2007-03-16

Beeld

'n Reaksie van 'n leser op Julian Müller se artikel.

Omdat ek nie eenvoudige oplossings vir ingewikkelde teologiese kwessies wil of kan aanbied nie, lewer ek nie kommentaar op Prof. Julian Müller se interpretasie van homoseksualiteit in sy artikel Die Bybel as ’n slaanstok (13 Maart) nie. Sekere van sy basiese aannames het egter wel betrekking.

Gelowige Christene het nie toegang tot die binnekring van skrifgeleerdes wat omstrede kwessies in diepte en met meerdere kennis debatteer nie. Ons is dus tot ’n mate uitgelewer aan, en verwag inderdaad van die geleerdes om sinvolle Bybelse verklarings binne die konteks van enige tydvak te gee.

Dié oop benadering stel egter die Bybel bloot aan weersprekende interpretasies, wat kan lei tot ’n Babelse verwarring by gelowige Christene.

Ek het waardering vir prof. Müller se hantering van kwessies soos die skeppingsverhaal en fundamentele Christelike standpunte, maar kan nie help om te wonder oor uitsprake soos “. . . of die huidige ervaring van mense weerklank vind in die Bybel” nie.

Is dit so dat wanneer die openbare mening nie meer versoenbaar is met die Bybelse leringe nie, dit dan in die Bybel reggestel moet word? Is dit so dat Christelike etiek bepaal word deur wat vir die (sekulêre) mensdom verteerbaar is?

En verder: “. . . en daarom is hulle ook nie oop vir herinterpretasie van die Bybel nie.” Prof. Müller moet waak om nie in sy eie slagyster te trap nie.

Ek merk op dat in die boek The Gospel of Judas wat onlangs uitgereik is, die geleerde skrywers, wat teoloë insluit, sê die waarde van dié ontdekking lê daarin dat dit ’n “alternatiewe Christelike geloof” (her)bekendstel. Die gevaar lê daarin dat ons deur onverantwoordelike interpretasie van die Bybel ’n alternatiewe geloof skep wat vaagweg en op ’n vergeestelikte manier verband hou met die fundamentele leerstellinge van die Bybel.

Wikus Joubert, Tzaneen

1 comment:

Wollie said...

Ek dink Prof. Julian Muller se weergawes van wat in die Bybel staan is soos troebel waters.
1 Kor. 1:17 Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.
1 Kor. 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
1 Kor. 1:19 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.
1 Kor. 1:20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?