2007-03-15

Die betekenis en boodskap van Openbaring

INLEIDING

Op 'n Sondag so plus minus negentig jaar na Christus sit 'n leier van 'n klompie Christene in Klein Asië (in vandag se Turkye) op die eiland Patmos waarheen hy verban is weens sy geloof. Dit word 'n besondere Sondag want die Gees voer hom saam op 'n hemelreis waarvandaan hy vir sy mense 'n boodskap van verblyding en bevryding bring.

Nog merkwaardiger is dat ons twee duisend jaar later nog steeds hierdie boodskap kan hoor. Om dit goed te hoor moet ons self 'n reis onderneem na die wêreld van Johannes en sy mense.

DIE MENSE EN HUL WÊRELD

Johannes se gehoor was mense wat in die eeuwending tussen die eerste en tweede eeu geleef het. In hoofstukke 2 en 3 word sewe gemeentes genoem aan wie die boek gerig is. Hierdie gemeentes het werklik bestaan en die stede waar hulle geleë was kan vandag nog besoek word. In elke dekreet wat aan 'n gemeente gerig is, kan mens aspekte van daardie gemeente raaklees wat ons histories, sosiologies en geografies kan bestudeer om die boek te verstaan.

Hul omgewing het 'n groot rol gespeel in die manier waarop hulle hul wêreld verstaan het. Klein Asië was onder beheer van die Romeine in die tyd toe Openbaring geskryf is. Die kultuur van die mense was Grieks want voor die Romeine het die Grieke die gebied beheer en die Romeine het groot bewondering vir die Griekse kultuur gehad. Daar sou baie Jode in die gemeentes gewees het, want in daardie tyd was die meeste Christene van Joodse afkoms. Die invloed van die Griekse kultuur en die Joodse godsdiens was baie groot in die gemeentes waarvoor Johannes geskryf het.

Tyd

'n Baie belangrike aspek van hul wêreldbeeld was hul tydsbeskouing. Ons beskou tyd as voortgaande van nou af tot in die toekoms. Hulle het tyd verstaan as 'n sirkelgang waarin dit wat nou gebeur deel van 'n proses is wat herhaal word. Ons wil in onseker tye weet wat in die toekoms gaan gebeur. Hulle wou weet wat in die verlede gebeur het, sodat hulle hul kon plaas in dit wat nou gebeur. As ons Openbaring dus lees met die oog op die verre toekoms verstaan ons nie wat die skrywer vir sy mense wou sê nie. Hulle was nie bekommerd oor die toekoms nie, maar oor hulle hede. Die verwysings in Openbaring wat deur baie vandag gesien word as dat dit oor die verre toekoms sou gaan, het vir hulle gegaan oor dit wat in hul tyd aan die gebeur is. Hieruit kan ons ook verstaan dat Johannes nie die tyd waarin ons leef in gedagte gehad het toe hy geskryf het nie.

Heelal

Die mense van Openbaring het ook anders na die skepping gekyk. Hulle het geglo dat die aarde rond is, maar dat dit 'n dop om gehad het waaragter die hemel was. Tussen die aarde en die hemel was die lug wat vir hulle 'n vloeistof was. Soos die waterdiere aangepas is om in die water te leef, het hulle geglo dat daar wesens was wat aangepas is om in die onsigbare vloeistof van die lug te leef. Hierdie wesens was onsigbaar net soos die lug en is die geeste genoem. Omdat hulle nie die geeste kon sien nie, het hulle uitgelewer gevoel aan hierdie wesens en baie dinge wat hulle nie kon verklaar nie, is aan geeste toegeskryf.

Die hemel was anderkant die lug en dit was die woonplek van die gode. Die hemelliggame was vir hulle nie stukke rots of bolle gas nie, maar lewende wesens. Die konstellasies was die figure van gode en magtige dienaars van die gode wat oor die mense invloed uitgeoefen het. Hulle het geglo dat niks op aarde gebeur wat nie in die hemel sy oorsprong het nie.

Elke koning of belangrike mens van daardie tyd het dus mense gehad wat vir hulle die stand van die hemelliggame geïnterpreteer het. Hiervolgens het hulle probeer bepaal waarmee die gode besig is sodat hulle kon weet hoe hulle moes optree en hoe hulle die gode kon manipuleer om te doen wat hulle wou hê.

In hierdie begeesde en begode wêreld skryf Johannes vir sy mense. Dit wat net vir magtiges beskore was, om te weet wat in die wêreld van die gode aan die gang is, word nou vir gewone mense, Christene, gegee. Johannes herinterpreteer die wêreldbeeld van sy lesers om hulle te laat besef dat daar net een God is, en dat hierdie God in beheer is van sy skepping. Meer nog, hierdie God het hulle lief en hy versorg en beskerm hulle in 'n gevaarlike vyandige wêreld.

WAT SIEN HY?

As Johannes beskryf wat hy sien, word ons oorweldig deur die vreemdheid daarvan. Dit wat hy beskryf was egter in sy wêreld nie so vreemd nie.

Getalle

Die boek is vol van getalle wat ons logika nie kan verklaar nie, maar wat vir Johannes se eerste hoorders totaal verstaanbaar was. Die meeste getalle in die boek is gevorm uit kombinasies van vier, drie, sewe, twaalf en tien. Vier was die getal van die windrigtings en het die totaliteit beskryf in geografiese terme. Drie was die magiese getal. Sewe is die volmaakte getal wat altyd vir God voorstel. Twaalf is die getal vir die volk van God. Tien was die volkome getal (mens het mos tien vingers om op te tel).

Dit beteken dat 'n getal soos honderd vier en veertig duisend nie letterlik verstaan kan word nie. Die getal is as volg saamgestel: 12x12x10x10x10 dit beteken dat dit oor God se volk gaan (12) oor volkomenheid (10) en oor die magiese drie. As ons dan in hoofstuk 7 en 14 lees van die honderd vier en veertig duisend, weet ons dat hier van God se mense gepraat word. Die herhaling is 'n Hebreeuse manier om die vergrotende trap aan te dui. Hulle het nie gesê iets is groter nie, maar iets is groot, groot. Die 12x12 dui dus op baie van God se mense. As dit dan nog drie maal met tien vermenigvuldig word beteken dit op die ou end al God se mense. Niemand hoef bekommerd te wees dat God van hom of haar sal vergeet nie. Honderd vier en veertig duisend kan dus miljoene der miljoene mense wees.

Daar is ook verder die enigmatiese 666. Wat beteken die getal? In hoofstuk 13 lees ons dat die getal vir 'n naam staan. Dit was destyds mode om name in getalle voor te stel. Verder was wiskunde en godsdiens baie nou verweef en ons weet dat die ontwikkeling in die wiskunde deur godsdienstige behoeftes gedryf is. Tempels moes uitgemeet en reg geleë wees en die stand en beweging van die hemelliggame moes bepaal word. Dit het gevra na gesofistikeerde wiskundige berekeninge.

Met dit in ag geneem weet ons reeds 'n paar dinge van 666. Openbaring 13:18 sê vir ons dat 666 'n persoon aandui. Met destyds se wiskunde kan ons weet dat 666 'n driehoeksgetal is. Driehoeksgetalle was belangrike getalle omdat die driehoek 'n belangrike figuur was. Driedimensionele driehoeke (piramides)was belangrike godsdienstige strukture. Mense het geglo dat driehoeke (deltas) magiese krag het. Piramides het die gode na die aarde toe aangetrek en dit vir mense moontlik gemaak om van die aarde af na die hemel te beweeg. Piramides het ook met hul spitse na die konstellasie van die driehoek (delta) in die hemel gereik. Die konstellasie lê met sy punt na onder net bo die sterreteken van die Ram en wys met sy punt na die Ram. Ons sal later sien hoe belangrik hierdie konstellasie in Openbaring is. Só werk die basis van 'n piramide, van bo af gesien, op 666 uit:

1+5+13+24+32+36=111
Som van die lengtelyn
1+2+4+7+11+16=41 1 1+3+6+10+15+21=56
Som van die sykant 2 3 Som van die sykant
4 5 6
7 8 9 10
11 12 13 14 15
16 17 18 19 20 21
22 23 24 25 26
27 28 29 30
31 32 33
Som van die sykant 34 35 Som van die sykant
16+22+27+31+34+36=166 36 21+26+30+33+35+36=181
Som van die diagonaal
16+17+18+19+20+21=111
Die som van die vier sykante, die lengtelyn en die diagonaal is: 41+56+181+166+111+111=666


1 = 1
2 3 = 6
4 5 6 = 21
7 8 9 10 = 55
11 12 13 14 15 =120
16 17 18 19 20 21 = 231
22 23 24 25 26 27 28 = 406
29 30 31 32 33 34 35 36 = 666

Delta (driehoek) het 'n besondere hemelfiguur aangedui. Delta is ook die Griekse letter D. Hierdie letter is gebruik om die hoofgod van die Grieke, Zeus, aan te dui. Die driehoeksgetal 666 was die getal van Zeus. As iemand dus 666 as merk gedra het, beteken dit dat die persoon aan Zeus behoort. Johannes plaas dus die afgodsdienaars teenoor die aanbidders van die ware God.

Die getalle: 1260 dae (11:3), 42 maande (13:5) en 3 1/2 jaar (12:14 in die Grieks) dui dieselfde tydperk aan. Hierdie tyd is altyd gekoppel aan die lyding van die gelowiges. Die getalle gee mens die helfte van 7 jaar wat beteken dat die lyding van die gelowiges nie God se wil is nie. Hierdie tydperk dui ook op die beperktheid van die lyding van gelowiges. Die beperking gaan nie net oor tyd nie, maar ook oor omvang. Die tydperk het 'n groot rol in die Vroeë-Christelike denke gespeel. Die 3 jaar wat die droogte op aandrang van Elia geduur het in 1Konings 18:1 word in Lukas 4:25 verander na 3 1/2 jaar.

In hoofstuk 20 lees ons oor die duisend jaar wat die draak vasgebind is. Eerstens kan ons weet dat die getal simbolies is. Duisend is 10x10x10 die waarde hiervan is die volle tyd. Wat is die volle tyd waarvan hier gepraat word? Die volle tyd is die volle tyd tussen die eerste en tweede koms van Jesus.

Seëls trompette en bakke

Ons lees in hoofstuk 5 en 6 van die sewe seëls. Uit die sewende seël vloei die drie wee uitroepe (hoofstuk 9-11). Die eerste en tweede wee uitsprake word deur sewe trompette na vore gebring. Hoofstuk 15 en 16 vertel ons van sewe bakke van God se toorn wat op die aarde uitgegooi word.

Die verskynsel van seëls trompette en bakke was nie vreemd in Johannes se wêreld nie. Die mense van sy tyd het komete na gelang van die vorm van hul sterte geklassifiseer as seëls trompette of bakke. Komete het nooit iets goeds voorspel nie, en wanner daar een verskyn het, was die hele wêreld in rep en roer.

As Johannes hierdie verskynsels in sy boek gebruik, is dit om sy lesers te oortuig dat hulle nie uitgelewer is aan hulle nie. Ten spyte daarvan dat hulle uitgelewer voel aan hierdie skynbaar onvoorspelbare verskynsels, hoef hulle nie bang te wees nie, want God is in beheer en hy sorg vir hulle.

Die troon in die hemel

In hoofstuk 4 maak ons kennis met die troon in die hemel. Johannes beskryf die een wat op die troon sit se kleur as opaal en karneool. Hierdie gesteentes het 'n geel kleur. Ons weet dat die poolster in die noordelike hemelruim met 'n geel skynsel skyn. In Johannes se tyd is die poolster as 'n lewende wese beskou. Johannes verander dit in die troon van God. As mense nou opkyk kan hulle God se troon raaksien in plaas van 'n afgod.

'n Altaar

In 6:9 sien Johannes 'n altaar in die hemel. In die noordelike halfrond aan die suidekant van die hemelruim is die altaarkonstellasie te sien. Volgens legende is die altaar deur Jupiter gebou toe die reuse in opstand gekom het teen die gode. Hier kon die gode offer aan groter gode om hulp te verkry teen die reuse! Onder die altaar vleg die melkweg verby met sy miljoene sterre. Johannes laat sy hoorders na die melkweg kyk en laat hulle so sien waar die mense is wat gesterf het ter wille van die evangelie, nie in die doderyk nie, maar in die hemel.

Sionsberg

Sion is die ander naam vir Jerusalem. Sommige Jode het 'n eeuelange verwagting gehad dat die Dag van die Here sal kom. Op hierdie dag sal God Israel herstel, die tempel sal weer opgerig word en die verbondsark weer op sy plek in die allerheiligste geplaas word. Jerusalem sal dan die hoofstad van God se ryk op aarde word. Die Jode sal die voortou neem en almal sal erken dat God hulle God is en na Jersalem stroom om God te aanbid. Johannes sluit by hierdie Joodse verwagting aan. Hy wil egter iets anders sê, hy draai die verwagting om: God is nie in Sion nie, maar Sion is waar God is. Ook die sewe gemeentes moet weet waar hulle is, daar is Sion, want God is by hulle.

Die grote Babilon

In 14:8 sê Johannes die grote Babilon het geval. Babilon is Grieks vir die Babel van die Ou Testament. In Johannes se tyd was die stad al lank verwoes. In die Ou Testament was Babilon teken van mense wat in opstand teen God is. Hulle, word vertel, het die hoë toring probeer bou om naam te maak. Koning Nebukadnesar wat die Jode weggevoer het, en gruwelike dinge met hulle aangevang het, kom van Babel af. Van toe af het God se volk Babel met die vyand en met swaarkry geassosieer. Net soos Sion stel Babilon op die ou end mense voor. Soos 'n stad nie net geboue en paaie is nie, maar die mense wat daarin woon, so is Babilon verteenwoordigend van die mense wat teen God kies. Oral waar dit gebeur is die grote Babilon. Gelowiges kan egter weet dat Babilon reeds tot 'n val gekom het en dat die wat teen God kies ook nie sal bly staan nie.

Vreemde wesens

Die boek wemel van die vreemdste van vreemde wesens wat nogal goed sou pas in vandag se wetenskapsfiksie. Vir Johannes en sy mense was dit egter deel van hul leefwêreld. Ons gaan nou na hierdie figure van naderby kyk.

Vier en twintig ouderlinge

Johannes beskryf in hoofstuk vier hoe hy vier en twintig ouderlinge op trone reg rondom die troon sien sit. Rondom die poolster is daar vier en twintig sterre wat die mense van destyds gesien het as die vier en twintig dekanse wat elk oor een uur van die dag en oor vyftien en 'n half grade van die aardoppervlak heers. Mense het uitgelewer gevoel as hulle opkyk na die hemel want hierdie dekanse het beheer gehad oor wat met hulle gebeur. Johannes sê egter dat hulle van die poolster (die troon van God) die opdrag kry om te heers. As hulle onder bevel van God staan sal hulle mos nie vyandig teenoor God se mense wees nie.

Sewe geeste

Die sewe sê al klaar vir ons dat ons hier met God te doen het. Ons weet hoe die mense oor die lug en die geeste gedink het. Hier beteken die sewe geeste dus God se Gees wat daar waar mense nie kan sien nie, doen wat God wil hê.

Vier lewende wesens

Hoofstuk 4:6-7 beskryf vier lewende wesens naby die troon wat elkeen oordek is met oë. As Johannes die vier lewende wesens beskryf verstaan sy hoorders dadelik waarvan hy praat. Die konstellasie van die skerpioen was bokant die poolster sigbaar in die Griekse mitologie is dit altyd met die bolyf van 'n mens voorgestel. Links van die poolster die konstellasie van die arend (pegassus vir die Romeine); regs die konstellasie van die leeu en onder die konstellasie van die bul. Die oë waarmee hul oordek is, is die menigte sterre binne hierdie konstellasies. Gelowiges weet nou dat ook die groot konstellasies onder God se gesag staan en Hom eer.

Vier perde

As die eerste vier seëls oopgemaak word in hoofstuk 6, kom daar vier ruiters op perde na vore op bevel van elk van die vier lewende wesens. Die beskrywing van die perde plaas hulle by elk van die lewende wesens. Helderwit is die kleur van Jupiter die hoofster in die konstellasie van die leeu. In die konstellasie is ook 'n kleiner konstellasie wat die boog genoem is. Dit pas duidelik by die gesig van die ruiter ment die boog. Die tweede ruiter kom uit die sterreteken van die bul waar die hoofster mars was wat 'n rooi kleur het. Die swaard in sy hand is ook 'n kleiner konstellasie in die bul wat die swaard genoem is. Die swart perd kom uit die konstellasie van die skerpioen wat se hoofster swart is, en wat ons ken as Mercurius. In die konstellasie van die skerpioen is ook die kleiner konstellasie wat die skaal genoem is. Die vaal perd kom uit die konstellasie van die arend die vaalwit ster in die konstellasie is Venus. Venus word hier gesien as die aandster in die weste, wat gesien is as die rigting van die dood.

Die Lam

In 5:6 sien ons een van die belangrikste tekens in die hemel. Uit die agtergrond van die Christendom weet ons van wie Johannes hier praat. Dit kan tog net Jesus wees! In die wêreld van die sterretekens waarin Johannes se mense hulle ook bevind, ken hulle nog 'n lam. Dit is die sterreteken van die ram vir Grieke en Romeine, of die lam vir Arameërs en die Semitiese nasies. Die figuur van die ram/lam is altyd geteken met sy kop wat na agter kyk soos 'n geslagte lam waarvan die nek gebreek is. Daar is ook geglo dat die ram \lam die belangrikste sterreteken is, want hy was met die skepping reeds daar.

Ons weet dat die lam ook 'n belangrike teken vir die Jode was. Die paaslam het vir hulle besondere betekenis gehad en in sommige Joodse groepe is die paaslam ook aan die teken van die ram gekoppel. Uit die Judese godsdiens het die Christene ook die kruisiging van Jesus wat op die Paasfees gebeur het verstaan as die nuwe paaslam wat geslag is. Hierby sluit Johannes aan as hy in sy parallelle wêreld die hemelse paaslam moet uitwys. Hy wil sy mense laat sien dat Jesus in die hemel raak te sien is. Die sewe horings en sewe oë dui weer op God. Horings is tekens van krag, in hierdie geval God se krag. Johannes beskryf
die oë as God se Gees.

Die swanger vrou en die draak

Die vrou wat Johannes sien was in die Griekse wêreld die groot konstellasie Virgo of Maagd. Destyds is geglo dat wanneer 'n konstellasie sy hoogtepunt in die hemelruim bereik het, die sterreteken beheer het oor wat op aarde gebeur. As 12:1b sê die vrou het die son as kleed om haar, word daarmee bedoel dat die konstellasie sy hoogtepunt bereik het. Die maagd se kind is op die punt om gebore te word. Die mitologie het ook verhale waar 'n maagd 'n kind in die wêreld bring en 'n draak dit wil doodmaak. Isis bring Horus in die wêreld en die draak Python jaag hulle. Leto bring Apollo in die wêreld en hulle word gejaag deur Typhon.

Die draak word ook beskryf as 'n teken wat in die hemel verskyn. In die griekse wêreld was die draak met die sewe koppe en tien horings, die konstellasie Ou-Skorpio. Ou-Skorpio het in die hemelruim net onder Virgo gelê. Die draak is rooi want die sterre in die suidelike deel van die noordelike halfrond het 'n rooi skynsel. In ongeveer 237 vC het Griekse astroloë Ou-Skorpio verdeel in die konstellasies Skorpio en Libra. In die tyd waarin Johannes skryf is dit nog bekend dat daar so 'n konstellasie was. Die stert van Ou-Skorpio het oorgeloop in 'n konstellasie bekend as die slang. Hierdie stert het 'n derde van die sterre saamgesleep en hulle op die aarde gegooi (12:4a). Aan die punt van die stert is 'n donker kol in die hemelruim wat in daardie tyd abussos genoem is. Die mense het geglo dat dit die uiteinde van 'n groot geveg in die hemel was, en dat die verloorders op die aarde gegooi is in 'n hewige sterrereën. Ou-Skorpio is om hierdie rede met duisternis geassosieer.

Die dier uit die see

Die dier wat Johannes in 13:1a sien is ook in die hemel. Johannes is nog steeds op sy hemelreis as hy hierdie diere sien. Die dier uit die see is die sterrekonstellasie Cetus wat in die Noordelike Halfrond in die suide van die hemel oor die see lê. Die mense het die konstellasie die seemonster genoem. Hulle het gesê dat hy die chaos verpersoonlik Hy was ook saam met Jupiter een van die gode wat in opstand gekom het teen die groter gode en hulle oorwin het. Vir die Babiloniërs was Cetus Tiamat die god van chaos. Elke keer as daar natuur rampe was het die mense gesê dat Tiamat die oorwinning behaal het.

Die dier uit die aarde

In 13: 11 lees ons van die dier uit die aarde. Hierdie konstellasie is deur die Grieke die Dier genoem en deur die Romeine Lupus, die Wolf. Dit het in die suidelike deel van die Noordelike Halfrond gelê.

Die vrou op die dier

Openbaring 17:1 vertel ons van die vrou op die helder rooi dier se rug. Hier het ons weer met Cetus te doen wat die mense as 'n dier op die horison van die see gesien het. Bo op die konstellasie Cetus sien Johannes vir Venus. Met sonsondergang het Venus 'n helderrooi skynsel en as die planeet bokant die horison verskyn, kan dit lyk asof dit bo-op Cetus sit. Johannes beskryf haar hier as 'n heerser wat fyn uitgevat is en aan niks kortkom nie. Die "onreinheid van haar onsedelikheid" is terme wat gebruik word om afval van God te beskryf. Venus se aardse parallel word deur Johannes verduidelik, sy verteenwoordig Babilon(20:5).

HOE IS IN DAARDIE WÊRELD GESKRYF?

Johannes het die opdrag ontvang om alles wat hy op sy hemelreis gesien het neer te skryf. Vir ons is skryf 'n vanselfsprekende aksie en lees natuurlik net so maklik. In Johannes se tyd was daar maar net sowat 5% van die mense wat kon lees en net 0,05% kon werklik skryf. Skryf was 'n ambag want die skrywer moes nie net die letters kon vorm nie, maar ook self die skryfmateriaal maak. Om dus 'n boek soos Openbaring op skrif te stel sou 'n baie duur en langsame proses gewees het.

Johannes sou dit wat hy beleef het dus later aan 'n skrywer oorgedra het wat sy belewenis neergeskryf het. Ons kan sien dat dit wat hy laat skryf het, georden was en op 'n besondere manier aanmekaar geweef is. Hy gebruik die Ou Testament en sluit aan by Judese godsdienstige verwagtings. Hy omvorm egter hierdie verwagtings en ook die Helenistiese wêreldbeeld van sy hoorders. Dit is duidelik dat Johannes die sikliese tydsbeskouing van sy tyd gehad het. Sy indeling van die boek weerspieël hierdie tydsbeskouing. Hy beskryf een tydperk in sy boek: die tyd tussen die eerste koms van Jesus na die aarde toe, en sy wederkoms.

WAT SKRYF HY?

Die boek self sê in hoofstuk 1:19 dat die skrywer in gehoorsaamheid aan God skryf wat hy gesien het. Dit is dus nie in die eerste plek sy boodskap nie, maar 'n boodskap wat hy ontvang het. Hoe het hy die boodskap ontvang? Johannes vertel hoe hy op 'n hemelreis gaan. Hy beskryf hoe die Gees hom wegvoer na die hemel toe en hoe hy by 'n deur in die hemel ingaan. As iemand met 'n Westerse wêreldbeeld hom sou sien terwyl hy op die hemelreis was, sou ons gesê het dat hy in 'n alternatiewe staat van bewussyn was. Sy tydgenote sou geweet het dat dit om meer gaan as net 'n beswyming. Hulle sou deur sy woorde in hoofstuk 1:10 "deur die Gees meegevoer" verstaan het dat sy liggaam op Patmos was terwyl hy in die hemel gesien het wat gebeur. Hierdie verskynsel van alternatiewe state van bewussyn was eie aan alle godsdiens van die tyd - ook aan die Joodse godsdiens. Wat hy op sy hemelreis sien en hoor, beskryf hy. As hy dit beskryf, doen hy dit soos 'n mens van sy tyd vir mense van sy tyd..

Vir die mense van Johannes se tyd was dit dus nie vreemd dat 'n mens 'n hemelreis kon onderneem nie. Wat Johannes op hierdie reis sien, was ook nie vir hulle vreemd nie. Sy verklaring van wat hy sien was egter vir hulle verblydende bevrydende goeie nuus. Hy wil sy mense laat sien dat hulle nie uitgelewer is nie. Hulle moes verstaan dat daar in die hemel iets gebeur het toe Jesus op die aarde was. Na Jesus hoef hulle nie meer te voel of hulle uitgelewer is nie. Jesus het in die hemel die oorwinning behaal en daardie oorwinning geld nou op die aarde.

Om in ons tyd weer hierdie blydskap en bevryding te ervaar, sal ons die ongemaklikheid wat ons as mense van die een en twintigste eeu met Johannes se wêreldbeeld het, moet verwerk. Ons sal moet waak teen die neiging om te dink dat hy ons in gedagte gehad het toe hy geskryf het en sodoende sy wêreld ons s'n maak.

Hy begin deur sy hemelreis te beskryf (hoofstuk 1). Dan beskryf hy die boodskap van Jesus aan sy sewe gemeentes (hoofstukke 2 en 3). Hierdie beskrywing is nie maar net 'n aanloop voor die gesig begin nie, dit is deel van die gesig. Hy praat oor die hede van die gemeentes om vir hulle te wys waar hulle hul in die siklus van die tyd bevind. Elke gemeente is nie in dieselfde posisie nie, daarom verskil die boodskap aan elk van hulle. Dit wat in hoofstuk 4 en verder volg het met die mense in die gemeentes te doen.

In hoofstuk 4 beskryf hy hoe die hemel elke dag lyk. In hoofstuk 5 word daar beskryf hoe Jesus die een is wat die boekrol met die sewe seëls mag oopmaak. Tot in hoofstuk 8 sien ons dan hoe die sewe seëls oopgemaak word en 'n so 'n blik gee van wat aan die gebeur is in die hemel en wat die uitwerking daarvan is op die aarde.

As die sewende seël oopgemaak word, tree sewe engele met hul trompette na vore. As hulle op hul trompette blaas in hoofstuk 8 en 9, word die eerste 6 trompette geblaas. Hier sien ons weer uit 'n ander hoek hoe dit wat in die hemel gebeur 'n uitwerking op die aarde het. Die eerste vier trompette vertel hoe gelowiges en ongelowiges blootgestel is aan dit wat in die natuur gebeur. Hulle beleef egter hierdie gebeure verskillend. Die vyfde en sesde trompet fokus op die belewing van ongelowiges (9:4).

Openbaring 10 sê uit 'n hemelse hoek wat al in hoofstuk 1 gesê is. Die sewe donderslae is God wat hier praat met die sterk engel waarvan ons al in hoofstuk 5:2 gelees het. Johannes kan nie dadelik neerskryf wat hy hier hoor nie, maar in vers 11 kom dit op die lappe, hoofstuk 11 vertel dan die wonderlike waarhheid van die misterie, God se mense wat vir Hom eenkant gesit is, is sy Koninkryk en hulle sal nooit vergaan nie. In die laaste deel van hoofstuk 11 kry ons 'n afsluiting wat bevestig dat God ook oor die aarde heers en dat sy volgelinge priesters vir Hom op aarde is.

In hoofstuk 12 is daar weer 'n beskrywing van die tyd tussen Jesus se koms na die aarde toe en sy wederkoms. Dit beskryf hoe God se Koninkryk nie deur die bose oorweldig kan word nie. Die taal wat Johannes praat is die taal van sterrewiggelary en mitologie. As hy egter klaar gepraat het, is sterrewiggelary en mitologie onmoontlik. Hoofstuk 13 beskryf die mitologiese draak van hoofstuk 12 wat sy mag aan die mitologiese diere uit die see en die land gee. Hulle doen alles wat hulle kan om die gelowiges te vervolg. Hoofstuk 14 verskuif die fokus van die diere af na die gelowiges toe. Hy herinner gelowiges wat hier swaarkry, wie hulle voor God is. Hoofstuk 14 beskryf nie die hemel eendag nie, maar ons verhouding met God hier en nou. Die nuwe Sion is oral op aarde waar gelowiges God eer en dien. Hoofstuk 14:6-13 gee aan gelowiges wat na hoofstuk 13 kon dink dat die wat teen God is, die oorhand het, die ware toedrag van sake. Om in God te glo is die moeite werd. Al kry ons hier en nou swaar, hoef ons nie oor die uiteinde te bekommer te wees nie. In 14:14-20 word God se oordeel as beskerming van sy eer beskryf. Hoofstuk 15 beskryf hoe Johannes in die hemel 'n wonderbaarlike gesig sien. Hy beleef die heerlikheid van God.

Hoofstuk 16 is 'n beskrywing van God se toorn as die bakke oor die aarde uitgegooi word. Hierdie bakke raak net die ongelowiges (16:2). Die sesde bak fokus op die kruisiging van Jesus dit word egter so beskryf dat wat mense op die aarde as die kruis beleef het, in die hemel 'n oorlog tussen God en die bose is. As die 7de bak uitgegooi word kan God die woorde van die kruis uitroep, "dit is verby!" Die 7de bak fokus op die mense wat kies om God te laster. So word die kruis teken van skeiding tussen mense wat God dien en eer en die wat Hom laster.

Hoofstuk 17 is die anderkant van hoofstuk 12. Waar dit in hoofstuk 12 gegaan het oor Sion en sionsmense gaan hoofstuk 17 oor Babilon en babelmense. Die bordjies word nou verhang. Die vrou in hoofstuk 12 het swaar, maar bly op die ou end behoue omdat die mense haar versorg , die vrou van Babel lyk of sy die oorhand het, maar haar eie mense vernietig haar.
Hoofstuk 17 het die val van die hemelse Babilon beskryf, hoofstuk 18 beskryf die uitwerking daarvan op die aarde, die val van die aardse Babilon. Teen die tyd wat Johannes skryf het Babilon al lankal geval, niemand het dit weer opgerig nie. Daarom word dit nou meer as net 'n stad wat vernietig is, maar 'n beeld van die mense wat 'n Babel gesindheid het wat vernietiging beleef.

Hoofstuk 19 kontrasteer met 17 en 18. Waar dit daar gegaan het oor die lot van mense wat teen God kies, gaan dit hier oor die bruilof van die Lam wat gelowiges wys op die besondere posisie wat hulle by God het. In 19:11-21 word daar weer 'n oorlogsbeeld gebruik maar weer maak God nie oorlog nie, Hy behaal die oorwinning deur sy woord.

Die draak van hoofstuk 12 tree in hoofstuk 20 weer op die voorgrond. Hy vernietig egter nie die gelowiges nie, maar trek sy eie volgelinge saam met hom in die vuurpoel in. Gelowiges hoor in hoofstuk 21 dat gelowiges nou en eendag die hemel beleef. Nou beleef ons stukkies hemel, eendag sal dit altyd-hemel wees. Die hemelse stad wat beskryf word is nou reeds in wording.

Hoofstuk 22 gaan haal die paradys in Genesis en bring dit tot by elkeen wat Openbaring nou lees. Die boek eindig met die bevestiging dat Jesus in die wêreld aan die kom is deur elkeen in wie Hy woon.

Kobus Myburgh

No comments: