper in te vryf? Simboliseer dit dalk ’n toekomstige voorkeur vir Engels? In die lig van wat in ander instellings soos universiteite gebeur, is dit sinvol om die taalkwessie te opper. ’n Hoë kerkman het ’n tyd gelede gesê dat dit nie die kerk se taak is om ’n taal te handhaaf nie. Maar dis ook nie die kerk se taak om ’n taal te benadeel nie. Dís wat volg as enige instelling se gevestigde taal deur ’n ander taal vervang word. In die kerk se geval kan dit gebeur met sy publikasies, kerkdienste en rings- en sinodevergaderings. Dit moet ’n vreemdeling in Jerusalem wees wat meen dat die gemiddelde NG lidmaat geesdriftig is om op te gaan in ’n URPCSA/VGPKSA. Baie lidmate is reeds verbitter oor politici se oorlog teen name wat verband hou met die Afrikaner-geskiedenis. Die twee kerke moet buitensporige naamsveranderings vermy, moontlike taalgevolge ondersoek, en seker maak dit geskied nie nie ten koste van Afrikaans nie. [Jaap Steyn was professor in Afrikaans aan die Vrystaatse Universiteit.]

K 28800:
Skepping en Evolusie; alternatiewe teorieë;
Die Burger, 29.07.2006
BIED kreasionisme ’n alternatief vir die evolusieteorie? Die Britse uitgewery Ashgate het pas ’n nuwe titel in die reeks Ashgate Contemporary Thinkers on Religion gepubliseer: Brümmer on Meaning and the Christian Faith; Collected Writings of Vincent Brümmer. Ashgate, Hampshire, 2006. (Hardeband, 476 bladsye, ISBN?0 7546 4028 0.)
VINCENT BRÜMMER, oorspronklik van Stellenbosch, was voor sy aftrede in 1997 hoogleraar in godsdiensfilosofie aan die Universiteit van Utrecht in Nederland. In die meegaande vertaalde uittreksel uit sy versamelde werk besin hy oor die skeppingsleer en die evolusieteorie – ’n onderwerp wat weer nuwe aktualiteit in SA verkry het met die onlangse verskyning van Leon Rousseau se Die Groot Avontuur X Wondere van die Lewe op Aarde. ‘N UITTREKSEL, vertaal uit hoofstuk 9 van: Brümmer on Meaning and the Christian Faith; Collected Writings of Vincent Brümmer. Volledige berig beskikbaar by ngkinlig@mweb.co.za

K 28808: Die ‘Onfeilbare waarheid’:Deon Thom, George
“EK wil graag J.A.van den Heever en L.W. Retief se oproep dat ons duidelik moet onderskei tussen “wat ons weet en wat ons glo” (Brieweblad, 27/7) ter harte neem. Een struikelblok is egter sommige evolusioniste se triomfantelike sekerheid dat evolusie sonder ’n almagtige en alwyse God plaasgevind het, terwyl dit vir gelowiges duidelik is dat die skeppingsproses deur God beplan en beheer is. ...”

K 28807: Slegs as jy glo ...: Derek van Rensburg, Somerset-Wes, Die Burger, 01.08.2006
“... Ek kan nie beter vaar as om uit bogenoemde brief en die Skrif aan te haal om die sleutelrol van geloof te beklemtoon nie: Van den Heever en Retief sê: “Net soos die bestaan van ’n opperwese nie ‘bewys’ kan word nie (dit is onses insiens ook nie nodig nie), bestaan daar nog minder feitelike bewyse vir die bestaan van ’n Intelligente Ontwerper. Mense glo dit doodgewoon en daarom het dit niks met feite te doen nie.” ...”

ONS WêRELD RONDOM ONS
K 18814: XP praat gou Afrikaans; Beeld, 27.07.2006

Kaapstad. – Ná ietwat onsekere welslae met die vertaling van die gewilde Microsoft-programmatuur na Zoeloe en Tswana vroeër vanjaar, hoop Microsoft dat Suid-Afrikaanse rekenaarbedryfstelsels voorts ook in Afrikaans sal tonglosmaak. “Dis ’n belegging wat ons as maatskappy maak om ’n meer geïntegreerde deel van die Suid-Afrikaanse samelewing te wees, eerder as ’n dryfkrag vir inkomste, siende dat dit verniet afgelaai kan word,” het mnr. Jonathan Hatchuel van Microsoft SA gister gesê by die bekendstelling van die “Afrikaanse Koppelvlak-pak” (interface pack) vir Windows XP. Afrikaanssprekendes kan voorts ’n Afrikaanse “huid” om Windows XP span, wat buiten woorde onder kopiereg soos Outlook Express en Windows Explorer, Afrikaanse weergawes bied. By navraag oor die aftrek wat XP in die ander twee landstale sedert April gekry het, kon Hatchuel nie data voorsien nie. ... “As jy jou Bybel in Afrikaans kan lees, hoekom kan jy nie jou kantoorwerk daarin doen nie,” het hy gevra. In Afrikaans is Windows XP se bystand-“wizard” herdoop as “ghoeroe”, volgens prof. Gerhard van Huyssteen van Noordwes-Universiteit. “Dis juis die gewone woorde, goed soos ‘save’ en ‘print’ en ‘file’ wat almal alewig net in Engels sê . . . daai soort van ding van gewone omgangswoord wat ek dink ’n baie groot wins is,” het mnr. Tom McLachlan van Unisa gesê. .. Me. Louise Malherbe van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum het gesê die Afrikaanse programmatuur is veral goeie nuus vir opvoedingsmoontlikhede in die Wes-Kaap. Le Roux Schoeman

K 28804: Gibson vra Jode om verskoning; Die Burger, 02.08.2006
LOS ANGELES. – Die akteur Mel Gibson het gister om verskoning gevra vir die anti-Semitiese uitsprake wat hy die naweek gemaak het terwyl hy dronk was. Gibson het gevra of hy Joodse leiers kan ontmoet om sy optrede te verduidelik, maar een van die leiers het gesê hy stel nie in woorde belang nie, net in dade. “Daar is geen verskoning nie, en daar behoort ook geen geduld te wees met enigiemand wat enige anti-Semitiese uitsprake dink of maak nie,” het Gibson in ’n verklaring gesê. “Ek wil veral om verskoning vra aan lede van die Joodse gemeenskap vir die venynige en kwetsende woorde wat ek aan ’n geregsdiensaar gesê het die aand toe ek in hegtenis geneem is.” Gibson, wat in 2004 die lokettreffer The Passion of the Christ geregisseer het, is vroeg Vrydagoggend weens ’n spoedoortreding aangekeer. Hy het, na berig word, onder meer in sy woede gesê “die Jode is vir al die oorloë in die wêreld
verantwoordelik”. Die verslag van departement van die Los Angeles-sheriff, waarvan uittreksels op die webwerf TMZ.com verskyn het, is deurspek met anti-Semitiese uitsprake en vloekwoorde wat die akteur kwytgeraak het. Luidens die verslag is ’n oop bottel tequila in Gibson se motor gevind. Dit was egter sy anti-Semitisme wat die grootste protes in Hollywood ontketen het. The Passion, wat sowat $610 miljoen by die loket verdien het, het destyds kritiek ontlok omdat dit na bewering Jodehaat aanblaas, maar Gibson het wal gegooi teen die aantygings dat hy óf die fliek anti-Semities is. – Reuters

K 28803: ‘Wetgewing sal gays nie laat trou’; Die Burger, 02.08.2006
PRETORIA. – Luidens ’n studie van die Amerikaanse Institute for Marriage and Public Policy maak ’n baie klein persentasie gay mense in lande wat gay-huwelike erken, daarvan
gebruik. In Nederland, waar gay-huwelike reeds sedert 2001 wettig is, het tussen 2% en 6% van alle gays tot die groot stap oorgegaan. Ds. André Muller, van die Reformerende gemeente wat gay lidmate in Pretoria bedien, het gister gesê hy verwag nie dat duisende gays in SA sal wil trou wanneer wetgewing verander word nie. Muller steun nie gay-huwelike oor die getal mense wat daarvoor vra nie, maar ter wille van die individu wat die begeerte het om te trou. – Neels Jackson

Byna 11% van SA het MIV’; Die Burger, 03/08/2006
PRETORIA. – SA se 47,4 miljoen inwoners kan verwag om net meer as ’n halfeeu op aarde deur te bring. Dít blyk uit Statistieke SA (Stats SA) se halfjaarlikse bevolkingsverslag, wat vandeesweek bekend gestel is. Luidens die verslag is SAners se lewensverwagting by geboorte tans gemiddeld 50,7 jaar. As mans en vroue egter apart beskou word, leef mans gemiddeld 49 jaar, terwyl vroue gemiddeld 53 jaar oud word. In die Wes-Kaap is vroue se lewensverwagting egter 67 jaar, maar in KwaZulu-Natal nie eers 50 nie. In Gauteng kan mans verwag om darem die ouderdom van 54 te bereik en vroue 57.
Stats SA raam dat 5,2 miljoen SAners – of 11% van die bevolking – tans MIV-positief is. Die groep wat die ergste hierdeur geraak word, is vroue tussen die ouderdomme van 15 en 49, waar 20% MIV-positief is. Dié syfer het aansienlik gestyg van die 16,1% in 2001. Stats SA gee toe dat dit weens gebrekkige inligting moeilik is om gevolgtrekkings te maak oor migrasiepatrone, maar raam tog dat daar ’n netto-toename van 205 000 swart (“African”) mense sal wees van 2006 tot 2010. In dieselfde tydperk word die netto-afname in die aantal nieswart (non-African)-mense geraam op 48 000. Die uitwaartse migrasie van wit mense, wat in 1991 tot 1995 meer as ’n kwartmiljoen was, sal mettertyd afneem, en die immigrasie van swart mense sal voortduur, voorspel Stats SA. Suid-Afrika se bevolkingsgroei het luidens die verslag sedert 2001 stelselmatig afgeneem van 1,25% tot die huidige 1,06%. Antoinette Slabbert

Heartlines: Volharding

VOLHARDING

In hierdie program sterf Faith, haar jonger suster Nomsa en hulle jonger broer Sifiso se ma aan Vigs. Hulle moet voortaan vir hulleself sorg. Faith gaan met haar standerd een kwalifikasie Johannesburg toe om te gaan werk soek sodat sy vir haar skrander suster en broer se skoolfooie kan betaal. Soos haar naam aandui, is Faith 'n diep gelowige. Sy verloor egter byna haar geloof wanneer sy wreedaardig verkrag word. Wanneer sy 'n Chinese man, "Mr Lin" sien oefen, vra sy hom om haar te leer om te veg. Teensinnig laat hy Faith in sy winkel en in sy lewe toe. Hy dra ook sy eie pyn uit die verlede met hom saam. Hy leer Faith om nooit op te gee nie; in die proses beleef hy ook heling.

Vrae vir oordenking / bespreking:

1. Wat, dink jy, is die hoofboodskap wat hierdie episode van die reeks wil oordra?
2. Wat, dink jy, verteenwoordig die kruis-hangertjie in die volgende tonele:

· Toe Faith dit tussen haar ma se goed gevind het.
· Toe sy dit verloor toe sy verkrag word.
· Toe dit aan haar terugbesorg is na haar verkragting.
· Nadat sy haar vrese besweer het en voor sy huis toe gegaan het.

3. Wat was Faith se uitkyk op die lewe aan die begin van die episode?
4. Wat het Faith daarvan weerhou om van die balkon af te spring en selfmoord te pleeg?
5. Hoekom dink jy het Mr Lin en Faith mekaar nodig gehad?
6. Na haar verkragting was Faith te bang om die veiligheid van Mr Lin se winkel te verlaat. Wat dink jy het haar gemotiveer om wel uit die winkel te gaan om vir Mr Lin te gaan soek?
7. Wat, dink jy, het daartoe bygedra dat Faith haar vrese besweer het?
8. Hoe het Mr Lin se opmerking: "The wise turn the dark colours of sadness and pain into the most beautiful rainbow" betrekking op die tema van volharding?
9. Wat het Mr Lin laat besluit om na China toe terug te keer?
10. Dink jy dat 'n mooi reënboog sónder pyn en hartseer gemaak kan word? Gee redes.

Bespreek die volgende aanhaling uit hierdie episode:

1. "Faith is the only weapon that will defeat despair. Between the rock and the stream, the stream always wins - not through strength but through perseverance." (Isaiah)
2. " The wise turn the dark colours of sadness and pain into the most beautiful rainbow." (Mr Lin)
3. "Fall down seven, stand up eight." (Mr Lin)
4. "Life is not easy. Believe in yourself. Persevere." (Mr Lin)
5. "If God loves you so much then how come you're scrubbing floors for a living? (Hloni)

"Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie." (Heb 12:1-3)

2006-08-03

Heartlines: Vergifnis

Barend, 'n polisieman wat op roep is, drink te veel by 'n braai en word dan dringend na 'n misdaadtoneel ontbied. Op pad ry hy oor 'n rooi verkeerslig en bots met 'n ander motor. 'n Jong man in die ander motor, Matthew Colley sterf in die botsing. Vir Allan, Matthew se pa, is hierdie insident so pynlik dat hy nie kan vergewe nie.

Allan gebruik sy vaardighede en kontak 'n prokureur om geregtigheid vir sy seun te kry en begin om 'n persoonlike vendetta te voer. Soos wat die hofsaak vorder, word dit duidelik dat sy saak teen Barend te swak is. Hoe meer dit lyk of hy die hofsaak gaan verloor, hoe meer word 'n soeke na geregtigheid 'n sug na wraak. Hy begin om die ondersteuning vir sy saak te verloor en stoot ook sy kollegas weg. Sy verhouding met sy dogter Eliza ly daaronder en later ook dié met sy vrou.

Uiteindelik, desperaat en alleen, besluit hy om nie die wet in eie hande te neem nie, maar om te vergewe en daardeur bevry hy homself van bitterheid en haat ten einde sy lewe weer heel te maak.

Vrae vir oordenking / bespreking

1. Wat dink jy is die hoofboodskap van die program?

2. As wat in die storie gebeur het met jou gebeur het, met wie sou jy die meeste identifiseer?

3. Hoekom dink jy het Allan Colley (Matthew se pa) vergelding vir sy seun se dood gesoek?

4. Hoekom het Allan dit moeilik gevind om Barend te vergewe?

5. Wat het gebeur dat Eliza (die dogter) uiteindelik haar woede kon verwerk en by die punt van vergifnis kon uitkom?

6. Jimmy, die priester, speel 'n sleutelrol om Elize te help om te vergewe. Op watter maniere kan ander ons help om te vergewe? Hoe kan ons ander help om te vergewe?

7. Hoe help God ons om te vergewe?

Bespreek die volgende aanhalings uit die program:

1. "Ek is nie 'n heilige nie. Ek kan nie vergewe nie." (Eliza Colley)

2. "Hierdie hele ding is soos 'n toets. Ons kan of kies dat hierdie ou (Barend) ons lewens verwoes of ons kan kies om hom te vergewe (Eliza Colley)

3. "Om iemand te vergewe is soos om 'n gevangene vry te laat, maar om later agter te kom dat jyself die gevangene is." (Jesaja, die blomme verkoper)

Pas die waarde van vergifnis toe:

1. As jy deel is van 'n groep, vra elkeen om situasies te beskryf waar hulle in staat was om te vergewe. (Dit moet egter nie te ontblotend wees nie!)

2. Wanneer vind jy dit moeilik om te vergewe?

3. Christus leer ons om te bid: "Vergewe ons ons oortredinge, soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree ... Maar as julle nie ander hulle oortredinge vergewe nie, sal julle Vadeer ook nie julle oortredinge vergewe nie." (Matt 6:12-15). Wat leer dit ons oor die belangrikheid van vergifnis?

4. Christus leer ons in Matt 5:23-24 dat wanneer iemand iets teen ons doen, dat ons die eerste stap moet neem om die verhouding te herstel deur hom / haar te vergewe. Bespreek dit.

5. In Matt 18:21-35 vertel Jesus die storie van 'n dienskneg wie se massiewe skuld hom kwytgeskeld is maar nie die skuld van iemand anders wat hóm geskuld kwytgeskeld het nie. Jesus sê dis presies wat die Vader gaan doen met enige een wat nie onvoorwaardelik vergewe nie.