2006-08-18

INLIG AKTUEEL 26/2006

Saamgestel deur ABID

4 - 10 AUGUSTUS 2006

NG KERK - NUUS

BRIEF, 10 Augustus: Hereniging is die belangrikste; Die Burger, 10/08/2006

ONS verwys na die briefskrywer Vra maar net (Brieweblad, 1/8) [sien hieronder] se versoek vir opheldering oor vergoedingspariteit vir leraars binne ’n toekomstige herenigde VGK en NGK. Vir albei kerke is die beginsel van kerkhereniging as Bybelse gegewe die belangrikste uitgangspunt: “.. . . .dat hulle een mag wees. . . . sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het,” het Jesus gebid (Johannes 17:21). Die vergoeding van leraars is ’n belangrike bysaak wat op die pad na eenheid onderhandel sal word. As die proses van hereniging van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika, meer as tien jaar gelede, as voorbeeld kan dien: Daar is tans nog groot verskille in die vergoeding van Afrikaans- en Xhosasprekende leraars binne die VGK.

Die proses na pariteit en onderhandelinge daaroor hang saam met bekostigbaarheid. En bekostigbaarheid is afhanklik van lidmate se gehoorsaamheid aan die Here in hul offervaardigheid en die mate waarin ons verantwoordelike rentmeesters (bestuurders) is van alles wat aan ons toevertrou is. Daarmee saam is die beginsel dat gemeentes mekaar sover moontlik probeer help. Die Bybel maak dit duidelik (2 Korintiërs 8 en 9) dat Christene wat meer het, veronderstel is om medegelowiges wat minder het, te help. Sulke hulp word vrywillig gegee en berus op die oordeel van ’n gemeente of gelowige. Ons neem aan dat die herenigde kerk seker ook hierdie beginsel sal aanvaar.

By die NGK is dit so dat die algemene sinode jaarliks ’n (nie-bindende) aanbeveling maak oor leraars se vergoeding. Maar die plaaslike gemeente, as werkgewer, stel die vergoeding vas. So is daar baie gemeentes in die NGK waar leraars minder vergoed word as wat die sinode aanbeveel, en sommige ook meer. By die VGK bepaal die streeksinodes die vergoedingskale.

Wat die pensioen betref: Samesmelting van die NGKA en die NGSK se pensioenfondse kon sedert vereniging nog nie plaasvind nie. Die pensioenfondse van die oorspronklike kerke bestaan vandag nog net soos voorheen. Vir die toekoms kan egter onthou word: Pensioen wat reeds vir ’n persoon “gespaar” is, word deur wetgewing beskerm as ’n gevestigde reg in daardie persoon se belang. Nuwe pensioenvoorsiening ná kerkhereniging sal as deel van die herenigingsproses ter sprake kom.

PETRUS BOCK, SAAKGELASTIGDE, VGK, KAAPLAND, en

FRANCOIS CILLIÉ, SAAKGELASTIGDE, NGK WES- EN SUID-KAAP

Net ’n saketransaksie? Vra Maar Net, Stilbaai; Die Burger, 01.08.2006

EK verwys na die berig “NG Kerk skuld SA hereniging” (DB, 26/7).
Tydens ’n onlangse inbelprogram op RSG was dr. Allan Boesak een van die kundiges wat vrae beantwoord het. ’n Inbeller het gesê dat hereniging net ’n saketransaksie is en dat dr. Boesak sal weet wat hy bedoel. Dr. Boesak het dit heftig ontken. In die bogenoemde berig word genoem dat die VGK finansieel in ’n dilemma verkeer. Voortspruitend hieruit die

volgende: Sal die VGK-predikante dieselfde salarisse, reistoelaes, verblyftoelaes, mediese en aftree-toelaes ontvang as wat die huidige NG predikante tans ontvang? Of sal hulle mekaar halfpad ontmoet deurdat die een bykry en die ander afgee? ’n Kort en duidelike antwoord sal verwelkom word.]

KERK - SAKE

K28835: Radiokansel maak sy stem dik in hoë hof; Beeld, 02.08.2006, p2

Radiokansel gaan hof toe om sy uitsaaityd te red. Dié Christelike radiostasie het besluit om die hooggeregshof te nader om ‘n hersieningsbevel nadat hy nie tot ‘n vergelyk kon kom met die bestuur van Radio 2000 oor uitsaaityd op dié FM-sender nie. Radiokansel wou hê dat die bestuur die ooreenkoms dat hulle Radio 2000 se senders sewe uur per dag kon gebruik, handhaaf totdat Radiokansel se lisensie-aansoek afgehandel is. Die bestuur van Radio 2000 het egter vasgestaan by sy besluit om Radiokansel se uitsaaityd te verkort... Die gevolg is dat Radiokansel, wat al 18 jaar oor FM uitsaai, in die week van sy kwarteeufees skielik honderdduisende van die luisteraars, veral in die suide van die land, slegs vir enkele ure per dag kan bereik. Die stasie gaan voort om 24 uur per dag oor mediumgolf op 657 kHz uit te saai wat die grootste deel van noorde van die land bereik. Dr Roelf Petersen, uitvoerende hoof van Radiokansel, sê hulle het besluit om elke uitsaai-uur te aanvaar wat hulle aangebied word al is dit vir ‘n klein aantal luisteraars wat tussen 04:00 en 06:00 soggens inskakel. Hulle gaan egter nie die saak daar laat nie. Hulle meen Radio 2000 se besluit is onbillik omdat dit die regte van duisende luisteraars wat oor 18 jaar gevestig is, aantas. Die besluit kan vir Radiokansel ook groot finansiële nadeel inhou. Neels Jackson

K28822: Kom sluit aan by Liedboekgilde; Eikestad, 04.08.2006, p4

Belangstellendes word hartlik uitgenooi om elke Dinsdag lustig uit die Liedboek van die Kerk te kom saamsing. Die sang word gelei deur mnr Pieter van der Westhuizen, bekende in kerkmusiekkringe en eertydse orrelik en koorleier van die Studentekerk, Stellenbosch. ‘n Totaal van 25 belangstellendes het die eerste byeenkoms van die Liedboekgilde op 1 Augustus bygewoon. Die volgende byeenkoms is op 8 Augustus. ‘n Musiekkennis en besondere sangtalent is nie voorvereistes om in hierdie aktiwiteit te kan deel nie. Daar word ook nie koor geoefen nie. Die doel van die byeenkomste is hartlike samesang, waartydens die groep die Here met sang wil loof... ‘n Kenner van die Psalms sal ook elke week ‘n Psalm eksegeties ontleed.... Belangstellendes word dus versoek om die Liedboek en Die Bybel saam te bring. Die naam van die groep word ontleen aan die definisie van die woord “gilde”. ‘n Gilde is ‘n amateurgroep wat ’n gemeenskaplike belangstelling deel en dit gereeld beoefen. Die groep sal elke Dinsdag tydens die skoolkwartaal van 10:00 tot 10:50 bymekaar kom. Hierdie byeenkomste word in die kerksaal van die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen in Dalsig aangebied. Vir meer inligting kan mev Ansu van Zyl gekontak word by tel 021 886-4566

K28827: Gospel-sanger gevonnis oor meisies; Die Burger, 07.08.2006, p9

PAROW - ‘n Finansiële adviseur van Eversdalhoogte is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis op twee aanklagte van onsedelike aanranding op twee minderjarige familielede oor ‘n tydperk van etlike jare. David Kotze (30), ‘n gospel-sanger wat sy kerk se jeugafdeling en jeugkampe gekoördineer het, was emosioneel tydens die verrigtinge in die plaaslike streekhof en het deurentyd trane afgevee... Hoewel Kotze sy berou oor die voorvalle uitgespreek het, is hy steeds in ‘n fase van ontkenning... Alethea Nieuwenhuizen

VROUEDAG

Vrouedag; Kommentaar, Beeld, 08.08.2006

Vandag is ’n openbare vakansiedag om vroue te eer. Die wortels van Vrouedag dag lê in 1956, toe duisende vroue na die Uniegebou opgeruk het uit protes teen die paswette.Met die optog het hulle nog ’n paar gram gegooi op die skaal wat apartheid uiteindelik laat kantel het. Dit was 50 jaar gelede. Vandag het Vrouedag steeds vir ’n groot deel van die vrouebevolking ’n baie meer emosionele konnotasie as vir ander. Die struggle het in sommige se binnekamers afgespeel. En in die buitekamers van ander. Maar die bevrydingstryd is verby en die eise van ’n demokrasie ’n harde realiteit. Vroue se rol in die bereiking daarvan mag nooit onderskat word nie. Maar dan moet hulle ook in hul harte en hul huise vry en veilig wees. Dit is ’n stryd wat álle vroue in die land raak.

‘GAY- EN LESBIËRKWESSIE

K28841: ‘Kerk moet besin oor barmhartigheid’; ‘Gebed alleen’ gaan nie homofibie oplos; Die Burger, 08.08.2006, p9

KAAPSTAD - Die gay- en lesbiërkwessie is ‘n belangrike toetssaak vir die kerk wat gelowiges ook na die diepte van hul eie barmhartigheid sal laat kyk. Die vraag is of die kerk enige iets hieroor kán sê - of moet sy eenvoudig bely? Só het verskeie sprekers Vrydag gesê op ‘n eendaagse konferensie by die Universiteit van Wes-Kaapland oor die gay-kwessie en die kerk. Die tema van die konferensie was “intimiteit weer besoek”. Die begrip intimiteit kan op verskillende maniere vertolk word en strek verder as seks, het ds Pieter Oberholzer van Inclusive en Affirmative Ministries (IAM) gesê... “Die idee was om ‘n bemiddelende rol te speel en ‘n platform te skep waar enkelinge en kerke intimiteit en verhoudings kan ontrafel.” Om die aandag te spits op intimiteit en verhoudinge, in plaas van die verskillende interpretasies van Bybelverse, bied ‘n interessante, vrugbare pad na die dieper seksuele krisis binne die kerk en die gemeenskap - die onwillige en dubbelsinnige aanvaarding, regstelling en viering van menslike seksualiteit, lui ‘n inligtingstuk oor die konferensie... Marius Louw

K28836: Gays se bloed dán welkom, sê SANBD; Skenkings kan kom ná 6 sekslose maande; Beeld, 02.08.2006, p7

Homoseksuele mans mag eersdaags gereelder bloed skenk ... mits hulle bereid is om vir ses maande selibaat te bly. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) het sy skenkerkriteria só aangepas dat dié uitsluitingstydperk nie meer vyf jaar is nie. Dit geld van 1 Oktober wanneer nuwe skenkingsvorms beskikbaar sal wees... Mnr Willem Reyneke, ‘n 32-jarige debiteureklerk van Witrivier in Mpumalanga en gereelde skenker, is ontstoke omdat hy verlede week weggewys is by ‘n SANBD-tak. Dit was nadat hy vir die eerste keer in al die jare die vraag of hy die afgelope vyf jaar seks met ‘n man gehad het, “eerlik beantwoord” het... Volgens me Nicolette Duda, woordvoerder van die diens, weeg ‘n pasiënt se reg op vielige bloed swaarder as dié van die bloedskenker. Sy het gesê dit is “kommerwekkend” dat Reyneke al die jare bloed geskenk het en nie die vrae op die vorm eerlik beantwoord het nie. Antoinette Pienaar

K28837: Adam en Steve wil nie sommer kansel toe nie; Beeld, 02.08.2006, p7

Baie gay mense steun miskien die instelling van gay-huwelike in lande waar dit reeds ingestel is, maar ‘n klein minderheid van hulle wil self trou. Die Amerikaanse Institute of Marriage and Public Policy het in ‘n studie bevind dat ‘n baie klein persentasie gays in lande wat gay-huwelike erken, daarvan gebruik maak. In Nederland, waar gay huwelike sedert 2001 wettig is, het slegs tussen 2% en 6% van gay mense tot dié stap oorgegaan. In België en in Kanadese provinsies is baie soortgelyke syfers gevind. Die hoogste syfer waarmee navorsers vorendag kon kom, was vir die Amerikaanse staat Massachusetts. Ds André Muller van die Reformerende gemeente wat gay-lidmate in Pretoria bedien, sê dié syfers verras hom nie. Baie gays sien neer op die status van gebondenheid wat met ‘n huwelik gepaard gaan, sê hy. Muller steun gay-huwelike, nie oor die groot aantal mense wat daarvoor vra nie, maar ter wille van die individu wat die begeerte het om te trou. Neels Jackson

K28823: Staat ‘wil SA verenig oor gay huwelike’; Die Burger, 04.08.2006, p 17

KAAPSTAD - Daar word hard agter die skerms gewerk om alle partye aan boord te kry vir die wysiging an die Huwelikswet sodat huwelike tussen mense van dieselfde geslag erken word, het die adjunk-minister van justisie, mnr Johnny de Lange, gesê. Nogtans het die ACDP Dinsdag gevra dat die Grondwet gewysig word om sulke huwelike te verbied. Die konstitusionele hof het verlede jaar beslis dat die Huwelikswet voor Desember gewysig moet word om gays in te sluit. Indien dit nie gebeur nie, sal die wet outomaties verander... Hy het gesê daar word so ver moontlik gepoog om alle organisasies aan boord te hou. “Daar is groepe in ons gemeenskap wat sterk gekant is teen hierdie kwessies, en ander groepe, soos organisasies vir gays, wil weer in ‘n ander rigting gaan, so die regering moet hierna kyk om die maatskaplike samehorigheid te behou.” het hy gesê. Hy het ook ontken dat daar verskille tussen die departemente van binnelandse sake en justisie is oor hoe die wetgewing moet lyk. Mnr Steve Swart, ADCP-LP, het egter in ‘n verklaring beweer die verskille tussen hierdie departemente maak dit moeilik om voorleggings oor enige wetsontwerp te maak. Swart wou weet hoekom klagtes deur die South African Pagan Rights Alliance by die departement se voorlegging ingesluit was, maar die Huweliksalliansie, wat volgens hom sowat 70 tot 80 kerkgroepe verteenwoordig, uitgelaat is. Swart het gesê die huwelik soos dit nou is, tussen ‘n man en ‘n vrou, moet behoue bly. Carien du Plessis

Vier susters wil hof toe oor gay-erfreg; Beeld, 09 08.09.2006

Vier susters van Kaapstad het ’n dringende beroep op die 11 regters van die konstitusionele hof gedoen om hulle toe te laat om hul saak te gaan stel oor gay paartjies se erfreg wanneer een van die paartjie sonder ’n testament sterf. Die susters is nie gay nie en maak dit in ’n beëdigde verklaring by hul aansoek ook baie duidelik dat hulle geen appeltjie met gay mense te skil het nie. Hulle is egter bekommerd oor ’n bevel van die Pretoriase hooggeregshof (wat nog deur die konstitusionele hof bekragtig moet word) dat die bestaande regsposisie – wat ’n gay persoon wat sterf se lewensmaat ignoreer as dit by intestate (sonder testament) erfreg kom – ongrondwetlik is. Selfs met dié bevel stem hulle heelhartig saam, sê me Erilda Starke namens haar en haar susters, mee Sharon Bezuidenhout, Janine Starke en Heidi Pool. Hulle is egter beswaard daaroor dat die regter se bevel van ongrondwetlikheid terugwerkende krag het. Die rede is dat die vier susters se oorlede gay broer se boedel R10 miljoen sterk is en hulle vier sou die enigste erfgename wees. Nou dring die broer se “beweerde” lewensmaat daarop aan dat hy die enigste erfgenaam moet wees en die vier susters kan sonder ’n sent anderkant uitkom, voer die vroue aan. Daarom wil hulle gevoeg word as partye tot die geding waarin die konstitusionele hof die hooggeregshofbevel moet bekragtig sodat hulle die 11 regters kan probeer oortuig om die bevel nie terugwerkend van krag te maak nie. Hoofregter Pius Langa oorweeg die susters se aansoek. Philip de Bruin

OOR: die “kwessie” van homoseksualiteit

Hoe lyk seksbalk in Christen-oog? Yolanda Dreyer, Godsdiens-aktueel; Beeld, 06.08.2006

‘Die hand in eie boesem steek” is ’n eienaardige uitdrukking. As jy jou hand daar ingesteek het – wat kry jy? Die Bybelse ekwivalent van die balk uit jou eie oog haal voordat jy die splinter in ’n ander s’n soek, tower eweneens ’n vreemde prentjie op. Die saak waaroor dit gaan, is egter duidelik. En dis nie lekker nie. ’n Mens wil liewer anderpad kyk. Maar ’n etiese lewe vra van Christene om onsself eerlik in die oë te kyk.

Van oë gepraat, myne is groen. Die meeste mense het blou, blou-grys of bruin oë. Groen oë is skaars, soos regte rooi hare skaars is. Sê nou net ek het as kind agtergekom dat my oë groen is en moes dan aanhoor: dit is abnormaal – ’n afwyking. Sê nou ek moes grootword met hoe almal praat oor die “probleem” of die “kwessie” van groen oë.

Sommige mense kom as puber agter dat hulle anders is as die meerderheid. Hulle voel aangetrokke tot mense van hulle eie geslag. So ’n oriëntasie is skaars, party meen 10%, ander nog minder. Hierdie skaars word toe in kerk en samelewing “abnormaal”, “sonde” of “siekte”. Taal verpak dit netjies as die “probleem” of die “kwessie” van homoseksualiteit. Wat doen dit aan mense? Al hulle verhoudings X met God, met ander en met die self – word versteur. Die Bybel word ’n gésel. Ses houe slaan diep wonde. Die geloofsfamilie sluit die kerkdeure en die ampte vir hulle toe. ’n Pa verwerp sy kind. Die ma ly. Sy verlang na haar kind. Sy voel verskeur tussen eggenoot en kind, tussen haar sekuriteit in die huwelik en wat sy weet reg en barmhartig is. Vir gay en lesbiese persone is selfhaat die gevolg. Hulle voel walglik. Hulle behoeftes is onaanvaarbaar. Hulle liggaam pleeg verraad. Liefde is gevaarlik en sonde. Maar hulle het soos alle mense ’n behoefte aan liefde en aanraking. Hulle moet hulle behoeftes onderdruk – ’n leeftyd lank. Dan word selfmoord ’n uitweg. Dit is die enigste manier om van ’n onaanvaarbare self, ’n haatlike liggaam en matelose pyn, te ontsnap.

Hand in eie boesem van die hetero’s vra: Is dit aanvaarbaar om dit aan ander te doen? Ja, meen party. Dis mos nie óns wat so sê nie. Die Bybel sê dis sonde. Vreemd dan dat dit nie net Joods-Christelike gelowiges is wat negatief reageer op homoseksualiteit nie. Die reaksie kom in alle kulture en godsdienste voor. Dit groei ewe geil onder ongelowiges.

As dit nie “geloofsoortuiging” is nie, wat is dit dan? Dalk gewoon menslike vooroordeel? Mans is meer bedreig deur seksuele minderhede as vroue, toon navorsing. Die rede is dat mans se geslagsidentiteit daardeur bedreig word, terwyl vroue se geslagsidentiteit nie juis geraak word nie. Psigologiese navorsing wys ook dat sekere persoonlikhede meer bevooroordeeld is as ander. Hulle is meer geneig tot rassisme, seksisme en homofobie (die vrees vir/haat van gays). Dit is rigiede persoonlikhede wat nie hou van verandering nie. Hulle wil dinge hê soos hulle dit wil hê. Sulke mense verdra nie “andersheid” nie. Wat kry die hand dan in die eie boesem? Hoe lyk die balk in die eie oog? Vooroordeel en om met die Bybel, taal, houding en gedrag ’n lewe wat onhoudbaar is vir ander te skep, is sekerlik téén die Evangelie. Volgens dieselfde Evangelie is daar genade – nie net vir die slagoffer nie, maar ook vir die dader.

Die tollenaar het van Jesus genade ontvang en toe gaan regmaak waar hy mense te na gekom het. Wat maak ons, die Christelike seksuele meerderheid, met die balk in ons oog?

DWELMVERSLAWING

K28842: Kinders ‘al jonger in dwelms se web verstrengel’; Raad bekommerd oor bendes ‘misdaad-sakeryke’ word; Die Burger, 08.08.2006, p11

KAAPSTAD - Dwelmmisbruik, veral die gebruik van tik (metamfetamien), is aan die toeneem onder jeugdiges in die Wes-Kaap. Die ouderdom waarop kinders dwelms begin gebruik en dikwels onvermydelik by bendebedrywighede betrokke raak, raak ook al hoe jonger... Georganiseerde bendes met groot “sakeryke” en aggressiewe werwingsmetodes beheer deesdae die dwelmhandel... Een van die faktore wat daartoe bydra dat jeugdiges ál meer by bendes betrokke raak, is ‘n gebrek aan gesinstrukture... Luidens die verslag is daar tans sowat 130 bendes in die Kaapse metropool... Theuns van der Westhuizen

GEWELD

Honger en dors na wat reg is; Annelie Botes, Van Alle Kante; Die Burger, 08/08/2006

KORT gelede het ek die kerk aangevat oor daar druppelmin van kerkkant af gedoen word om misdaad te beveg. Hewige reaksie gekry. Min briefskrywers het my tande uitgetrap. Inteendeel. ’n Predikant van die Vrystaat het laat weet hy het ’n antimisdaad-preek gelewer; dat hy nié langer sal stilbly, of apaties sal wees nie. Onlangs kry ek kettingpos wat my na die webwerf www.crimexposouthafrica.co.za lei. Ek pes kettingpos, maar besluit om te kyk. En daar word ek oorval deur mislikheid. Sodat ek tuinbank toe vlug om in die oggendkoue die walging te oorkom. Dis misdaadskrik wat my wou laat opgooi, en die wete dat dit nóóit sal verander nie. Tensy ’n allervreeslike dwarsbrander inspoel om die geweldsgolf te skuif. Ek wil nie doemprofeet speel nie, maar Suid-Afrika staan in ’n routyd wat net smartliker gaan word. Want al word nog 20 Megans geskiet, 50 boervroue keelaf gesny, of 10 000 boere trek op Queenstown toe, of 1 000 ou-mama’s word in die township verkrag en hulle oë met ’n lepel uitgeskep, sal dit weinig impak hê op ons leiers. Hulle jaag die murmureerders liefs landuit as om aan die sneeubal te raak. Netnou kry hulle hande vriesbrand. Die Dennis Bloems wat gelas dat lui-vet tronkvoëls moet wérk, is verreweg te min.

Nes die Vrystaat-predikant verseg ek om te swyg. Al verwag ek ’n kielhaal oor my prontheid. ... Nog erger: Wat as ek eendag moet antwoord oor my swye? Dít terwyl ek ’n forum gehad het waar ek kon pleit namens elke kleurlose siel wat honger en dors na wat reg is; elke swart-wit-bruin-spikkel-mens wat wens om sy brood in vrede te eet; om sy huis of paleis of pondok rustig te bewoon. Daarom, praat sal ek praat, al vat dit drie weke om my sê gesê te kry. En ek sal my summier afvee aan hulle wat reken ek lig my witheid op soos ’n muishondstert om ’n stank te sproei in die rigting van swartheid. Dit het niks te make met witheid of swartheid nie, net met gespikkelde mensheid. Dis ook geen nuwe stank nie, net ’n bloedwalm wat te lank reeds die lug en lig van vredesoekers besoedel en verduister. As die wetmakers ons pleitroepe minag of ignoreer, is dit húlle wat Eendag sal moet antwoord. Want onthou: A time comes when silence is betrayal. annelie1@telkomsa..net

‘n OPROEP -

Stomp tande? IN Geestelike Waardes, DJS; Die Burger, 04/08/2006

PA’s eet groen druiwe en dan voel kinders se tande stomp? Is dit nou regverdig, dat nageslagte die skuld en swaarkry dra deur voorsate se versaak veroorsaak? Só vra die volk verwytend in die ballingskap. Dié wat agterbly in die land in die ellende en verval wat daar heers, morele en ekonomiese chaos, daaglikse swaarkry, magsmisbruik en korrupsie in politiek en regspraak, praat só. Die wat weggedryf is en nou in die vreemde leef, sonder respek en invloed, randfigure, vol heimwee, sonder tuiste, identiteit, toekoms, dié ook. Die spreuk is tegelyk klag én verskoning. Dis onbillik, dis húl skuld, ánder s’n, ons was nie eens daar nie, ons het dit so kom kry. Dit help niks om die mond oor óns vol te hê nie, ons is nie aandadig nie, hoe kon ons anders uitdraai? Ons is maar net willose produkte van ánder se dinge? En dit klink amper reg, dié spreuk, dié klag, dié verskoning, amper Bybels. Want die Bybel, en vir seker die Ou Testament, is terdeë bewus van ons vervlegtheid met andere, die verweefdheid van ons lewe met hulle vóór ons en óm ons.

Ons ís geen eilande nie, mens-wees ís sáám-wees, ander help slyp ons. Maar dit bied geen verontskuldiging nie. Profete soos Jeremia (31:29) en veral Esegiël (18:2) verwerp dié spreuk skerp. Elkeen staan persoonlik verantwoordelik vir hul eie dade. Niemand kan skuil agter ouers, tradisies, gemeenskappe, kulture, afkoms, omgewing, ánder nie. Ja, ons word almal diep gestempel deur rassisme wat ons gevoed het, seksisme wat oral geld, armoede waarin ons moes opgroei, verwaarlosing en geweld waaraan ons blootgestel was, korrupsie wat almal rondom ons vryelik pleeg, immoraliteit wat alom botvier. Maar ons durf nie daaragter skuil nie.

So seker as Ek leef, sê die Here, vergeet dié stories (18:3). Kry eerder hare op jul stomp tande, byt vas, en vra elkeen wat jý kan doen om dalk ’n verskil te maak, vandág (18:4-9). – DJS

OOR BOEKE

K28829: Harry Potter nou selfs in Oxford koning; Rapport, 06.08.2006, p5

Arme Alice. Almal wat Alice’s Adventures in Wonderland gelees het, weet daar is bittermin dinge wat haar kan onderkry (Selfs nie ‘n bloeddorstige koningin van harte nie). Behalwe miskien ‘n bebrilde weeskind met ‘n paar towertoertjies in sy sak. Want ja, in Harry van Hogwarts het Alice ongelukkig haar moses teëgekom - ten minste wat betref die meeste toeriste wat deesdae na Christ Church in Oxford, Engeland, stroom. Vir jare het besoekers na hierdie uitgelese kollege gekom om erkentlik te kom kopknik vir Charles Dodgson, wie se portret saam met dié van ander groot geeste in die Great Hall hang.

Die oorgrote meerderheid toeriste wat deesdae in die kollege se vierkante en suilegange rondsnuffel, is Harry Potter-volgelinge... En sal Harry vir langer as ‘n eeu die literêre pelgrimsvaardes se verbeelding kan aangryp? Sonja Loots

K28830: Ou stem tel juis omdat hy anders is; Die Burger, 05.08.2006, p8, Gerrit Brand

God se Prenteboek - oor die gelykenisse van Jesus, deur Helmut Thielicke. Lux Verbi.BM, Wellington, 2006. (Sagteband, 198 bladsye, ISBN 9 780796 304285)

Hoekom sou ‘n mens vandag ‘n teks van 50 jaar gelede wil lees? Of van 100, 500 of 1 000 jaar gelede? Die beste antwoord kom van GK Chesterton, in sy Orthodoxy (1908): “... tradisie is bloot demokrasie uitgebrei in die tyd...” Met ander woorde, dis juis die vreemdheid van ou geskrifte, hul uit die pas wees met ons tyd, wat hulle interessant en ter sake maak...

IN DIE NUUS

‘Vloek op radio skok nie meer’; Die Burger, 09/08/2006

JOHANNESBURG. – Die waghondliggaam oor die uitsaaiwese is “koddig en merkwaardig prikkelend”. Só sê Gareth Cliff, ontbytprogramaanbieder van 5FM, in reaksie op ’n stelling in die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se nuutste oorsig (2004-’06) dat “sommige omroepers” glo die enigste manier om aanhangers te wen is gewaagde taal en grappe. Cliff meen daar ís omroepers wat vloek om tieners se guns te wen. “Ongelukkig dink mense omdat ek in die verlede een of twee astrante dinge gedoen het, vloek ek op die lug. Ek dink nie Okosa se opmerking is net op my gerig nie.” Cliff sê sy program is “beslis nie” op gewaagde taal of grappe gebou nie. “Ek dink taal is ’n baie magtige werktuig en dat gewaagde taal – hoewel dit liefs vermy moet word – ’n werklikheid is vir die meeste jong mense. Ons geslag is baie reguit.” ... Okosa het die afgelope twee jaar onder meer die volgende klagtes oor Cliff oorweeg: ’n onderhoud wat hy met “Jesus” gevoer het; ’n seksraaisel oor oudpres. Bill en sen. Hillary Clinton van die VSA; ’n opmerking dat mnr. L. Ron Hubbard (die oorlede vader van Sciëntologie) dalk die pa van aktrise Katie Holmes se baba is; en of die gebruik van die term “moffies—t”; die uitsaaipraktykkode sou oortree.

■ Me. Khahliso Mochaba, Primedia Broadcasting se bestuurder van regulatoriese aangeleenthede, sê die sukses van 94.7 Highveld Stereo se Rude Awakening-program is gegrond op die vermoë om tot sy gehoor te spreek. “Gewaagde taal is nie deel van die resep nie,” sê sy. Liesel Pretorius

K28834: Dié tehuis in die knyp; Beeld Oos-Rand, 02.08.2006, p3

Pasiënte van die Avril Elizabeth-tehuis vir gestremdes in Germiston kan dalk weens nuwe wetgewing hul maandelikse regeringstoelae kwyt wees. Die tehuis, waarvan 65 pasiënte staatsubsidies ontvang, moet volgens die departement van gesondheid hul geouditeerde finansiële jaarstaat vir die vorige finansiële jaar drie maande vroeër indien. Die tehuis bied 24 uur per dag versorging aan 150 pasiënte wat matig tot ernstig verstandelike gestrem is... Kim Snyders

K28838: Nóg ‘n pasiënt geheimsinnig by sentrum beseer; Beeld, 02.08,.006, p9

Nóg ‘n pasiënt by die Cullinanse sorg- en rehabilitasiesentrum vir gestremdes in Cullinan, oos van Pretoria, het erge beserings aan sy gesig en brandmerke opgedoen wat sy ouers die indruk gee iemand het hom bewustelik beseer... Mnr Benedict Mashele, uitvoerende beampte van die sentrum, het ná twee dae nie gereageer op Beeld se versoeke vir kommentaar nie. Mnr Simon Zwane, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid onder wie die sentrum val, was ook nie beskikbaar nie... Virginia Keppler

PRIMÊRE BRON VAN INLIGTING

Internet steek TV die loef af by Britte; Beeld, 09.08.2006

Londen. – Die internet is besig om die rol van televisie as primêre bron van inligting in Britse huishoudings oor te neem. Die navorsingsmaatskappy YouGov het bevind dat Britte 23 uur per week aanlyn deurbring om e-posse te stuur, banksake te doen en inkopies te bestel. Dit is meer as die gemiddelde 19 uur per week wat hulle voor die televisie deurbring. Uit die antwoorde van die meer as 15 000 respondente wat aan die peiling deelgeneem het, is gevind dat mense sowat 50 dae per jaar op die internet deurbring, wat meer is as die tyd wat hulle gebruik om vakansie te hou. Om op die internet te speel neem die meeste tyd in beslag met sewe uur en 54 min. Aanlyndobbelary is die tweede gewildste aktiwiteit met vier uur en 40 min. wat weekliks daaraan bestee word. Ander internetfunksies soos e-pos, aanlyntelevisie, internetbankdienste en -inkopies asook telefoonoproepe oor die internet maak die res van die tyd op. Daar is gevind die verhoogde gebruik van breëband internetdienste moedig mense aan om die internet wyer aan te wend, aangesien video-uittreksels en flieks nou makliker afgelaai en gekyk kan word.

Daar is 750 000 mense wat die afgelope drie maande om breëband-internetdienste aansoek gedoen het en sowat 50 000 lyne vir breëbandverbindings word weekliks geïnstalleer. Die internet is ook meer gewild as televisie omdat televisie- kyk passief is, terwyl die internet interaktief is en die gebruiker toelaat om inhoud te sien, maar ook om met ander te kommunikeer. Sowat 40% van mense luister na radiostasies terwyl hulle aanlyn is en 39% gebruik die breëbandverbinding om telefoonoproepe te maak, wat goedkoper is as gewone oproepe. Mandy Rossouw

Predikantsvrou spring; Volksblad, 09.08.2006

’n PREDIKANTSVROU van Kestell het vanjaar ’n buitengewone projek aangedurf om geld vir Bybels in te samel. Ds. Amos Kotze en sy vrou, Susan, het hul kinders in Julie in Engeland besoek waar Rita verder studeer en Johan werk. Die plan was dat al vier lede van die gesin vir Bybels sou valskermspring. Die NG kerk op Kestell het elke jaar ’n spesiale projek om geld vir Bybels in te samel. In 2005 het ds. Kotze, ’n duiwe-eienaar, drie van sy wedvlugduiwe vir Bybels laat vlieg. In Engeland het hy weens ’n rugoperasie wat hy gehad het, liewer nie die hoogtes aangedurf nie. Dit was sy vrou wat tot die groot stap oorgegaan het om die eerste keer in haar lewe, op 48 jaar, valskermspring aan te durf. Nee wat, sy was nie juis bang toe die vliegtuig daar op die lughawe van die Londense Valskermskool naby Oxford opstyg nie, vertel mev. Kotze. Die vliegtuig het ’n paar keer daar bo rondgesirkel totdat ’n hoogte van 10 000 voet bereik is. En toe was dit uitspringsake. Eers het die fotograaf uitgespring en toe mev. Kotze, vasgegordel aan haar instrukteur. Toe die groot oomblik van uitspring aanbreek, was sy kalm. Hoewel sy normaalweg aan hoogtevrees ly, het sy nie eens daaraan gedink nie. Sy het net geweet sy móés die sprong doen omdat sy wou, en ook omdat die gemeente daar ver op Kestell haar so positief ondersteun vir hierdie goeie saak. Die eerste 5 000 voet was ’n asemrowende vryval wat seker net ’n klompie sekondes geduur het, vertel sy. Daarna het die instrukteur die valskerm oopgemaak en het hulle stadiger na onder geval – sy skat dit was ’n paar minute om tot onder te sweef. Sy het haar verwonder aan hoe alles daar van bo af lyk en ook heeltyd gekyk of sy haar trotse gesinslede daar onder kan raaksien. “Toe ek weer sien – in ’n oogwink – was ons veilig op die grond. Dit was vinnig, alles het te vinnig verbygegaan. ’n Onvergeetlike ervaring. Die Here was vir my baie goed . . .” Ds. Kotze se tevrede kommentaar: “Ek is baie trots op haar!” Susan Maré

VRYSTÅÅÅT! ! !

Vrystaat beste plek om te woon; Volksblad, 09.08.2006
DIE Vrystaat is die aangenaamste provinsie om in te woon en die mees gesogte woonbuurt in die land om in te woon is Dan Pienaar in Bloemfontein. Kimberley in Noord-Kaap staan ook uit as een van die land se topstede om in te woon. Dit is volgens die uitslae van onlangse navorsing wat die marknavorser Ask Afrika saam met Finweek gedoen het waarin bepaal is in hoe ’n mate daar aan voorstedelike inwoners se tevredenheidbehoeftes voldoen word. “Dan Pienaar vaar konsekwent beter in die meeste kategorieë as enige van die ander voorstede wat in die opname oor lewensgehalte ingesluit is,” sê Finweek. Een van die kategorieë waar Dan Pienaar uitstaan, is die gehalte van sy skole. Die buurt se skole word as die beste in die land beskou. Die vlak van vertroue in die polisie is ook die hoogste in dié buurt. Die navorsing toon dat Monumenthoogte/Royaldene in Kimberley op twee na die veiligste voorstad is om in te woon. “Die mynstad het duidelik ook geen gebrek aan welvarende inwoners nie. Wat die gemiddelde huishoudelike inkomste betref, oorskry 30% van Kimberley se respondente se inkomste R30 000 per maand.” Saam met Waterkloof in Pretoria is dit glo op twee na die hoogste in die land. Volgens die navorsing is Dan Pienaar se aantreklikste eienskap die lae misdaadvlak en onder meer die nabyheid van sakesentrums, hospitale, winkelsentrums en skole. Dan Pienaar is boonop derde op die lys van woonbuurte met ’n sterk gemeenskapsgevoel. “Die meeste respondente het gesê hulle sal nie sommer gou uit Dan Pienaar verhuis nie, want hulle voel die voorstad bied die beste geriewe in Bloemfontein. “Die voorstad sukkel ook nie met geraas en lugbesoedeling, rommel en vandalisme nie. Die een aspek wat Dan Pienaar se inwoners meen verbeter kan word, is openbare dienslewering.” Die buurte van Bloemfontein ervaar egter volgens die navorsers die minste probleme wat water- en kragvoorsiening betref. Die Fourie-gesin het so ses maande gelede vanaf ’n ander woonbuurt na Dan Pienaar verhuis. “Die kinders kan lekker veilig hier in die straat fietsry, selfs in die aand, wat hulle nooit kon doen nie,” sê mev. Alta Fourie. Haar man, David, stem saam dat die buurt veilig en stil is. Hulle ondersteun die navorsing se bevindings dat die dienste wat gelewer word, bydra tot inwoners se tevredenheid. Jana Roos

No comments: