2007-01-11

Agtergrond van die Markus-evanglie

Die woord "evangelie" beteken letterlik "goeie nuus". 'n Evangelie is met ander woorde 'n berig wat 'n goeie tyding bring - en die goeie tyding is dat alles nie vir die mens verlore is nie, maar dat Jesus Christus, die Seun van God en dus ook self God, vrywillig na 'n verlore wêreld gekom het om God se koninkryk te kom vestig. Hy het geleef, geleer, gely, is uiteindelik vals beskuldig, veroordeel en - volgens die gebruik van sy tyd - wreedaardig tereggestel. Maar in sy kruisdood en opstanding uit die dood blyk Hy die Een te wees wat plaasvervangend en herskeppend alles blywend nuut kom maak het vir almal wat in Hom glo.

DIE BOODSKAP VAN DIE MARKUSEVANGELIE

Deur die verhaal wat Markus vertel, word een van die grootste waarhede van die Christelike geloof duidelik: Wie in Jesus Christus glo en Hom wil navolg, moet bereid wees om op te offer en swaar te kry. Christenskap het nog nooit die belofte ingehou van 'n lewe wat op alle terreine suksesvol en voorspoedig is nie. 'n Mens se geloof moet tot uiting kom in jou gewone menswees - en teenspoed en lyding is deel van gewone menswees in hierdie wêreld.

Wie die Markusevangelie met 'n gelowige oog lees, sal vind dat sy of haar geloof in die Verlosser van die mensdom stelselmatig verdiep. Jesus is God se Seun wat sy lewe vrywillig opgeoffer het ter wille van die mens, skryf Markus. As jy in hierdie Seun van God glo, vind jy dat verlossing te midde van jou lyding en swaarkry 'n werklikheid word en dat dit hoe langer hoe meer in jou doen en late van elke dag geopenbaar word. Uiteindelik is jy dan ook gehoorsaam aan God se roepstem om 'n dissipel van sy eniggebore Seun te wees. Om ter wille van hierdie Seun te ly en selfs bereid te wees om ter wille van sy eer te sterf, word vir jou aanvaarbaar, selfs 'n passie - juis omdat die lewe sonder lyding en swaarkry wat die Seun vir jou in bewaring hou 'n lewensdoel op sigself word.

Markus doen moeite om die mislukkings en onvermoë van Jesus se dissipels en ander volgelinge om in Hom te glo vir sy lesers te skets. Hy volg dit egter telkens op deur van Jesus se onvoorwaardelike liefde vir mense te vertel. So moedig Markus gelowige mense aan om nie te midde van hulle lyding en swaarkry moed te verloor nie, maar aan te hou om Jesus te volg - ongeag die gevolge.

DIE ONTSTAAN VAN DIE MARKUSEVANGELIE

Die naam Markus was in die eerste eeu nC 'n algemene naam. Daar kan dus nie met sekerheid gesê word presies watter Markus die skrywer van hierdie evangelie was nie. Hoewel daar baie Markus-verwysings in die Nuwe Testament voorkom, het die navorsing van die afgelope paar dekades aangetoon dat dit onwaarskynlik is dat die Markus wat Paulus geken het die skrywer van die Evangelie was. Wat ons wel uit die Evangelie self kan aflei, is dat die skrywer 'n Joodse Christen was en dat sy moedertaal nie Grieks was nie.

Uit Markus se vertelling van die Jesusverhaal is dit ook duidelik dat die Markusevangelie die oudste van die evangelies is. Dit is ongeveer 35 tot 40 jaar ná Jesus se kruisdood geskryf. Markus het ruim van die mondelinge vertellings aangaande die lewe van en die gebeure rondom die persoon van Jesus Christus gebruik gemaak. Hy het hierdie vertellings - en moontlik ook inligting wat hy uit enkele kleiner geskrifte van sy tyd verkry het - verwerk en saamgevoeg in 'n uiters boeiende werk wat vertel van die lyding van God se Seun ter wille van mense. Later was die Markusevangelie op sy beurt een van Matteus en Lukas se bronne vir hulle weergawes van die Jesusverhaal.

DIE SAMESTELLING VAN DIE MARKUSEVANGELIE

Anders as Matteus en Lukas vertel Markus nie die geskiedenis van Jesus se geboorte en grootwordjare nie. Die feite was immers aan die Christene van die eerste eeu bekend. Markus se verhaal begin by Johannes die Doper (1:1-13) en volg Jesus waar sy bediening in Galilea in volle gang is (1:14-8:30). Wanneer Jesus sy eie dood en opstanding herhaaldelik aankondig (8:31-9:50), bereik Markus se vertelling 'n keerpunt: Die dissipels se onvermoë om Jesus as God se Seun te herken, neem toe, terwyl Hy doelgerig die pad na die kruis begin stap (10:1-13:37). Hoe Hy sy dissipels langs hierdie pad leer maar oënskynlik met min sukses, is opvallend. Sy lyding, kruisdood en opstanding (14:1-16:20) vorm die hoogtepunt van die verhaal. Die dissipels se onvermoë om Jesus te sien vir wie Hy werklik is, spoor Markus se lesers aan om Hom na te volg as die Messias - die langverwagte Een, Verlosser van die ganse mensdom.

Lees in hierdie Kerstyd, regdeur die seisoen van Epifanie en aan die begin van die Lydenstyd die Markusevangelie deur die bril van Markus se eerste lesers, die Christene van die eerste eeu. Moenie toelaat dat sy eerste eeuse dissipels se blindheid jou verwar nie. Sien Hom en dien Hom as Jesus Christus, die Seun van God - jou Verlosser.

Jaco van Niekerk
Woordwyser

No comments: