2007-03-30

INLIG-AKTUEEL (9/2007) -Vir die tydperk 09 tot 22 Maart 2007

Saamgestel deur ABID

Gedurende vakansietye probeer ek om die e-NUUS so kort as moontlik te maak, anders word die gelukkige vakansiemense se posbusse té vol. Die berigte is dan ook kronologies, min of meer, gerangskik. Die volledige berigte is egter reeds voorberei, en u is dus baie welkom om net ‘n e-pos te stuur - ngkinlig@mweb.co.za - en ons stuur graag vir u die volledige teks deur.

K 30024: Roeping kom 1ste sê hoë Anglikaan; Beeld, 07.03.2007

Die wêreldwye Anglikaanse gemeenskap gaan in die volgende paar dae op ’n konferensie probeer om onderlinge verskille oor homoseksualiteit opsy te skuif en hande te vat in die stryd teen onder meer armoede en vigs. Aartsbiskop Rowan Williams, aartsbiskop van Kantelberg en wêreldwye leier van dié gemeenskap, het gister in Boksburg gesê een van dié konferensie se groot doelwitte is om blywende netwerke te vestig vir die stryd teen armoede en vigs. Die konferensie gaan besin oor Anglikane se vordering met die Verenigde Nasies se millennium-ontwikkelingsdoelwitte, soos die halvering van erge armoede teen 2015 en om vigs se verspreiding te stuit. Die konferensie kom kort ná ’n byeenkoms van Anglikaanse leiers uit verskillende wêrelddele waartydens uiteenlopende sieninge oor homoseksualiteit tot groot spanning gelei het. ... njackson@beeld.com



K 30013: ANC en Boesak rook vredespyp; Burger, 09.03.2007

KAAPSTAD. – Die ANC en dr. Allan Boesak sing nou weer uit dieselfde gesangeboek nadat laasgenoemde verlede maand weens druk uit ANC-geledere verhinder is om ’n gedenkdiens vir wyle mev Adelaide Tambo te lei. Die ANC se nasionale voorsitter, mnr. Mosiuoa Lekota, het Boesak, assessor van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) en die kerk se Wes-Kaapse moderator, gister persoonlik namens die party om verskoning gevra. “Ons betreur hierdie ongelukkige voorval ten diepste en sal seker maak ons lede begaan nie weer so ’n oordeelsfout in die toekoms nie,” het Lekota gesê. Boesak het op sy beurt gesê hulle wou van die ANC weet of die kerk weer inmenging van die regerende party kan verwag in hoe hy (die kerk) sy roeping vervul en hoe hy optree. Volgens hom is die goeie verhouding wat nog altyd tussen die VGK en die ANC bestaan het, egter ná gister se samesprekings herbevestig. “Dit was ’n aangename bespreking en daar is ooreengekom dat die ANC hom nie weer sal inmeng (in kerksake) nie.” ... Anesca Smith



K 30028: ANC sê ekskuus aan Boesak oor diens vir Tambo; Beeld, 09.03.2007



K 30012: Pous laat vals note opklink oor Dylan; Burger, 09.03.2007

LONDEN. – Sommige mense beskou hom as ’n god, maar pous Benedictus XVI is beslis nie een van Bob Dylan se aanhangers nie. In ’n nuwe boek vertel die pous van sy ontsteltenis toe sy voorganger, die baie gewilde pous Johannes Paulus II, die verhoog met die legendariese Dylan gedeel het. Tydens die konsert by die Wêreld-eucharistiekongres in 1997 in Bologna in Italië het Dylan drie liedjies gesing, waaronder “Knockin’ on Heaven’s Door” en “A Hard Rain’s A-Gonna Fall”. Die pous het daarna sy preek gegrond op een van Dylan se grootste treffers – “Blowin’ In The Wind”. “Jy vra hoeveel paaie ’n mens moet loop voordat hy ’n man word,” het die pous gesê en geantwoord: “Daar is slegs een pad vir die mens, en dit is die pad van Jesus Christus wat gesê het: ‘Ek is die Weg en die Waarheid’.”
Ná sy optrede het Dylan, ’n Jood, die pous op die podium ontmoet. ... Pieter Malan



K 30022: St. Stephen’s-fonds groei na R594 000; Burger Bylae, 10.03.2007

DIE saldo van die restourasiefonds vir die herstel van die historiese NG kerk St. Stephen’s op Riebeeckplein in Kaapstad het oor die afgelope twee jaar met meer as R28?000 toegeneem en staan nou op R594 000. Dit is danksy die reeks Kers- en Suidoosterfeeskonserte wat sedertdien daar aangebied is, asook geldskenkings en insamelings deur lidmate van die

gemeente. Naspers het reeds voorverlede jaar ruim bygedra deur ’n halfmiljoen rand te skenk. St. Stephen’s is van 1800 tot 1801 as die eerste openbare teater in die land opgerig en het as die African Theatre bekend gestaan. Die Afrikaanse bevolking het dit die Komediehuis genoem. .. Die trust doen ’n beroep op kapitaalkragtige sakelui om hierdie gemeenskapsuitreikprojek ruimhartig te steun. As net vier ondernemings elk R500 000 skenk, is die teikenbedrag bereik. Rig navrae aan die skriba van die trusteeraad, ds. Kowie Smith, ook die gemeenteleraar, by 0837692138 of 0218534987. Sy e-posadres is: smithkowie@gmail.com Martiens van Bart



K 30031: Sheldean en Jesus; André van Niekerk, ‘n Woord onderweg; Beeld, 10.03.2007

Sheldean Human se dood gryp ons aan. Haar lyding kan ons help om ’n beskouing van geweld te kry, maar kan ons ook mislei. Ons is nou in die tyd van die kerkjaar waarin die herdenking van die Here Jesus se lyding ons ’n geloofsbeskouing van geweld gee. Dit hou in: Die verskriklike werklikheid van geweld durf nie versag of ontvlug word nie. Ons praat te gemaklik oor die kruisdood van Jesus. Daarby dra mense kruisies net as ’n versiering. Die kruis herinner ons aan ’n gewelddadige dood. Jesus sterf swaar om die waarheid oor God se genade en liefde by ons te kry. Van die troosboodskappies wat die Human-familie kry, is net te goedkoop. Prof. Johan Heyns het in die klas vir ons gevra om nie vir mense in lyding iets te sê nie – huil eerder saam....



K 30018: Is die UP nét vir predikante van die NG-Kerk? Murray Hofmeyr, Mond-uitspoel; Burger, 10.03.2007

PREDIKANTE van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) is nie vir ’n pos in godsdiens- en sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria se teologiese fakulteit in aanmerking geneem nie. ’n Mens kan aanvaar dat so ’n besluit nie ligtelik geneem sou word nie. Maar is dit ’n wyse besluit? Ek het aansoek gedoen vir die pos omdat ek geglo het ek kwalifiseer in terme van die vereistes. Verder het ek op goeie gesag verneem dat my lidmaatskap van die VGK nie ’n probleem sou wees nie. Ek het egter weldra gehoor prof. Klippies Kritzinger, een van Suid-Afrika se voorste godsdiens- en sendingwetenskaplikes en lid van die VGK, het ook aansoek gedoen. Ek het besef ek is nie die beste kandidaat nie. Die nuus dat Kritzinger ook nie vir ’n onderhoud genooi is nie, het my dronkgeslaan. Veral omdat nóg ek, nóg hy op enige stadium in kennis gestel is dat ons aansoeke nie oorweeg sou word omdat ons aan die verkeerde kerk behoort nie. Dieselfde geld ons kollega van die VGK-gemeente Orange Farm, dr. MP Ntshumayelo, wat sy doktorsgraad onder prof. Piet Meiring verwerf het – aan die einste teologiese fakulteit by die UP. ..



K 30020: Ope brief aan Coenie Burger; Monduitspoel, Laurie Gaum; Burger Bylae, 10.03.2007

Liewe Coenie
Ons ken mekaar. Ek was leierouderling van die Studentekerk op Stellenbosch toe jy daar predikant was. Ek’t by jou geleer hoe teologie in die praktyk lyk. Ek’t jou “God van nuwe moontlikhede” in woestyntye soos water uit ’n oog ingedrink. Ek’t geluister toe jy gesê het mens moet oplet na wat God in die Teks doen in plaas van moralisties te preek. Ek’t jou kollega in dieselfde studentekerk geword toe ek in Guguletu begin werk het. Maar êrens het ons mekaar verloor. Want ek is gay, en oor homoseksualiteit het jy jou voorbehoude. Dit kom duidelik uit in die onderhoud wat Neels Jackson met jou gehad het (Die Burger, 27 Februarie). Want hoewel jy, volgens die artikel, “baie, baie simpatie met homoseksuele mense het”, sê jy dat jy nie “’n besluit kan steun” waarin die kerk sy seën vir gay-huwelike of gay-seksuele verhoudings gee nie. Dis jou “persoonlike standpunt”, sê jy. ... Ek is nie seker dat jou vooraf-ingenome standpunt jou gaan help om in hierdie saak saam met Christus in die middel te staan en ’n brugbouer te wees nie, Coenie. Want dis waarna ons soek: na ’n brugbouer tussen gays en straights.
Laurie Gaum



K 30040: Ope brief aan Laurie Gaum; Stan Voges, Repliek; Burger, 17.03.2007

Liewe Laurie
Ons ken mekaar. Oftewel, ek onthou jou goed. Jy miskien nie vir my nie, want ek was destyds ’n besoeker, sekerlik een van vele, aan jou jeugsentrum in Guguletu. Ek en ’n groepie plattelandse VCSV-tieners was op ons jaarlikse diensuitreik na die Skiereiland. Het tien dae hard onder noodlydendes en armes, straatkinders en vigssterwendes gewerk. ’n Hoogtepunt was ons eenvoudige dienslewering die middag by julle in Guguletu. So trots het ek daar weggery. So bly dat my tieners die radikale Jesus-liefde van ’n wit dominee in die arm swart woonbuurt kon sien. Dit maak die aanklag in jou “Ope brief aan Coenie Burger (By, Die Burger, 10/3)” en aan gelykdenkendes soos ek soveel kwetsender. Daarom wil ek graag vriendelik verduidelik. ... Daarom, broer Laurie, beskuldig my (en ander) van swak eksegese, van verkeerde hermeneutiek, maar asseblief nie van agterbakse politiekery, onregverdigheid of liefdeloosheid nie. Ek het toe maar stil in my dop (binnekamer) teruggekruip en meer nederigheid en liefde gevra. Miskien is dít, die binnekamer, waar ons mekaar weer kan vind.
Stan Voges Stan Voges is ’n NG predikant op Bredasdorp.



K 30019: Of religieuse digters regtig religieus dig; Joan Hambidge, Letterlik; Burger, 10.03.2007

I.L. DE VILLIERS is ’n besonderse digter in Afrikaans. Hy dig – soos sy voorgangers Totius, Olga Kirsch en Sheila Cussons, en naganger T.T. Cloete – oor die religieuse dimensie. Op ’n konkrete wyse versoen hy die metafisiese en die aardse, die kenmerkende paradoks van hierdie besinnende vers. Dit bly nie net by praat, wonder of filosofeer nie, maar word ’n belangrike ervaring van die lewe se wonders, ontnugteringe en, natuurlik, die dood. Iets wat my tans interesseer, is of die religieuse digter werklik “religieus” dig. Met ander woorde: Is die digter wat in hierdie domein intree nie juis besig om die Goddelike dimensie te bevraagteken nie? Ons weet dat Totius se opstand teen God deurskroei en dat Cussons in “Christ of the Burnt Men” op ’n interessante wyse die Rooms-Katolisisme met die Boeddhisme versoen. De Villiers is beslis meer as ’n predikantedigter: Sy verse lewer komplekse kommentaar op die wêreld óm hom. .. DIT is ’n puik bundel waarin die lewe in al sy fasette helder en oortuigend verwoord word. I.L. de Villiers se digterskap kry tans ’n nuwe lewe, ofskoon hy al deeglik deur Opperman gekanoniseer is met onder meer religieuse verse waarin, soos in “By die Opgaan” en “Huisbesoek”, die sondige “ek” skerp beskou word – uit Leitourgos (1972). Die geslaagde gedig word meer as die preek of traktaat; dit ondermyn, dekonstrueer. Dit kyk krities na Bo en onder.



K 30017: Seremane ontroer diep; Burger, 10.03.2007

MAX DU PREEZ doen in Die Burger se bylae By van 3 Maart aan die hand dat Afrikaners ’n bruin leier steun, soos die Dorslandtrekkers ’n eeu gelede gedoen het. Uit Jan-Jan Joubert se onderhoud in Die Burger van dieselfde datum met Wetshotsile Joseph (Joe) Seremane, die eerste swart nasionale leierskandidaat van die DA, blyk dit dat Seremane al voorheen die gedagtes van wit mense gelei het. Toe hy ’n seun was, het die Anglikaanse kerk hom as altar boy aangestel, wat indirek tot sy ontnugtering met kerkwees bygedra het. ’n Tronkbewaarder het tydens sy aanhouding en marteling onder die vorige bestel aan Seremane kom sê hy bid vir hom, al weet hy self nie hoekom nie, want hy meen steeds Seremane is ’n vyand van die staat. Hoewel sy aanhouders Seremane toe reeds tot in sy privaatste self gemartel het, is hy daarna raaiselagtig uit aanhouding gelei terwyl mede-stryders verdwyn het. ... Al is dit 17 jaar later, klop die gegewens in die verslag van Jan-Jan Joubert met die res. Joe Seremane het destyds ook sy raaiselagtige redding uit die tronk aan sy ma se onomstootlike geloof toegeskryf, en aan die totale aanslag van haar gebede saam met ’n groepie mede-gelowiges. Tussen graffiti in Soweto soos “We want revolution, not reform” en “Soweto is no zoo for whites – Tourist pigs, go home” het een plakker agterop ’n taxi immers gelui: “Woman is like a road The more she got curves the more she is dangerous.” Johnita le Roux



K 30023: Christendom en Islam afdelings van dieselfde geloof; Faith and modern world;

Burger, 12.03.2007 Johannes De Villiers [Resensent]
“Faith and Modern World, deur Vincent Brümmer. International Centre for Dialogue among Civilizations, Teheran, 2004. (Sagteband, ISBN?9 649 49059 0.)”
INDIEN Moslems en Christene hul onderlinge verskille probeer oorbrug en iets oor mekaar probeer leer, is dit al klaar goed. Maar gestel Moslems en Christene kan danksy hul ooreenkomste saam gesels (soos lede van dieselfde geloof) omdat albei groepe meer wil leer oor die God wat hulle albei aanbid? Vincent Brümmer, ’n Suid-Afrikaner van geboorte, maar geruime tyd reeds professor in godsdiensfilosofie aan die Universiteit van Utrecht, Nederland, vertel hy was in 2004 in Sjiraz, Iran, om vir Moslemgehore ’n week lank lesings aan te bied uit sy boek Atonement, Christology and the Trinity – Making Sense of Christian Doctrine. Die boek gaan oor swaargewig- Christelike sake, soos die naam aandui. Desondanks was die lesinglokale elke aand vol, selfs al was dit die eerste week van Ramadan. ...Vir sommige Christene kan dit vreemd klink. Maar as jy dan na Brümmer se stories luister oor hoe Moslems hom in Iran ontvang het, moet jy jou afvra hoeveel jy nou eintlik oor Moslems se geloof en hul ooreenkomste met jou weet. Arabiese Christene noem God Allah, merk Brümmer op.



K 30014: Toringkerk nou 100 jaar jonk; Maureen Joubert, Van alle kante; Burger, 12.03.2007

DIE 57 meter hoë toring van die Paarl se Toringkerk is ’n baken so bekend soos die Paarlrots. Aangesien dit net mooi in die middel van die dorp lê, is dit ’n nuttige verwysing vir plekke en adresse. As jy na aan die kerk woon, is die beiering van die klok om die kwartier ’n bekende klank, een wat jou in slapelose nagte minute laat aftel en ná reise weer welkom heet. So slaan die klok verlede Dinsdagmiddag sy deuntjie gevolg deur twee slae. Met goeie tydsberekening lui honderde selfone oor die Paarl en verder op die tweede slag, en SMS-boodskappe kondig aan dat presies op dié uur ’n eeu gelede die Toringkerkgebou ingewy is. ’n Kerk wat sy staan gekry het grootliks om moedertaalonderwys te beskerm. Die kerk is gebou 32 jaar nadat die gemeente gestig is en die klein kerkgebou uiteindelik uit sy nate gebars het. En hoewel uitbreidings op die dorp die standplaas vandag mooi sentraal maak, was dit destyds aan die noordelike deel van die dorp en is dit die Noorder-Paarl-gemeente genoem. Vandag is dit amptelik die Toringkerk-gemeente. .. mjoubert@mweb.co.za Paarl12 Maart 2007



K 30044: Die Bybel as ‘n slaanstok; Luister na getuienis en herinterpreteer die skrif; Julian Müller; Beeld, 13.03.2007

Met die Bybel kan jy bestraf of bemagtig, skryf Julian Müller oor die getuienis van gay Christene, die getuienis van die Skrif en wanneer die twee bots. ’N Teoloog sê die ander dag aan ’n gay persoon: “Ek slaap sleg as ek daaraan dink dat ek jou seermaak met my standpunt oor homoseksualiteit, maar die Bybel laat my nie toe om ’n ander standpunt te hê nie.” Hy sê dit vir iemand wat ’n gelowige is en in ’n verhouding van liefde en trou met iemand van dieselfde geslag leef. By ’n ander geleentheid is ’n gay teologiestudent genooi om sy getuienis met ’n werkgroep van ’n sinode te deel. Hy het getuig dat hy kernhomoseksueel is, maar ook ’n gelowige en geroepe voel vir die evangelie-bediening. Hy leef sy seksualiteit in ’n stabiele, vaste verhouding uit, sonder losbandigheid. Ná sy getuienis het een van die teoloë vir hom gesê: “Vir wie moet ek nou glo? Vir jou of vir Paulus?” Dit is inderdaad ’n ernstige dilemma as jou siening van wat die Bybel leer, in regstreekse kontras met die opregte getuienis van ’n mede-Christen staan. ... Só ’n herinterpretasie word eenvoudig afgemaak as onbybels en selfs onchristelik. Die waarheid is egter dat die ruimer standpunt oor homoseksualiteit op ’n verantwoordelike en diepgaande verstaan van die wesenlike waardes van die Skrif gegrond is. Hierdie standpunt word nie oor, namens en vir ander mense ingeneem nie. Dit ontwikkel op grond van ’n respekvolle proses waar gelowiges en teoloë van alle seksuele oriëntasies eerlik na mekaar luister en saam kom tot verantwoordelike uitleg van die Bybelse boodskap.



K 30027: Hervormers skop vas oor 'volkskerk'; Burger, 13.03.2007

HEIDELBERG. – ’n Groep van sowat honderd Hervormde predikante en ouderlinge het dit gister duidelik gemaak dat hulle ’n “volkskerk” wil bly. Die groep het op ’n byeenkoms van die HCM Fourie-stigting in Heidelberg, Gauteng, sterk kapsie gemaak teen die planne van die Hervormde Kerk se leiers om die term “volkskerk” uit die kerkorde te verwyder. Dit sou volgens verskillende sprekers kon lei tot skeuring in die kerk. Die beoogde verandering is een van ’n paar stappe wat die Hervormde Kerk moet doen voordat die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke hom weer as lid sou aanvaar. Die kerk moet ook ’n gesprek oor kerkeenheid met sy dogterkerk, die Maranatha Reformed Christian Church (MRCC), aanknoop en apartheid as sonde veroordeel. Op gister se vergadering was dit egter duidelik dat party Hervormers glad nie vir dié stappe te vinde is nie. ... Prof. Johan Buitendag, voorsitter van die algemene kommissie, het hulle vroeër as ’n klein groepie welsprekendes bestempel. Dr. Johan Steenkamp, voorsitter van die vergadering, het egter gesê hy meen 90% tot 95% van die lidmate dink soos hulle dink. Neels Jackson



K 30045: Volkskerk wil ons bly, sê 100 Hervormde leiers; Beeld, 13.03.2007



K 30029: Belangrike waarheid agter die spot; Allan Boesak, Godsdiens-Perspektief; Burger, 14.03.2007

DIE spotprent in Die Burger van laas Saterdag, soos dit ’n goeie spotprent betaam, tref die kol: Minister Mosiuoa Lekota op sy knieë “besig om die nuwe belydenis van Belhar af te lê”. Agter die spot, soos dit ook hoort, steek ’n belangrike waarheid: die Belydenis van Belhar is ook vir die ANC. Dit is wat Belhar is – ’n lewende belydenis, nie ’n formule wat formalisties-meganies in die kerkdiens fungeer nie, ook nie ’n stuk legalisme waarmee ons ander met papiergesag en ekskommunikasie dreig nie. Belhar is nie ’n stok om mee te slaan nie, maar ’n staf om mee te wandel. Belhar begin, soos Paulus, met die juigende belydenis dat God in Christus die wêreld met Homself versoen. God se liefde vir die wêreld dring God ook tot versoening met die wêreld. Eers daarna praat Belhar oor die versoening wat “sigbaar word” in die kerk. Dit is dus goed en van pas dat die Verenigende Gereformeerde Kerk, ná sy konfrontasie met die ANC oor die Adelaide Tambo-preekverbod, ook bereid was om die weg van versoening met dié organisasie te loop. ... Dit gaan hier nie om godsdiensvryheid soos deur die Grondwet gedefinieer en gewaarborg nie. Dit is eerder die vryheid van die Woord van God en die verkondiging daarvan in vryheid wat hier op die spel is. Albei kere in die tagtigerjare het ek my gewortel geweet in die Skrif en in die Belydenis. Hierdie keer dit weer so. So gesien, is die belydenis van Belhar nie so nuut nie. Dis so oud soos die Skrifte self. En vir die ANC, en vir ons, is dit goeie nuus.



K 30030: Besnydenis is MIV-deurbraak; Burger, 14.03.2007

KAAPSTAD. – Besnydenis by mans is tans dié belangrikste deurbraak in die voorkoming van MIV/vigs, al is dit moontlik dat vroue ’n groter gevaar van infeksie loop in die tyd kort ná die besnydenis. Dít is die mening van dr. Francois Venter, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir MIV/vigsklinici. Venter is om kommentaar genader oor die uitslag van ’n byeenkoms van die Verenigde Nasies in Switserland oor die potensiële uitwerking van manlike besnydenis op MIV/vigs in Afrika. Op dié byeenkoms is gesê dat indien MIV-positiewe mans hulle nie van seks weerhou terwyl hulle ná die operasie genees nie, hul vroulike bedmaats dalk ’n groter kans het om die virus op te doen. Vroeër het Sapa-AP berig besnydenis kan mans se kanse om die MI-virus op te doen, met tot 60% verminder.... Samarie Smith



K 30033: Fliek-simbool kom teen gosdslastering; ook TV-kanale gemonitor, sê Pelser; Burger, 16.03.2007

JOHANNESBURG. – Ná ’n stryd van byna vyf jaar gaan die Rolprent-en-Publikasieraad gelowige fliekgangers nou vooraf waarsku teen godslastering in flieks. Me. Shokie Bopape-Dlomo, uitvoerende hoofbeampte van die raad, het gister gesê die nuwe B-simbool teen godslastering word reeds toegeken deur die klassifikasiekomitee wat rolprente vooraf

beoordeel. Sy kon nie sê wanneer die eerste flieks met só ’n waarskuwing op die kringloop sou wees nie. Volgens haar is daar sterk druk deur die publiek uitgeoefen vir so ’n simbool. Die klassifikasiekomitee sal soos met die S vir seks, N vir naaktheid, V vir geweld en L vir ander kru taal, kyk hoe dikwels godslastering in ’n prent voorkom en hoe sterk dit is wanneer hulle besluit of ’n fliek ’n B-simbool moet kry of nie. Ds. Jannie Pelser, koördineerder van die Jesus-projek wat hom sedert 2002 teen die misbruik van die naam van God beywer, het gister gesê hy is “rasend opgewonde” oor die nuus. “Die Here sê mos jy moenie moed opgee

nie.” Hy verstaan van die raad dat dié simbool ’n eerste ter wêreld is. .. Pelser sê hulle het onlangs weer die misbruik van die Here se naam oor die senders van SABC1, 2 en 3 en e.tv gemonitor. Hoewel hy nie finale syfers het nie, is sy indruk dat die misbruik oor die drie SABC-kanale dramaties afgeneem het. Die B-simbool sal lastering volgens alle godsdienste dek en nie net op lastering teen Christene se godsdiens konsentreer nie. Neels Jackson



K 30035: Dit is régtig jammer oor Zamar; Burger, 17/03.2007

’N STORM het sowat ’n maand terug, pas voor Valentynsdag, om die kop van Veronica Bell losgebars nadat ’n Sondagkoerant berig het dat dié violis van die gewilde vrouegroep Zamar vir Doné McLuckie, die perkussiespeler, afgedank het omdat sy gay is. Volgens die berig het Veronica gesê sy glo nie dat homoseksualiteit God se wil vir ’n mens se lewe is nie. “Ek kon nie langer saam met Doné werk nie, want Zamar het ontstaan uit Christene wat saamwerk. My geloof is my realiteit, en Zamar is my baba.” Amanda Strydom het kort nadat die berig verskyn het, op die internetportaal LitNet soos volg gereageer: “Ek is verstom oor Veronica Bell se kil houding teenoor Doné McLuckie. Wie, madame Bell, gee jou die reg om ’n oordeel te vel oor ’n talentvolle vrou wat ’n reusebydrae tot Zamar gemaak het? En nou val die hele groep uitmekaar – wat ’n verskriklike verlies vir ons industrie! “As Christus vandag lewend onder ons was, sou Hy gewalg het aan jou gebrek aan liefde, begrip en empatie. Ek wens vir Doné, Hilandi en Anjulie ’n fantastiese toekoms. Vir jou, Veronica, bid ek dat jy gou verder sal sien as die venster in die tronk in jou kop. Haal die tralies af. Mens sien so(doende) baie verder. Liefde en lig.” ..* Veronica Bell het ’n uitnodiging om haar kant van die saak te stel, van die hand gewys. Suid-Afrikaanse gay vroue sukkel steeds om in die openbaar uit die kas te klim. Daar’s baie van hulle in die bedryf wat voel dat hulle hul seksualiteit moet wegsteek om “aanvaarbaar” vir hul gehore te wees. ’n Voorval soos hierdie maak dit nie vir hulle makliker nie. Dit terwyl ’n gay aktrise, Ellen Degeneres, onlangs die Oscars aangebied het. MARINDA EHLERS het ondersoek ingestel.



K 30053: Tutu: Wanneer ontwaak Afrika oor aaklige Zim?; Beeld, 17.03.2007

Kaapstad. – Afrika moet sy kop in skaamte laat sak oor die aaklige dinge wat in Zimbabwe aan die gang is, het emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gister in ’n hartstogtelike pleidooi aan die vasteland se leiers gesê. “O Afrika, my Afrika! O Afrika, onse Afrika! Hoekom verraai ons jou so genadeloos in Zimbabwe .?.?. en hoekom laat ons jou so sleg in die steek?” wou hy weet. Tutu het in ’n sterk bewoorde verklaring wat hy gister uitgereik het, gewonder of die vasteland werklik vir menseregte omgee. “Gee ons om dat mense, vlees en bloed, mede-Afrikane, soos vuilgoed behandel word – amper erger as wat hulle ooit deur waansinnige rassiste behandel is? “Wat moet nóg gebeur voordat ons leiers uiteindelik sal uitroep: ‘Genoeg is genoeg!’?” Die biskop se verdoemende kritiek kom in dieselfde week wat die Suid-Afrikaanse regering verklaar het dat, hoewel hy “bekommerd” is oor die situasie, Zimbabwiërs self hul probleme moet oplos. ... Deon de Lange



K 30054: NG Kerk bid vir nuwe leiers in Zim; Beeld, 17.03.2007

Die algemene sinodale moderamen (ASM) van die NG Kerk het gister besluit om te bid “vir ’n spoedige verandering in die leierskap in Zimbabwe”. Dít is die jongste kerklike stem van verontwaardiging en ontsteltenis wat opklink nadat die Zimbabwiese veiligheidsmagte ’n gebedsbyeenkoms van die opposisie met geweld uiteen gejaag het en opposisieleiers erg aangerand het. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het vroeër al sy ontsteltenis laat hoor, die Nasionale Raad van Godsdiensleiers het gister sy afsku oor die aanval op opposisieleiers uitgespreek en die Leadership Conference of Consecrated Life, ’n Suid-Afrikaanse Katolieke groep, het ook dié aanval veroordeel. Daarby het die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in ’n sterk bewoorde verklaring gesê geen regering het die reg om in te meng in ’n gebedsontmoeting tussen God en mense wat in Hom glo nie. ..



Rowers in uniform val kerkgroep aan; Beeld, Mar 21 2007

Een van drie rowers in polisie-uniforms het ’n Wes-Randse man twee keer by ’n selgroep-byeenkoms van sy kerk raakgeskiet. Die groep van die NG kerk Roodekrans het eergisteraand by mnr. Isak Els (50) se huis in Zebrinastraat, Breaunanda, bymekaargekom. Me. Eurika Els (47) was omstreeks 22:00 besig om vir die groep koffie te skink toe een van die rowers van buite die skuifdeur op haar losgetrek het. Volgens haar dogter, Elzette (18), het die skuifdeur oopgestaan en was daar nie ’n veiligheidshek voor nie. Elzette was nie self op die toneel nie, maar sê sy het verstaan haar ma het onder die tafel ingeduik, waarna haar pa die rower bestorm het. Nagenoeg nege skote is afgevuur. Mev. Els is nie gewond nie. Mnr. Els is een keer in sy regterarm getref en nóg ’n koeël het sy vingers skrams geraak. ... Kapt. Joseph Magoai, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens hom is nog niemand gearresteer nie en kon hulle nog nie vasstel waar die rowers die polisie-uniforms gekry het nie. Mnr. Els het gister aangesterk in die Netcare Krugersdorp-hospitaal, maar was buite gevaar.



Afbeeldings van Jesus bloei glo; Beeld, Mar 21 2007

Port Blair (Indië). – Duisende mense stroom na die huis van ’n polisieman in Indië se afgeleë Andaman-eilande om voor twee afbeeldings van Jesus te bid. Volgens ooggetuies “bloei” die afbeeldings al die afgelope twee weke. Mnr. Eric Nathaniel, ’n radio-operateur in die polisie, het gesien dat rooi vloeistof teen die afbeelding van Jesus afbiggel en hy het gedink dit is bloed. “Ons het kerse aangesteek en heelnag gebid. ’n Bietjie later het die bloed opgedroog, maar kort daarna het dit begin om teen die hart en hande van nog ’n afbeelding in die huis te biggel,” het Nathaniel gister vertel. Volgens amptenare is dit moontlik dat rooi verf wat in die afbeeldings gebruik is, weens die uiterste hitte gesmelt het, maar eilandbewoners en priesters het in bote van afgeleë dele van die Andaman- en Nicobar-argipel af gekom om te bid. “Dit is inderdaad ’n wonderwerk, en wys dat Jesus pyn verduur het weens ons sondes,” het mnr. John Chrysostom, ’n priester van die Anglikaanse kerk in Port Blair gesê. – Reuters



K 30050: Beskadiging van mense gebeur subtiel; Yolanda Dreyer, Godsdiens-perspektief; Burger, 21.03.2007

ONS land is in ’n morele krisis. Dít hoor ’n mens so dikwels soos “broadband, broadband, broadband” in ’n TV-advertensie. “Moraliteit” is altyd met seksuele gedrag verbind. Aanvaarbare gedrag was “moreel” en onaanvaarbare “immoreel”. Aanvaarbaar het natuurlik beteken: tradisioneel, wettig en heteroseksueel. Wat sulke “morele persone” verder aan ander en selfs aan hul eie menswees gedoen het, was nie ter sake nie. Die huidige morele krisis in die land gaan egter om méér as seksuele gedrag. Sien moraliteit so breed soos die tweede helfte van die Christelike Groot Gebod – “jou naaste liefhê soos jouself” – dan sluit immoraliteit alles in wat mense seermaak of skade berokken. ... Die probleem is nader aan die huis. Wat is my aandeel in die seermaak van ander? Wat kan ek doen om beskadigde mense te heel? Om slagoffers te help, kan dit vir my ongemaklik maak. Is ek bereid? As almal in dié land ’n morele lewe lei, sal die wêreld ’n beter plek kan wees.



K 30049: Wat sê die Bybel ... regtig? Forum, Johannes de Villiers; Burger, 21.03.2007

DAAR is ’n (waarskynlik apokriewe) storie oor ’n kerk in Nederland wat, soos die res van die kerkwêreld, oor homoseksualiteit gedebatteer het. Dié mense wou nie onverdraagsaam lyk nie – dit is immers Nederland – maar het hulle telkens vasgeloop in die Bybelverse wat lyk asof dit homoseksualiteit veroordeel. Uiteindelik het hulle toe maar ’n beleid geformuleer wat uit slegs twee sinne bestaan: 1. Die Bybel veroordeel homoseksuele gedrag. 2. Ons stem op dié punt nie met die Bybel saam nie. Die aannames wat dié staaltjie onderlê, is iets wat ’n mens wyd in kerkkringe vind: dat die Bybel homoseksuele gedrag en verhoudings duidelik veroordeel; en dat die gay-debat gevoer word tussen mense wat bereid is om die Bybel te gehoorsaam en diegene wat net nie wil luister nie. Die debat oor wat in die Bybel oor homoseksualiteit staan, het die laaste paar weke weer begin luier in die aanloop tot die algemene sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Junie, wanneer dié kerk ná jare van uitstel en wroeging ’n beleid oor hierdie kwessie moet aanvaar. ...



Dienkie Froneman

ABID

ngkinlig@mweb.co.za

t 021 882 9923 ; f 086 510 5933

No comments: