2006-08-03

Heartlines: Vergifnis

Barend, 'n polisieman wat op roep is, drink te veel by 'n braai en word dan dringend na 'n misdaadtoneel ontbied. Op pad ry hy oor 'n rooi verkeerslig en bots met 'n ander motor. 'n Jong man in die ander motor, Matthew Colley sterf in die botsing. Vir Allan, Matthew se pa, is hierdie insident so pynlik dat hy nie kan vergewe nie.

Allan gebruik sy vaardighede en kontak 'n prokureur om geregtigheid vir sy seun te kry en begin om 'n persoonlike vendetta te voer. Soos wat die hofsaak vorder, word dit duidelik dat sy saak teen Barend te swak is. Hoe meer dit lyk of hy die hofsaak gaan verloor, hoe meer word 'n soeke na geregtigheid 'n sug na wraak. Hy begin om die ondersteuning vir sy saak te verloor en stoot ook sy kollegas weg. Sy verhouding met sy dogter Eliza ly daaronder en later ook dié met sy vrou.

Uiteindelik, desperaat en alleen, besluit hy om nie die wet in eie hande te neem nie, maar om te vergewe en daardeur bevry hy homself van bitterheid en haat ten einde sy lewe weer heel te maak.

Vrae vir oordenking / bespreking

1. Wat dink jy is die hoofboodskap van die program?

2. As wat in die storie gebeur het met jou gebeur het, met wie sou jy die meeste identifiseer?

3. Hoekom dink jy het Allan Colley (Matthew se pa) vergelding vir sy seun se dood gesoek?

4. Hoekom het Allan dit moeilik gevind om Barend te vergewe?

5. Wat het gebeur dat Eliza (die dogter) uiteindelik haar woede kon verwerk en by die punt van vergifnis kon uitkom?

6. Jimmy, die priester, speel 'n sleutelrol om Elize te help om te vergewe. Op watter maniere kan ander ons help om te vergewe? Hoe kan ons ander help om te vergewe?

7. Hoe help God ons om te vergewe?

Bespreek die volgende aanhalings uit die program:

1. "Ek is nie 'n heilige nie. Ek kan nie vergewe nie." (Eliza Colley)

2. "Hierdie hele ding is soos 'n toets. Ons kan of kies dat hierdie ou (Barend) ons lewens verwoes of ons kan kies om hom te vergewe (Eliza Colley)

3. "Om iemand te vergewe is soos om 'n gevangene vry te laat, maar om later agter te kom dat jyself die gevangene is." (Jesaja, die blomme verkoper)

Pas die waarde van vergifnis toe:

1. As jy deel is van 'n groep, vra elkeen om situasies te beskryf waar hulle in staat was om te vergewe. (Dit moet egter nie te ontblotend wees nie!)

2. Wanneer vind jy dit moeilik om te vergewe?

3. Christus leer ons om te bid: "Vergewe ons ons oortredinge, soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree ... Maar as julle nie ander hulle oortredinge vergewe nie, sal julle Vadeer ook nie julle oortredinge vergewe nie." (Matt 6:12-15). Wat leer dit ons oor die belangrikheid van vergifnis?

4. Christus leer ons in Matt 5:23-24 dat wanneer iemand iets teen ons doen, dat ons die eerste stap moet neem om die verhouding te herstel deur hom / haar te vergewe. Bespreek dit.

5. In Matt 18:21-35 vertel Jesus die storie van 'n dienskneg wie se massiewe skuld hom kwytgeskeld is maar nie die skuld van iemand anders wat hóm geskuld kwytgeskeld het nie. Jesus sê dis presies wat die Vader gaan doen met enige een wat nie onvoorwaardelik vergewe nie.

No comments: