2006-07-24

Jongste Kerknuus

INLIG AKTUEEL 23/2006 VIR DIE TYDPERK 14 tot 20 JULIE 2006

KERK - NUUS VAN HEINDE EN VER


Kerkeenheid: wie luister en wie sê?; Rapport, Sondag, 16.07.2006, p 23 BE Erasmus, Groot-Brakrivier
Twee sake oor kerkeenheid verdien aandag. In verlede week se Rapport plaas mnr Christian Martin die vertraging in kerkeenheid vierkant op die skouers van die NGK omdat hy nie die Belydenis van Belhar wou aanvaar nie en nog minder verskoning wou vra vir sy steun aan apartheid. Die Belydenis van Belhar is nog nie deur die NGK aanvaar nie en 'n magdom van sy lidmate sal dit in der ewigheid nooit aanvaar nie. Maak dus maar vrede daarmee.
Wat die tweede kwessie betref: Verskeie wit organisasies het reeds tot vervelens toe om verskoning gevra, maar bitter min hiervan is aanvaar deur die benadeeldes. Wanneer kan ons aanvaarding te wagte wees en dan ook die ver gifnis wat daarmee gepaard moet gaan? Ons bevind ons tans in “'n seisoe van luister” waar ons veronderstel is om na mekaar te luister, maar wie luister na wie? Volgens die berig “Kerkeenheid kom!” (Rapport, 25 Junie) “sal” die huidige formaat van die VGK en NGK ophou bestaan en “sal” hulle saamsmelt. Dit sluit nuwe belydenisskrifte en nuwe kerkordes in. Dit alles sal na alle kerklike vlakke geneem word vir die skep van nuwe strukture (Let wel, nie vir oorweging nie!) Ek vra weer: wie luister en sie sê?
Misvattings oor die NGK as 'n apartheidstruktuur is vir sommige genoegsame “rede” waarom die NGK tot kerkeenheid gedwing moet word. Vir die voorstanders en drukgroepe van kerkeenheid is dit belangrik om hul strategieë só te beplan dat beheer oor veral die bates van die NGK behou moet word. Voorat die politiek nie uit hierdie saak verwyder word nie, sal ek my nooit met kerkeenheid kan vereenselwig nie. Die voorstel is: skep eers die nuwe kerk met naam, belydenisskrifte, kerkordes, taalbeleid en wat nodig is. Vra dan die gemeentes in die NG familie om aan te sluit. Dié wat nie hul weg oopsien nie, bly voortbestaan binne hul huidige ordes. Dis mos die logika waarop so iets gegrond moet word.

Net Sondag bly oor; Die Burger, Vrydag 14.07.2006, p 18, Alet Brand, Monte Vista
Met verwysing na Japie Coetzee se brief (Brieweblad, 7/7) oor Sondae, wil ek sê: Baie dankie vir die inligting oor daardie datums. Ek het nog altyd gewonder hoe dit gebeur het. Êrens in 'n week van Maandag tot Sondag moet daar een dag wees wat geheilig moet word. Aangesien ons van Maandae tot Vrydae - en party mense ook Saterdae - werk, bly daar net een dag oor, naamlik Sondag.
Al wat ek probeer sê, is dat die mensdom vergeet wat die Here van ons verag. Hy sê tog ses dae moet jy arbei en die sewende dag moet jy rus. Hoe gaan ons dit doen as dan nou nie meer 'n sewende dag oop gelos word nie omdat sport dit oorgeneem het?

Net Sondag-Christene; Die Burger, Saterdag, 15.07.2006, p 14, Toktokkie, Bredasdorp
Mense se siening oor die etiket van Sondag-Christenskap verbaas my altyd. Dit is asof hulle hul kaartjie na die hemel wil koop met die wete dat hulle op 'n Sondag kerk toe gaan en hulself daardeur verontskuldig. In die kerk debatteer hulle dan oor sake soos homoseksualiteit, en daag God uit oor sake waaroor net Hy kan besluit en beheer het.
In die ou dae was winkels nie op 'n Sondag oop nie, maar hoeveel van ons onthou die lekker daarvan om laatmidadg 'n roomys by die kafee op die hoek te koop? Boonop benodig ons dikwels brandstof vir die Sondagmiddag-uitstappe. Die Sondagkoerant, o die Sondagkoerant, waar daar heerlik geskinder word oor die skandes van ons volk gedurende die week. Hoe rein is dit?... Wanneer ons kyk na ontspanning, het die meeste mense vandag slegs gedurende naweke tyd om te doen wat hulle behaag en om net effens uit die materiële wêreld te ontsnap. Soos drawwers wat oor naweke aan marathons en pretdraf-aktiwiteite deelneem...Doen Christen-drawwers dit net tot Saterdag? Is diegene wat 'n mens op 'n Sondag sien draf, slegs heidene? Is daar 'n verskil in die eerbied vir die Sabbat van 'n Jood, Moslem en Christen? En dan verneem ek dat die draf-aktiwiteit endorfiene in die brein afskei wat mens in 'n toestand van euforie/meditasie bring - een met jou Skepper, dis 'n goedvoel-ervaring - tog 'n gawe en talent. Myns insiens is die Sabbat vir elk 'n instelling wat daagliks op een sewende van elke dag toespaslik is, net soos die tiende wat jy gee deur nie te oordeel nie en te help soos jy kan...

Welsynsgroepe moeg gewag vir Lotto-geld; Sentrum vir dowes het dringend hulp nodig; Beeld, Donderdag, 13.07.2006, p 19, Eagan Williamson
Die Nasionale Lotery-raad (NLR) het die afgelope n\week onder skoot gekom weens die vertraging in die uitbetaling van toelaes aan 'n horde welsynsorganisasies. Die aanstelling van 'n nuwe loteryraad word glo deur die NLR aangevoer as die rede hoekom die uitbetalings nog nie gedoen is nie. Die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremdes in Lynnwood-Glen, Pretoria, is een van die talle welsynsorganisasie wat reeds ongeveer 'n jaar wag om te hoor of hulle geldelike hulp van die raad gaan kry.... “Ons sit met ons hande in die hare. Die sentrum het vreeslik gegroei en ons nie voorbly met kinders wat hulp nodig het nie.” Mnr Sershan Naidoo, woordvoerder van die loteryraad, het glo gister in 'n telefoniese gesprek vir Vermeulen gewaarsku dat mense nie staat moet maak of afhanklik raak van dié geld nie... Verskeie poging om Naidoo gister vir kommentaar op te spoor, was onsuksesvol.

Kerkman teen evolusie in hof oor taks; Die Burger, Saterdag, 15.07.2006, p9, Leon-Ben Lamprecht
KAAPSTAD - 'n Omstrede evangelis wat in Augustus in Suid-Afrika sou optree, is in hegtenis geneem vir onder meer belastingontduiking. Dr Kent Hovind van Creation Science Evangelism is bespreek om in Augustus in Suid-Afrika op te tree, onder meer by die His People-sentrum in Goodwood. Hovind is 'n uitgesproke kreasionis en kritikus van evolusie. Die Pensacola News Journal het Donderag berig Hovind is aangekeer op 58 klate wat insluit belastingontduiking en die dreig van amptenare. Sy vrou, Jo, is ook op 44 klagte in hagtenis geneem. ... Volgens mnr André Immelman, verteenwoordiger vir Power Ministries wat Hovind na Suid-Afrika bring, is dit te vroeg vir hulle om te reageer... “Dis 'n Christelike aangeleentheid en sal hanteer word op 'n Christelike wyse,” het hy gesê...

Afgestomp; Die Burger, Saterdag, 15.07.2006, p 14, DJS
Dis verstommend hoe maklik ons afstomp. En hoe totáál selfs onbewus van hoe onbewus ons is! Ons gaan voort met roetine-handeling, volg gebruike en gewoontes, doen werktuiglik wat ons so lankal doen, maar kom dit nie eens meer agter nie. Ons huldig ou-ou opnies, gee standaard-reaksies, koester lank reeds gevormde waarde-oordele, maar besef nie dat ons lankal opgehou met met eerlik vra en wonder nie.... Nee, ons leef daakliks met ander saam, in gesinne, met kinders, vriende, kolegas - maar dalk horende doof, siende blind, afgestomp, en volslae onbewus... Die aartsbiskop moes glo tydens 'n staatsgeleentheid voorgaan in 'n stampvol kerk, ene hoogwaardigheid. maar die klankstelsel pla. Met die gevroetel fluister - of so dóg hy - there is something wrong with this microphone.. Maar dit weergalm, en soos één dreunsing die skare: And also with you.

Advertensie van Jesus met bier skok Texas;
Die Burger, Vrydag 14.07.2006, p 14, Charles Smith
WASHINGTON - Jesus wat met 'n bier in die hand pryk op 'n reuse-reklamebord langs 'n hoofweg het motoriste in Houston in die Amerikaanse staat Texas geskok. Die advertensie lui: “King of the Jews. King of Beers.” In die middel is Jesus met 'n Budweiserbier in die hand. Die plakkaat het klaarblyklik oornag op die reklamebord verskyn en niemand weet wie is verantwoordelik daarvoor nie... Luidens berigte hier stem dit ooreen met die werk van die onrusstoker Ron English, wat juis 'n ruk in die stad was... Die plakkaat op die reklame bord het so vinnig verdwyn soos wat dit verskyn het nadat die media in die stad daaroor berig het. English het nog nie gesê of hy dit gemaak het of nie.

Herrie oor Jesus wat 'die koning van bier' is; Rapport, Sondag, 16.07.2006, p 17, Charles Smith
WASHINGTON - Het Jesus bier of wyn gedrink? Dit is dalk na die beheptheid met hierdie kwessie in Amerika wat 'n kunsanargis die afgelope week in Houston, Texas gemik het met sy reuse-plakkaat waarop Jesus met 'n bier in die hand pryk. Dit blyk 'n stuk swart kommentaar te wees oor 'n land wat mal is oor bier, waar vreemde teorieë en debatte binne 'n dag kultusstatus bereik en godsdiens blitsvinnig verdraai kan word.... Ene Micheal M Homan van die Xavier-universiteit in Louisiana het al 'n wetenskaplike artikel geskryf waarin hy elke teken in Hebreeus wat met drank verband hou, ontleed. Hy maak die gevolgtrekking dat drank wat in die Bybelse tyd gedrink is, hoofsaaklik van mout gemaak was. “Die antieke Israeliete, soos hul bure, het bier geniet,” skryf hy...

Heks ná 300 jaar vrygespreek; Beeld, Woensdag, 12.07.2006, p 8, Sapa-AP
VIRGINIA BEACH (VIRGINIË) - Dit het 300 jaar geduur, maar die enigste veroordeelde heks in die Amerikaanse staat Virginië is eindelik vrygespreek. Mnr Timothy M. Kaine, goewerneur van die staat, is gevra om Grace Sherwood, wat deur water verhoor is, vry te spreek. Sherwood is daarvan beskuldig dat sy haar kragte gebruik het om te sorg dat 'n vrou haar baba verloor. Op 10 Julie 1706 is Sherwood se duime aan haar tone vasgemaak en sy is in 'n rivier gegooi. Die feit dat sy gedryf het, het glo beteken sy was 'n heks.

ZIMBABWE

Zim se kerke skop Magabe-makker uit;
Beeld, Dinsdag, 11.07.2006, p 15, Barnabas Thondhlana
HARARE - Pres Robert Mugabe se houvas op Zimbabwiese kerke is verlede week'n knou toegedien toe biskop Peter Nemapare, wat Mugabe en die regerende Zanu-PF-party openlik steun, uit die Zimbabwiese Raad van Kerke (ZCC) geskop is. Nemapare, biskop van die Afrika-Metodistekerk in Bulawayo, was president van die ZC, 'n sambreelliggaam vir tradisionele kerke. Nog voordat hy sy volle ampstermyn voltooi het, het meer as 55 uit 62 biskoppe en leiers van kerklike denominasies by die ZCC se halfjaarlikse byeenkoms teen hom gestem. Volgens bronne wat die vergadering bygewoon het, is Nemapare daarvan beskuldig dat hy met Zanu-PF geheul het om Christene by dié party te betrek. Hy is vervang deur biskop Wilson Sitshebo van die Anglikaanse kerk in Matabeleland. Die atmosfeer was glo só gespanne dat Nemapare selfs nie suksesvol was in sy poging om as adjunkpresident, tesourier of komiteelid verkies te word nie....
Die ZCC, die Zimbabwiese Konferensie van Katolieke Biskoppe en Evangeliese Genootskap van Zimbabwe het Mugabe vroeër by sy ampswoning ontmoet waar ooreengekom is dat die nasionale dag van gebed wat jaarliks op 25 Mei gehou word, geskrap en vervang sal word deur die “Zimbabwiese nasionale dag van gebed” wat deur Zanu-PF ondersteun word.

Mans wat soen dalk misdaad; Nuwe Zim-wet kan gays laat ly; Beeld, Dinsdag, 11.07.2006, p 7, Barnabas Thondhlana
HARARE - Gays gaan in die toekoms nóg swaarder kry in Zimbabwe aangesien dié land nou sy omstrede wet teen sodomie verder uitgebrei het - soveel só dat selfs 'n omhelsing of 'n soen tussen twee mans nou 'n misdaad kan wees. Die verandering aan die land se strafreg-wet is reeds twee jaar gelede deur die parlement aanvaar, maar het die afgelope naweek eers in werking getree. Regskenners, die polisie, staatsaanklaers en regter het reeds gekla dat hulle nie genoeg inligting en opleiding het om dié wet toe te pas nie. Ingevolge die nuwe wet word sodomie nie meer beperk tot seks tussen twee mans nie. Dit sluit nou enige fisieke kontak tussen mans in wat deur 'n redelike persoon as 'n onsedelike handeling beskou kan word.... Zimbabwe is reeds bekend om sy onverdraagsaamheid teenoor gays en weier om enigsins na die pleidooie van gay drukgroepe in die land te luister... Die veranderings in die strafreg-wet het ook verskeie ander nuwe elemente, waaronder wyer definisies van aanranding en seksuele aanranding...


KUNS
Claerhout se warmte, liefde by mis gedenk; Beeld, Donderdag, 13.07.2006, p4, Magdel Fourie
BLOEMFONTEIN - “In die laaste jare van sy lewe het vader Frans Claerhout homself begin verstaan as 'n sonvanger en moedig hy ons aan om ook sonvangers te wees.” Dít was die woorde van vader Emmanuel Mosoeu, leier van die Rooms-Katolieke gemeenskap in die Bloemfontein-streek, gisteroggend tydens die dodemis vir dié wêreldbekende skilder en beeldhouer in die Sacred Heart-katedraal in Bloemfontein. Minstens 500 mense het dit bygewoon... Volgens hom het Claerhout die son vergelyk met iets wat warmte, liefde en lig gee. Sy lewensdoel was om dit in homself vas te vang en daardeur die wêreld 'n beter plek te maak - óf deur sy kunswerke óf deur evangelisasie. Dit is juis danksy Claerhout se groot liefde vir mense van alle ras- en kultuurgroepe dat hy 'n besondere manier gehad het om mense met mekaar te versoen. Claerhout is ná die diens finaal ter ruste gelê in die Memoriam-begraafplaas in die stad.

Laat priesters trou, sê aartsbiskop; Beeld, 14.07.2006
Aartsbiskop Emmanuel Milingo, omstrede Katolieke aartsbiskop van Afrika en geloofsgeneser wat uit Sun Moon se Verenigingskerk getrou het en later weer na die Rooms-Katolieke Kerk teruggekeer het, het weer die Vatikaan omgekrap. ... Nadat hy verlede maand vermis geraak het uit sy klooster naby Rome, het hy sy reputasie as ‘n afvallige gestand gedoen en ‘n media konferensie gehou waarin hy aangekondig het dat sy nuwe taak is om die Vatikaan te oorreed om priesters toe te laat om te trou. ...

Leraars sê nee vir tweede doop: Ds Jannie se plan kry wind van voor in sy eie ring; Beeld, 15.07.2006
12 Leraars van die NG Kerk se Krugersdorpse ring het hulle sterk uitgespreek teen die planne van een van die ringsgemeentes, Rant-en-Dal, om ‘n tweede of bekeringsdoop te bedien. Ds Jannie Pelser leraar van Rant-en-Dal, voer onder meer aan dat ‘n tweede doop ‘n manier is om lidmate wat ‘n behoefte het aan so ‘n bevestiging van hul bekering, daarvan te weerhou om die kerk te verlaat om elders gedoop te word. Sy ringskollegas aanvaar egter nie die argument nie. Hulle sê hulle ervaar dit nie in hul bediening nie en hulle kan nog altyd lidmate met so ‘n behoefte pastoraal begelei. Hulle meen ook dit is jammer dat die saak op die spits gedryf word met ‘n houding van ‘ons kan nie langer wag nie’. ... Oor die doop self sê die ringspredikante dat dit ‘n teken van God se beloftes is. Daarin moet mense hul vastigheid vind. Die doop moet die teken bly waardeur God met gelowiges praat en nie ‘n manier gemaak word waardeur hulle Hom antwoord nie. ... Om nog ‘n doop te bedien is om terug te gryp na ‘n onvolkome doopteken voor die kruisiging en opstanding van Christus. ...

Aanvaarding; ‘n Woord onderweg, deur André van Niekerk; Beeld, 15.07.2006
Terwyl ons aandring dat die regering sy beskermingstaak beter moet uitvoer, het ons self ‘n dure plig. Straf skrik misdadigers af maar ‘n tronk maak mense nie inherent goed nie. Van môreaand af span kerke met SABC2 saam in ‘n reeks van 8 kort rolprente oor morele waardes (www.heartlines.org.za) ‘n Mens hoop dat dit ‘n era inlui waarin ons saam verantwoordelikheid aanvaar vir die morele heelmaking van ons land. Dat die reeks met ‘n rolprent oor aanvaarding begin, is heel gepas. Nie alleen is God se aanvaarding van mense die kern van die Christelike geloof nie, maar dat mense nie aanvaar word nie, is ‘n grondoorsaak van die morele vakuum wat ons beleef. Mense wat uitgesluit en minderwaardig voel, het immers min respek vir hulself en dus ook vir ander. ...

Kerke opgewonde oor SAUK se waardesplan; Beeld, 15.07.2006
Opgewondenheid heers in kerklike geledere oor die Heartlines veldtog wat hierdie naweek op TV uitgesaai word. Die veldtog wil SA oor hul waardes laat nadink en gesels. ’n Uurlange drama gaan elke Sondagaand van môre-aand af vir agt weke oor SABC2 uitgesaai word waarin daar telkens op ’n ander waarde gefokus word. Kerke gaan dit opvolg met onder meer groepbesprekings en eredienste om te help met die land se morele herlewing.
Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê dié kerk is “gereed en gerat” om die saak in gemeentes verder te voer. Die beskikbare Heartlines-veldtogmateriaal is goed saamgestel en gemeentes het dit reeds.
In die Rhema-Bybelkerk word mense aangemoedig om die programme te kyk en besprekingsmateriaal is na al die selgroepe versprei. Volgens past. Ray McCauley is die projek ’n goeie ding op die regte tyd.
Dr. Allan Boesak, assessor van die Verenigende Gereformeerde Kerk, het gesê hy is in beginsel opgewonde daaroor, maar mense sal eers daarna wil kyk voordat hulle besluit of en hoe hulle dit verder kan voer....

Spesiale sinode kom dalk oor vroue; Beeld, 18.07.2006
‘n Buitengewone nasionale sinode sal volgende jaar moet probeer om die onrus in die Gereformeerde Kerke in SA, oor die vrou in die predikant- ouderling- en diakenamp te probeer besweer. ... As ‘n buitengewone sinode op Klassis Potchefstroom se plan gehou word, sal elke gemeente in die GKSA een ouderling en een predikant daarheen kan stuur. Dit sal ‘n sinode van byna 6oo afgevaardigdes meebring wat baie meer verteenwoordigend sal wees as die normale nasionale sinodes. Die sinode sal oor minstens 4 dae gehou word.

Petrolbom beseer 24 in kerkdiens: Beeld, 18.07.2006
Blantyre, Malawi. Minstens 24 kerkgangers is beseer toe ‘n man gister ‘n petrolbom in die stampvol RKKerk in Lilongwe, die land se hoofstad, laat afgaan het. Hy het volgens ooggetuies die bom in ‘n plastieksak versteek en nadat dit ontplof het, het hy ‘n venster gebreek en uit die kerk gevlug. ...

No comments: