2007-03-16

Loop die Lydenspad agter Jesus aan

Geleentheid vir Geestelike Groei

Agt dae. Na hierdie agt dae sou die wêreld nooit weer dieselfde wees nie. Vanaf die eerste Palmsondag tot die eerste Paassondag het ‘n drama afgespeel waartydens die magte van die bose probeer het om die Lig uit te doof.

Elke jaar kry ons die geleentheid om hierdie drama te herleef deur dit op verskeie maniere te vier. Ons stap saam met Jesus, ly saam met Hom, sterf saam met Hom, en staan saam met Hom op. Deelnemers aan hierdie viering beleef hoe die krag van Jesus se opstanding opnuut in hulle werk. Hierdie week staan bekend as die Groot Lydensweek.

Sondag 1 April om 09:00
(Palmsondag)
Hierdie week begin op Palmsondag. Jesus se intog in Jerusalem word herdenk. Dieselfde skare wat later "Kruisig Hom!" sou skree, skree nou "Hosanna!". Ons vier dit in die erediens met 'n spesiale liturgie en palmtakke.

Maandag 2 April om 19:00
Ons herdenk Jesus se reiniging van die tempel. Hy demonstreer op 'n dramatiese wyse dat God se genade bedoel is vir almal en dat dit moet deurbreek na diegene wat op die kantlyn van die lewe staan.

Dinsdag 3 April om 19:00
Ons dink veral aan Jesus se strydgesprekke met die Fariseërs – weer eens beklemtoon Jesus die omvattendheid van God se genade. Aan die einde van dag kyk Jesus en sy dissipels vanaf die Olyfberg oor Jerusalem uit, en Jesus praat oor die einde van die stad.

Woensdag 4 April om 19:00
'n Rusdag vir Jesus. 'n Dag waarop Hy gesalf word met duur nardusolie. 'n Dag van afwagting en voorbereiding.

Donderdag 5 April om 19:00
Sononder begin die Groot Drie Dae. Ons vier dit met een groot ononderbroke erediens. Ons begin deur as 't ware saam met Jesus en sy dissipels 'n laaste maal saam te eet. Ons herdenk die voetwassing asook die gebeure ná die maaltyd: Jesus se angsbevange gebed in Getsémané, sy gevangeneming en verhoor. Ons beleef saam met Hom die houe, die gespot en gehoon.

Vrydag 6 April om 09:00
Ons herdenk die dieptepunt van Jesus se lyding, die kruisiging. Ons staan stil by elkeen van die sewe kruiswoorde van Jesus. Ons bly by Hom terwyl Hy vasgespyker word (die derde uur, 09:00), ons hoor hoe Hy uitroep: "Dit is volbring!" (die sesde uur, 12:00), beleef die drie ure van duisternis; en word simbolies saam met Hom begrawe net voor sononder.

Saterdag 7 April om 22:30
Na 'n tyd van stilte en gebed vanaf Vrydag 10:00, keer ons terug na die kerkgebou, soos die vroue na die graf. Ons vier die leë graf, die oorwinning van die lig oor die duisternis, Jesus se opstanding. Hiermee saam vier ons weer ons eie doop en beleef ons opnuut weer hoe dat God sy liefde en genade oor ons uitstort. Dopelinge word gedoop en katkisante lê belydenis van geloof af. En ons vier weer die Nagmaal.

Sondag 8 April om 09:00
Opstandingsfees. Ons vier weer eens, hierdie keer in daglig, die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood. Hoe kan ons opstanding vier as ons nie die week saam met Jesus geloop het nie? Ware vreugde was nog altyd die uitvloeisel van 'n tyd van duisternis en lyding.

Om saam met Jesus die lydenspad te loop het groot geestelike waarde. Vir eeue lank was dit vir Christene belangrik om dit wat Jesus vir ons gedoen het te herdenk.
Terwyl ons onsself inleef in die gebeure van die Groot Lydensweek, word ‘n diep spiritualiteit in ons gevorm. Hierdie spiritualiteit word ‘n bron van geestelike krag vir die res van die jaar.

Hierdie gebeure laat ‘n onmiskenbare merk op ons geestelike lewe. Soos wat swaarkry hoop en geloof tot gevolg het (vgl. Rom 5), so plant die Groot Lydensweek die saad van ware vreugde in ons harte.

No comments: