2006-05-11

Mosaïek

Tye

Die Mosaïek-diens vind plaas elke Sondagaand behalwe langnaweke en skoolvakansies. Dit is 'n mengeling (sien definisie hieronder) van lofprysing, aanbidding, bespreking, sosialisering en nadenke. 'n Verskeidenheid van temas (sien "temas" hieronder) word onder die loep geneem en op 'n verskeidenheid van maniere aangebied.

Wat beteken "Mosaïek"?

Die woord "mosaïek", beteken volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), die volgende:

1 Inlegwerk van glas, teëls, marmer, ens. van verskillende kleure, wat saam ’n beeld of figuur vorm. 2 ( fig. ) Mengeling van uiteenlopende bestanddele wat aan ’n mosaïek herinner.

Dit is juis wat hierdie diens is: "mengeling van uiteenlopende bestanddele." Nie net word 'n verskeidenheid van temas behandel nie, maar is dit 'n mengeling van die intelektuele en die emosionele, van lofprysing en aanbidding, en van die nuwe en die tradisionele.

Volgende tema:

13 Augustus - 17 September - Nuwe lig op Openbaring

Daar heers baie verwarring oor Openbaring! Elke dan en wan is daar nuwe plakkate teen die bome wat weer een of ander spreker wat weer een of ander profesie of voorspelling op grond van Openbaring propageer.

Maar hoe moet ons Openbaring dan verstaan! Ons moet in die eerste plek onthou dat Openbaring geskryf is vir mense van die eerste eeu na Christus. Die mense wat in daardie tyd geleef het, het die wêreld nie gesien soos ons dit sien nie. Hulle "televisie" was nie 'n kassie in die sitkamer nie, maar die naghemel. Hulle "sepies" was nie Sewende Laan en Isidingo nie, maar allerhande wonderlike verhale van gode en hulle doen en late.

Om Openbaring werklik te verstaan, moet ons die leefwêreld van die mense van daardie tyd in ag neem. Dis nie 'n boek wat vir moderne mense - soos ons - geskryf is nie. Dit het egter wel baie te sê - ook vir ons! En dié boodskap is bemagtigend en bevrydend.


(Daar is nie 'n Mosaïek-diens op 27 Augustus nie)

No comments: