2007-01-11

Agtergrond van die Markus-evanglie

Die woord "evangelie" beteken letterlik "goeie nuus". 'n Evangelie is met ander woorde 'n berig wat 'n goeie tyding bring - en die goeie tyding is dat alles nie vir die mens verlore is nie, maar dat Jesus Christus, die Seun van God en dus ook self God, vrywillig na 'n verlore wêreld gekom het om God se koninkryk te kom vestig. Hy het geleef, geleer, gely, is uiteindelik vals beskuldig, veroordeel en - volgens die gebruik van sy tyd - wreedaardig tereggestel. Maar in sy kruisdood en opstanding uit die dood blyk Hy die Een te wees wat plaasvervangend en herskeppend alles blywend nuut kom maak het vir almal wat in Hom glo.

DIE BOODSKAP VAN DIE MARKUSEVANGELIE

Deur die verhaal wat Markus vertel, word een van die grootste waarhede van die Christelike geloof duidelik: Wie in Jesus Christus glo en Hom wil navolg, moet bereid wees om op te offer en swaar te kry. Christenskap het nog nooit die belofte ingehou van 'n lewe wat op alle terreine suksesvol en voorspoedig is nie. 'n Mens se geloof moet tot uiting kom in jou gewone menswees - en teenspoed en lyding is deel van gewone menswees in hierdie wêreld.

Wie die Markusevangelie met 'n gelowige oog lees, sal vind dat sy of haar geloof in die Verlosser van die mensdom stelselmatig verdiep. Jesus is God se Seun wat sy lewe vrywillig opgeoffer het ter wille van die mens, skryf Markus. As jy in hierdie Seun van God glo, vind jy dat verlossing te midde van jou lyding en swaarkry 'n werklikheid word en dat dit hoe langer hoe meer in jou doen en late van elke dag geopenbaar word. Uiteindelik is jy dan ook gehoorsaam aan God se roepstem om 'n dissipel van sy eniggebore Seun te wees. Om ter wille van hierdie Seun te ly en selfs bereid te wees om ter wille van sy eer te sterf, word vir jou aanvaarbaar, selfs 'n passie - juis omdat die lewe sonder lyding en swaarkry wat die Seun vir jou in bewaring hou 'n lewensdoel op sigself word.

Markus doen moeite om die mislukkings en onvermoë van Jesus se dissipels en ander volgelinge om in Hom te glo vir sy lesers te skets. Hy volg dit egter telkens op deur van Jesus se onvoorwaardelike liefde vir mense te vertel. So moedig Markus gelowige mense aan om nie te midde van hulle lyding en swaarkry moed te verloor nie, maar aan te hou om Jesus te volg - ongeag die gevolge.

DIE ONTSTAAN VAN DIE MARKUSEVANGELIE

Die naam Markus was in die eerste eeu nC 'n algemene naam. Daar kan dus nie met sekerheid gesê word presies watter Markus die skrywer van hierdie evangelie was nie. Hoewel daar baie Markus-verwysings in die Nuwe Testament voorkom, het die navorsing van die afgelope paar dekades aangetoon dat dit onwaarskynlik is dat die Markus wat Paulus geken het die skrywer van die Evangelie was. Wat ons wel uit die Evangelie self kan aflei, is dat die skrywer 'n Joodse Christen was en dat sy moedertaal nie Grieks was nie.

Uit Markus se vertelling van die Jesusverhaal is dit ook duidelik dat die Markusevangelie die oudste van die evangelies is. Dit is ongeveer 35 tot 40 jaar ná Jesus se kruisdood geskryf. Markus het ruim van die mondelinge vertellings aangaande die lewe van en die gebeure rondom die persoon van Jesus Christus gebruik gemaak. Hy het hierdie vertellings - en moontlik ook inligting wat hy uit enkele kleiner geskrifte van sy tyd verkry het - verwerk en saamgevoeg in 'n uiters boeiende werk wat vertel van die lyding van God se Seun ter wille van mense. Later was die Markusevangelie op sy beurt een van Matteus en Lukas se bronne vir hulle weergawes van die Jesusverhaal.

DIE SAMESTELLING VAN DIE MARKUSEVANGELIE

Anders as Matteus en Lukas vertel Markus nie die geskiedenis van Jesus se geboorte en grootwordjare nie. Die feite was immers aan die Christene van die eerste eeu bekend. Markus se verhaal begin by Johannes die Doper (1:1-13) en volg Jesus waar sy bediening in Galilea in volle gang is (1:14-8:30). Wanneer Jesus sy eie dood en opstanding herhaaldelik aankondig (8:31-9:50), bereik Markus se vertelling 'n keerpunt: Die dissipels se onvermoë om Jesus as God se Seun te herken, neem toe, terwyl Hy doelgerig die pad na die kruis begin stap (10:1-13:37). Hoe Hy sy dissipels langs hierdie pad leer maar oënskynlik met min sukses, is opvallend. Sy lyding, kruisdood en opstanding (14:1-16:20) vorm die hoogtepunt van die verhaal. Die dissipels se onvermoë om Jesus te sien vir wie Hy werklik is, spoor Markus se lesers aan om Hom na te volg as die Messias - die langverwagte Een, Verlosser van die ganse mensdom.

Lees in hierdie Kerstyd, regdeur die seisoen van Epifanie en aan die begin van die Lydenstyd die Markusevangelie deur die bril van Markus se eerste lesers, die Christene van die eerste eeu. Moenie toelaat dat sy eerste eeuse dissipels se blindheid jou verwar nie. Sien Hom en dien Hom as Jesus Christus, die Seun van God - jou Verlosser.

Jaco van Niekerk
Woordwyser

Bedieninge

Hieronder is ‘n lys van bedieninge in die gemeente. By die meeste bedieninge is daar nog heelwat hulp nodig. Skakel gerus met die betrokke kontakpersoon en meld aan vir diens!

Wyksbediening

Ons wil graag in die gemeente ‘n hegte geloofsgemeenskap vorm wat mekaar ken, ondersteun en versorg. Die kleinste eenheid is ‘n wyk en ons eerste en belangrikste doel is om hierdie gemeenskap binne wyksverband te vestig. Dit is hoofsaaklik die taak van die wyksouderling en -diaken, bygestaan deur dienswerkers. Daar is nog ‘n paar wyke wat of nie ‘n ouderling of nie ‘n diaken het nie.

Kontakpersoon: Johan Smit (0126644335) jsmit@lytteltonoos.org.za

Kinderbediening

Elke Sondag om 09:00 vind daar drie kindereredienste plaas: vir die voorskoolse groep, vir die Gr 1-3's en vir die Gr 4-6'e. Daarna verdeel hulle in kategesegroepe. Verleen hulp met enige een van hierdie twee aktiwiteite.

Kontakpersoon: Petro Dalhouzie 082-326-1911

Tienerbediening

Wees 'n mentor vir 'n groep kinders Gr 7 – 10, help met die reëling van 'n koffiekroeg elke Sondagaand, of speel 'n instrument of sing in die jeugorkes.

Kontakpersoon: Petro Dalhouzie 082-326-1911

Erediensbediening

Die viering van die kerklike jaar as geleentheid vir geloofsgroei neem ‘n baie belangrike plek in ons gemeente in. Om die viering van die verskillende kerkjaartye te beplan en om die kerkgebou sinvol en smaakvol in te rig sodat die boodskap van die betrokke kerkjaartyd effektief oorgedra word deur middel van simboliek en kuns, het ons heelwat entoesiastiese en vaardige mense nodig.

Kontakpersoon: Freddie Schoeman (012-664-3751)

Inligtingstafel

Die inligtingstafel is die plek waar gemeentelede gaan om inligting oor die gemeente en die gemeente se aktiwiteite te bekom, in te skryf vir geleenthede of aankope te doen. Help om op Sondagoggende die inligtingstafel te bedryf.

Kontakpersoon: Alida Marais (082 412 6650) alida@universiteitsoord.co.za

Helpmekaarbediening

Het jy 'n besondere vaardigheid of talent waarmee jy dalk by geleentheid 'n ander gemeentelid mee kan help? Gee jou naam op by die inligtingstafel op 'n Sondagoggend tussen die twee eredienste. Het jy dalk hulp nodig? Gaan kyk op die lys op die kennisgewingbord in die ingangsportaal van die saal – net dalk is daar iemand wat jou uit 'n verknorsing kan red!

Kontakpersoon: Alida Marais (082 412 6650)

Projeksiebediening

Die projeksiebediening is ‘n integrale deel van die erediensbediening en is verantwoordelik daarvoor om tydens elke erediens die projeksie (m.a.w. dit wat teen die muur langs die preekstoel vertoon word) te hanteer.

Kontakpersoon: Willie Potgieter (082-908-3424) williep@vodamail.co.za

Klub Immergroen

Dit ons aksie wat op die senior lidmate in ons gemeente gerig is. Hulle bied op ‘n gereelde basis ‘n oggendtee aan en bring besoeke aan bejaardes en help met versorging waar moontlik.

Kontakpersoon: Gerty Basson (012-664-2433) g.basson@mweb.co.za

Tee-bediening

Elke Sondag word daar tussen die twee eredienste by die luik by die gemeentesentrum tee beskikbaar gestel sodat die gemeente heerlik rondom ‘n koppie tee kan staan en gesels. Meld aan vir 'n beurt om hiermee te help.

Kontakpersoon: Christa Saunders (012-664-3037)

Begrafnisbediening

Help om die bedroefde familie by te staan deur tee en eetgoed voor te berei en te bedien tydens begrafnisse.

Kontakpersoon: Ria Maree (012-664-3364)

Vroue-bediening

Hierdie bediening fokus op die behoeftes van ons vroue-lidmate. Gereelde byeenkomste en ander geleenthede word gereël.

Kontakpersoon: Antoinette van Rensburg (012-664-2481)

Herout

Die gemeente se maandelikse nuusbrief wat jy nou in jou hand hou kort 'n redaksie! Help om artikels te skryf, nuus in te samel en bladuitleg te doen.

Kontakpersoon: Freddie Schoeman (012-664-3751) of Max Amsenga (012-664-3629)

Gebedsbediening

Hierdie groep se taak is om die gemeente te mobiliseer om voorbidding te doen vir die gemeente en vir die koms van God se koninkryk op aarde.

Kontakpersoon: Hannelie du Preez (082-908-3992) hdupreez@momentum.co.za

Nuwe Intrekkerbediening

Ons wil graag alle nuwe intrekkers in ons gemeente so gou as moontlik deel van ons maak en hulle help om in te skakel.

Kontakpersoon: Carine Blignaut (012-664-3899)

Gemeenskapsveiligheid

Ons wil graag Lyttelton-Oos 'n misdaadvrye gebeid maak en so 'n diens lewer aan die gemeenskap waarin die Here ons geplaas het. Daarom het ons inisiatief geneem om 'n Gemeenskapsveiligheidkomitee op die been te bring waarby gemeentelede en ander inwoners in ons gemeenskap betrokke is.

Kontakpersone:
Pierre Hugo (082 957 5324)
Jaco van As (079 197 6267) jmva@lantic.net

Gesinsbediening

Gesinne, hetsy getroudes met of sonder kinders, enkellopendes of enkelouers, gaan hierdie jaar 'n belangrike fokuspunt in ons gemeente wees. Hierdie bediening kort nog 'n leierskap, struktuur en program. Help om dit te ontwikkel!

Kontakpersoon: Freddie Schoeman (012-664-3751) lyttoos@mweb.co.za

Webbladbediening

Ons gemeente se webblad word al hoe meer besoek en is besig om 'n belangrike bron van inligting en interaksie te word. Dit word in stand gehou deur Nico Fourie maar dit sal help as 'n paar persone verantwoordelikheid kan neem om verskillende gedeeltes van die webblad op datum te hou.

Kontakpersoon: Nico Fourie (0837810353)

Aksie Arbeiders vir die Oes

Hierdie onafhanklike aksie waarby ons gemeente betrokke is, is besig met talle projekte en bedieninge. Hulle bedryf die koffiekroeg op die hoek van Schoeman en Beatrix in Sunnyside, asook 'n "shelter" vir straatkinders in Salvokop. Verder het hulle ook gereelde uitreike na Lepele gemeente en ander Afrika lande. Vir meer besonderhede, besoek hulle webwerf by http://www.alharvest.co.za/

Eiendomskommissie

Hierdie bediening is verantwoordelik vir instandhouding van ons geboue, terreine en toerusting.

Kontakpersoon: Johan Bauer (0126642230) bauer@triconet.co.za

Siekesorg

Help om 'n siekesorgbediening op die been te bring! Die visie is om 'n groep mense te mobiliseer om siekes in die gemeente tuis en in die hospitaal te besoek en die gesin by te staan op praktiese maniere.

Kontakpersoon: Freddie Schoeman (0126643751) lyttoos@mweb.co.za



Dink jy dat daar dalk 'n leemte in die gemeente se bedieningsopset is? Of lê die Here 'n saak op jou hart wat nie deur een van die huidige bedieninge ondervang word nie? Of het jy 'n voorstel om te maak wat die gehalte van dienslewering in die gemeente kan verbeter? Skakel dan gerus met Freddie Schoeman (012-664-3751).

Die verskuilde voordeel van dienslewering

Die legende lui dat daar ‘n stam in Indië was wat die alledaagse taak van goederevervoer te voet tot ‘n fyn kuns vervolmaak het. Die vrouens het goedere vervoer deur dit op hulle koppe te balanseer en die mans deur die goedere op hulle skouers te balanseer deur die vrag aan beide kante van ‘n stuk bamboes vas te maak. Wanneer ‘n baba gebore is, is daar nie gevra of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is nie, maar: is die baba ‘n kop-draer of ‘n skouer-draer?

Toe ‘n sendeling in die gebied by geleentheid iemand nodig gehad het om van sy goed te vervoer het een van die lede van hierdie stam ingewillig om dit te doen. Daar was net een probleem: die sendeling se goed was alles in net een sak en daar was nie ‘n ander sak beskikbaar nie. Die stamlid het die probleem opgelos deur ‘n klip te vind wat dieselfde geweeg as die sak en dit toe aan die ander kan van die stuk bamboes vas te maak! Dit was vir hom makliker om ‘n bykomende stuk gewig te dra as wat dit was om die oorspronklike sak alleen te dra.

Ons het almal ons eie laste wat ons moet dra deur die lewe: ons eie verantwoordelikhede en pligte wat op ons skouers rus. Maar die Here het ons so geskape dat ons baie makliker ons eie las dra wanneer ons ‘n bykomende las ook op ons neem. Wanneer ons dus saamstaan en saamwerk en mekaar se laste dra of ‘n las ten opsigte van dienswerk in die gemeente op ons neem, is ons eie las soveel makliker om te dra. Maar dis wanneer ons alleen probeer voortsukkel, dat ons las dalk op die lang duur te swaar vir ons mag raak …

2007-01-09

Beeld

Yolanda Dreyer se godsdiens-aktueel artikel in Maandag se Beeld handel oor hoe moeilik vergifnis is.

En dan is daar die oënskynlik gewone, “ordentlike” mense wat in die winkels loop en in die kerk sit.

Die broers, ooms, neefs, oupas, familievriende en selfs pa’s wat meisiekinders molesteer, verkrag.

Pyn wat nooit end kry nie. Vuil voel. Onwaardig. Dit sal net stop as die lewe self ophou. Selfmoordpogings. Probeer beheer kry oor die pyn. Kry dit uit. Gooi dit op (bulimie). Sny jou liggaam met ’n mes, want buitepyn gaan weg.

Binnepyn nie.

My ma en ek praat oor hierdie jong vroue. Ma sê: “En dan moet hulle net nie kom met vergewe nie!”

Maar hulle kom met vergewe.

Dominees en Christelike be-raders, welmenende Christen-vriende.

70 maal sewe. Jesus het gesê.

’n Pragtige jong vrou se familie huisves ’n molesteerder wat haar as kind geterroriseer het en nou nog probeer. Die familie kyk anderpad as dit kom by dié misdaad.

Die slagoffer moet vergewe.

Sy is mos ’n Christen!