2007-02-09

Hoe lees 'n mens 'n verhaal?

Om ‘n verhaal te lees is om op reis te gaan. Jy word verplaas uit jou bekende omgewing en in ‘n onbekende situasie – die verhaalwêreld – geplaas. In hierdie situasie beleef jy sekere wedervaringe, ontmoet jy sekere persone en word jy gedwing om jou weg in hierdie vreemde situasie te vind. Die belewenissie in hierdie ander wêreld moet noodwendig ‘n bepaalde indruk op jou laat. Dit kan jou menswees verryk, jou tot nuwe insigte bring en die sin van jou bestaan beter laat verstaan. Dit kan ook nuwe lewensmoontlikhede vir jou oopbreek.

Verhaalskrywers skep ‘n verhaalwêreld en die leser word uitgenooi om vir ‘n wyle in daardie verhaalwêreld te vertoef en saam met die karakters hulle wedervaringe mee te maak. Ons word uitgenooi om mee te leef met die verhaal wat vertel word. Sodoende doen ons waardevolle lewenservaring op. Om vir ‘n maand in Londen te gaan bly of deur Europa te reis is dieselfde as om vir drie dae vasgevang te wees in die wêreld van ‘n verhaal!

Daarom is verhale juis een van die maniere waarop ons leer oor die lewe. Want om te lewe, is ‘n kuns – dit verg ‘n soort vaardigheid. Nie almal beskik in ‘n ewe groot mate oor hierdie vaardigheid nie. Maar deur verhale te lees, leer ons lewenskuns en lewensinsig aan. Verhale leer ons byvoorbeeld dat sekere optredes sekere gevolge het en dat sommige soort mense in bepaalde soort situasies op sekere maniere optree. So leer ons dan ook die mens en mens-wees ken.

Sekere verhale laat ons nadink oor die sin van ons bestaan. Waneer ons byvoorbeeld saam met ‘n karakter in die verhaal sy stryd en worsteling meemaak, dieselfde vrae vra as sy, die lewe vanuit haar perspektief beskou en saam met haar bly is, gefrustreerd en kwaad raak, dan noop dit ons om weer te besin oor die betekenis van ons eie lewe en strewe waneer ons terugkeer uit die verhaalwêreld na ons eie wêreld.

Deur die jare het sommige verhale klassieke werke geraak. Dit is deur die breë leespubliek erken as verhale wat ware lewensinsig bevat en bevorder. Sulke werke het deel van die literêre kanon van die wêreld geword. Dit word weer en weer gelees en geslag na geslag put wysheid daaruit. Dink hier bv. aan die werke van Proust, Shakespeare, Dickens, Dostojevsky, Tolstoy, Hemmingway ens. ‘n Kern-deel van hierdie literêre kanon van die wêreld is die verhale van die Bybel. Dit sal ons baat om ‘n goeie studie van hierdie verhale en hoe hulle aanmekaar gesit is en hoe hulle kommunikeer te maak.

*********
Hoe beïnvloed ‘n verhaal die leser?

Hoe verkry ‘n verhaal ‘n effek op die leser? Hoe kry verhale dit reg om die leser lewensinsig te laat bekom? Dit is die taak van die verhaalkunde (narratologie) om die maniere waarop verhale betekenis aan die lewe gee (en ook waarom sekere verhale dit juis nie doen nie!), te ondersoek. Wat hier volg is ‘n uiteensetting van hoe spesifiek Bybelse verhale die leser beïnvloed en die vertelstrategieë waarvan die Bybelskrywers gebruik gemaak het.

Eenvoudig gestel: ‘n verhaalskrywer skep sy verhaalwêreld deur ‘n reeks gebeure en bepaalde fisiese omgewings te verbeeld en dit dan te bevolk met bepaalde persone (karakters). Hy laat hierdie persone, dink, praat en optree. In die gebeure wat plaasvind in die verhaal het hulle soms ‘n aktiewe en in andersins ‘n passiewe rol. Hulle laat sommige dinge gebeur en ander gebeurtenisse val hulle te beurt. Hulle het sekere motiewe, begeertes en emosies wat weer op hulle beurt invloed uitoefen op die gebeurtenisse in die verhaal.

Die manier waarop ‘n leser in die verhaalwêreld woon is deur middel van sy verbeeldingskrag. Hierdie verbeeldingskrag word geaktiveer deurdat die leser die verhaal lees. Deur te lees, vou die verhaal voor die leser oop. Om te lees is om ‘n verhaal te ontvou. ‘n Leser lees ‘n verhaal reël vir reël. Stelselmatig bou die leser in sy gedagtes ‘n beeld van die verhaalwêreld. Dit is ‘n proses waardeur aangepaste verwagtings en veranderde herinnerings mekaar voortdurend afwissel. Soos wat die leser lees ontstaan sekere verwagtings; sommige van hierdie verwagtings word vervul en ander nie. Stelselmatig word die prentjie voltooi – soos ‘n legkaart. Saam met die karakters wonder die leser wat volgende gaan gebeur en probeer hy sin maak uit die gebeure soos dit aangebied word in die teks. Verder probeer hy ook die karakters se motiewe en beweegredes verstaan. Die leser vra voortdurend vrae aan die teks: Wat gaan volgende gebeur? Hoekom doen hy dit? Is dit nie dalk om hierdie of daardie rede nie? Hoekom reageer sy nie soos ek verwag het nie? ens.

Hierdie inlewing in die verhaalwêreld laat die leser nie onaangeraak nie. Die effek wat ‘n verhaal op ‘n leser het (of wat ‘n goeie kunswerk op die waarnemer het), noem ons ‘n estetiese effek. Dit is hierdie effek wat ‘n leser, nadat hy teruggekeer het na sy eie wêreld, dit op ‘n nuwe manier laat sien. Nuwe kennis, nuwe insigte, nuwe perspektiewe word opgedoen deur die estetiese effek wat verkry word deur die lees van ‘n verhaal. Nuwe lewensmoontlikhede word vir ons oopgebreek; nuwe maniere van in-die-wêreld-wees.

‘n Verhaal is as’t ware ‘n argiteksmodel. Voordat ‘n gebou of ‘n kompleks gebou word en nadat dit ontwerp is, word ‘n argiteksmodel gebou om aan te toon hoe dit lyk. Mense kan dan daarna kyk (en in hulle verbeelding daarin woon) en besluit of hulle daarvan hou of nie. ‘n Argiteksmodel is ‘n moontlike werklikheid. ‘n Verhaal bied ook ‘n moontlike werklikheid; ‘n moontlike manier van in-die wêreld-wees. ‘n Verteller nooi die leser uit om te kyk of hierdie moontlike werklikheid hom/haar geval of nie.

Anders gesê: ‘n verhaal is ‘n virtuele werklikheid. Virtueel beteken dat iets as werklikheid ervaar word sonder dat dit in werklikheid bestaan. Met rekenaartegnologie is dat vandag moontlik om ‘n ontwerpte gebou lewensgroot elektronies weer te gee sodat die waarnemer as’t ware daarin kan rondbeweeg. In die virtuele werklikheid van ‘n verhaal beleef die leser die “werklikhede” van die verhaal-gegewe. Hierdie belewenisse word deel van sy/haar verwysingsraamwerk en ervaringsveld en so word sy/haar lewe verryk.

‘n Verhaal besit die potensiaal om ‘n lewensveranderende effek op die lesere te hê. Dit is inderdaad ook die einddoel van baie verhale – en baie beslis ook die doel van die verhale van die Bybel. Daarom beskryf die filosoof Paul Ricoer verhale as “gevaarlik”.

Die doel van die verhale van die Bybel

Hoekom is spesifiek verhale gebruik? As ons van die standpunt uitgaan dat die skrywers van die verhale van die Bybel iets belangrik aan hulle lesers wou oordra dan is juis dit ‘n belangrike vraag om te vra. Daar is immers ook ander maniere waarop hulle dit wat hulle wou sê kon oordra. Paulus het byvoorbeeld gekies om nie verhale te gebruik nie maar redevoering en argumentasie. Die skrywers van Prediker en Spreuke het gekies om wysheidgeskrifte te skryf. Byna ‘n derde van die materiaal in die Bybel bestaan uit verhale. Daar moet ‘n goeie rede daarvoor wees.

Die rede hiervoor, en die antwoord op die vraag, is geleë in die eie aard van verhale. Die verhale van die Bybel is literêre kunswerke. ‘n Kunswerk het ‘n taal van sy eie en kommunikeer op ‘n eiesoortige manier. ‘n Literêre kunswerk het dus eintlik twee taalsisteme, nl. die verbaal-gramatiese (primêr) en die kuns-taalsisteem (sekondêr).

Daarom kan ‘n literêre kunswerk baie meer – asook andersoortige - inligting dra as ander literatuursoorte. Die andersoortige inligting is die sg. “fronetiese” inligting. Die woord froneties kom van die Griekse woord phronesis, wat o.a. “insig” beteken. Insig-inligting of –kennis is iets anders (of meer) as byvoorbeeld gewone inligting wat die taal van die wetenskap oordra. Die taal van die wetenskap is beskrywend van aard. Dit probeer ‘n objek so duidelik as moontlik beskryf. Daarom sal ‘n wetenskaplike dubbelsinnigheid in sy taalgebruik sover moontlik vermy. Daarenteen sal die skrywer van ‘n literêre werk (gedigte sowel as verhale) juis die dubbelsinnigheid van taal inspan en dit op ‘n kreatiewe manier gebruik.

Om die doel van Bybelse verhale te verstaan moet ons dit binne ‘n bepaalde kommunikasie-raamwerk plaas. Bybelse verhale wil inderdaad ‘n bepaalde effek op die leser uitoefen. Dit wil ‘n bepaalde boodskap op ‘n bepaalde manier oordra. Die manier van oordrag hou verband met die aard van die boodskap. Die skrywers van die verhale van die Bybel wil nie net blote feitelike kennis oordra nie. Hulle wil ook mense se lewens verander deur middel van die oordra van wysheid en insig (fronetiese kennis) wat nie deur middel van beskrywende taal of argumentasie-taal oorgedra kan word nie.

Paulus se doel is ook transformasie. Maar hy bereik sy doel deur die denke van mense te probeer verander – om mense anders te laat dink. Sy invalspoort is derhalwe die denke van mense. Verhale se invalspoort is die ervaring van die mens. Deur middel van ervaring wil ‘n verhaal sy eiesoortige inligting – nl. fronetese kennis – oordra.

No comments: