2007-01-11

Die verskuilde voordeel van dienslewering

Die legende lui dat daar ‘n stam in Indië was wat die alledaagse taak van goederevervoer te voet tot ‘n fyn kuns vervolmaak het. Die vrouens het goedere vervoer deur dit op hulle koppe te balanseer en die mans deur die goedere op hulle skouers te balanseer deur die vrag aan beide kante van ‘n stuk bamboes vas te maak. Wanneer ‘n baba gebore is, is daar nie gevra of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is nie, maar: is die baba ‘n kop-draer of ‘n skouer-draer?

Toe ‘n sendeling in die gebied by geleentheid iemand nodig gehad het om van sy goed te vervoer het een van die lede van hierdie stam ingewillig om dit te doen. Daar was net een probleem: die sendeling se goed was alles in net een sak en daar was nie ‘n ander sak beskikbaar nie. Die stamlid het die probleem opgelos deur ‘n klip te vind wat dieselfde geweeg as die sak en dit toe aan die ander kan van die stuk bamboes vas te maak! Dit was vir hom makliker om ‘n bykomende stuk gewig te dra as wat dit was om die oorspronklike sak alleen te dra.

Ons het almal ons eie laste wat ons moet dra deur die lewe: ons eie verantwoordelikhede en pligte wat op ons skouers rus. Maar die Here het ons so geskape dat ons baie makliker ons eie las dra wanneer ons ‘n bykomende las ook op ons neem. Wanneer ons dus saamstaan en saamwerk en mekaar se laste dra of ‘n las ten opsigte van dienswerk in die gemeente op ons neem, is ons eie las soveel makliker om te dra. Maar dis wanneer ons alleen probeer voortsukkel, dat ons las dalk op die lang duur te swaar vir ons mag raak …

No comments: