2007-03-15

Die agtergrond van die boek Jona

Wanneer is Jona geskryf?

In die geval van die boek Jona is dit belangrik om te weet wanneer dit ontstaan het. As 'n mens aanvaar dat die boek 'n voorbeeldvertelling is - 'n kategorie van die onderwysende literatuur - besef jy dat die skrywer dit vir 'n spesifieke gehoor in 'n spesifieke situasie bedoel het. Maar dit is nie maklik om die boek te dateer nie. Ons het nie soos by die profeteboeke 'n aanduiding van wie die koning was toe die boek geskryf is nie.

Ons moet maar die taal van die boek as 'n leidraad gebruik. Daar is 'n hele paar woorde in Jona wat nie voor 'n sekere datum in Hebreeus voorkom nie. So byvoorbeeld ken ons die woorde wat vir "beskik" en "tienduisend" gebruik word en 'n uitdrukking soos "die God van die hemel" slegs uit geskrifte wat geskryf is tydens of ná die Babiloniese ballingskap wat in 587 vC begin het. Dit lyk verder of die boek steun op predikers wat tydens en rondom die ballingskap geleef het, soos blyk as ons Jona 3:10 met Jeremia 18:7-8 vergelyk. Om hierdie redes reken mense vandag dat die boek tussen die vyfde en derde eeu vC ontstaan het.

Wie was die eerste lesers van Jona?

Die Babiloniese ballingskap het die populêre Joodse geloof laat wankel. Die tempel was verwoes, die troon van koning Dawid was leeg en die beloofde land was net 'n pynlike herinnering. Al die dinge wat hulle hulle nasionale identiteit gegee het, was van hulle weggeneem. Die boonste lae van die samelewing is na 'n vreemde land weggevoer. Maar daar was ook dié wat in die land agtergebly het. Al die oud-Judeërs is gedwing om nuut oor hulle identiteit en hulle God te dink.

Onder die groep wat in ballingskap weggevoer is, was daar ten minste twee sienings omtrent hulle lot. Party het die ballingskap as hulle welverdiende straf gesien. Dié straf sou egter verbygaan en dan sou God hulle aansien herstel. Vir hulle het dit beteken dat Jerusalem weer opgebou sou word en dat 'n nasaat van Dawid weer op die troon sou sit. Dan sou Israel hulle kon wreek op die nasies wat vir hulle soveel lyding veroorsaak het. Maar daar was ook ballinge wat gereken het dat die ballingskapsituasie hulle die geleentheid gee om hulle eintlike taak te vervul. God se plan het nie misluk nie. Daar waar hulle in verstrooiing sit, het hulle die unieke geleentheid om getuies van God te wees sodat die ander nasies tot aanbidding van die ware God gebring kan word. Die belofte aan Abraham dat hy tot 'n seën van die nasies sal wees, kan nou eers regtig vervul word. In hierdie teologie word Jerusalem onbelangrik. Húlle is die lydende knegte van die Here.

Maar dié wat in die land agtergebly het, het sake anders gesien. Hulle het gereken dat diegene wat in ballingskap weggevoer is die skuldiges is. Die bannelinge was in hulle oë ver van die Here af, maar hulle wat agtergebly het, was die oorblyfsel waarvan die profete gepraat het. God het die land aan húlle gegee.

Daar was dus twee groepe met 'n soort bloed-en-bodem-teologie: een groep in ballingskap en 'n ander groep wat agtergebly het. Ná die terugkeer uit ballingskap, in die tyd van Esra en Nehemia, was daar heelwat spanning tussen hierdie groepe.

In die tyd van die ballingskap het daar egter 'n belangrike ontwikkeling plaasgevind. Daar in die ballingskap het die Jode geen koning of tempel gehad om hulle 'n identiteit te gee nie. Hulle moes hul uniekheid aan iets anders koppel en het besondere klem begin lê op die Wet en die besnydenis. Die ballingskapse Jodedom het in die naballingskapstyd al hoe meer in die rigting van 'n eksklusiewe nasionalisme beweeg. God is sonder twyfel aan hulle kant en êrens in die toekoms sal die heilsprofesieë ten gunste van Israel nog uitkom, terwyl onheil die ander nasies gaan tref. Hulle leef net ongelukkig nou nog in 'n tyd wat die vloek nie heeltemal opgehef is nie. Dit is waarskynlik aan mense wat só geglo het dat die Jonaboek gerig is.

Wie is die "held" van Jona?

Ons kan vra waarom spesifiek die profeet Jona, die seun van Amittai, die hoofkarakter van die boek is en waarom Nineve die toneel van die verhaal is. Daar was eeue voor die tyd van die skrywer werklik 'n profeet met hierdie naam. Dit was in die tyd van koning Jerobeam II van Israel (2 Konings 14:25). Hierdie Jona het vir Jerobeam voorspel dat hy die grondgebied van Israel sou herower.

Die keuse van hierdie profeet as hoofkarakter was om verskeie redes baie effektief. Eerstens het daardie Jona dit voorspel waarop die skrywer se gehoor in die hede gehoop het: die herowering van verlore grondgebied. Tweedens het daar 'n goeie paar honderd jaar verbygegaan waartydens die Noordryk van Jerobeam en sy opvolgers tot niet gegaan het in plaas daarvan dat hulle veilig in herowerde gebiede gewoon het. Die blote afwesigheid van die Noordryk in die tyd van die skrywer ondersteun die boodskap van die Jonaboek. Eksklusivisme bring 'n mens nie ver nie. Ons moet anders oor God en onsself dink.

Jona en Nineve

En waarom Nineve? Teen die tyd dat die verhaal vertel is, was die stad Nineve ook nie meer wat dit in die tyd van Jona, seun van Amittai, en kort daarna was nie. Maar die verhale wat die Israeliete oor dié stad vertel het en die emosie wat daarmee gepaardgegaan het, sou nog eeue lank in die harte van die Israeliete voortleef. Hulle het gevoel Nineve is die duiwel self! En dit is te verstane, want Assirië het die Noordryk (Israel) gewelddadig tot niet gemaak en die mense van die Suidryk het net-net ontkom. Soos Jesus eeue later in 'n gelykenis 'n gehate Samaritaan sou gebruik om aan 'n selfvoldane Jood goed te doen, so word Nineve hier teen Jona ingespan.

Die boodskap van Jona

Die Jonaboek vereis dat ons diepgaande selfondersoek doen. Ons verval so maklik in 'n selfvoldane, eng geloof. Alle teenspoed en ervarings wat dit ongemaklik maak om só te bly glo, word dan geïnterpreteer as 'n blote toets van hoe sterk ons geloof is en of ons by ons beginsels kan staan. In krisistye is God egter dalk eerder besig om ons beginsels te bevraagteken as om ons uithouvermoë te toets. Die Jona van hierdie boek praat tot kort voor die einde van die verhaal in katkisasietaal - die steierwerk van sy beginsels. Eers wanneer dinge aan die einde van die verhaal breekpunt bereik, kom die kaalgestroopte Jona, die een sonder geykte frases, na vore. Maar kon hy hom uiteindelik vereenselwig met die vreemde maniere waarop God se genade werk? 'n Mens bly wonder. 'n Mens bly egter moeilik onaangeraak deur die verhaal.

OPBOU VAN DIE BOEK
Jona bestaan uit twee hoofdele wat in ewewig is. Die boek kan breedweg só ingedeel word:

I Jona 1:1-2:10 Die redding van Jona
1. 1:1-3 Jona wil nie Nineve toe gaan nie
2. 1:4-16 Jona, anders as die heidene, swyg en beur weg van die Here
3. 1:17-2:10 Jona se laagtepunt

II Jona 3:1-4:11 Die redding van Nineve
1. 3:1-4 Jona gaan uiteindelik Nineve toe
2. 3:4-4:5 Die bekering van die Nineviete
3. 4:6-11 God se genade en Jona se woede

Willie van Heerden

No comments: